Spirituele sinkretisme

  • 18

Sinkretisme is nie ’n hedendaagse verskynsel nie. Die hedendaagse verskynsels daarvan behels die vermenging van verskillende wêreldreligieë in ’n religieuse heksepot waar die resultaat omtrent so nadelig en giftig is as die mitologiese heksebrousel. Toentertyd was dit ook maar so – die verskillende religieë het maar net op die oppervlak anders gelyk as die van vandag, met die gebruike wat intussen meer ‘gesofistikeerd’ geraak het. Dit is die rede waarom daar reeds sedert na die Noagiaanse era verskillende afvallige religieë ontstaan het, almal met ’n gemeenskaplike substraat waardeur hulle ware Goddelike hoedanighede aan hulle sinkretistiese nie-gode of afgode toeken. Die voorsate van daardie volke was algar gelowiges want hulle het van Noag afgestam, maar soos hulle versprei het oor die aardbodem, so het hulle ook allerlei vreemde en Godsvreemde gebruike en praktyke as religieuse gereedskap aangewend om aan hulle onderskeie menslike behoeftes te voldoen. Vandag nog, is dit maar presies dieselfde, die metodes verskil net so effens van dié van toentertyd. Sinkretisme is wel ook een van die grondoorsake van die verval en uiteindelike verstrooiing van God se volk (Josua 23:7; Jeremia 19:13-15; Sefanja 1:4-9) – wat veronderstel is om alle mense in te sluit omdat die HERE dit só wil hê (Esegiël 18:23, 32; Johannes 3:17; 1 Timoteus 2:3-4; 4:10; Titus 2:11; 2 Petrus 3:9). Dit is in die tye waarin ons leef, weer die geval.

Omdat die sinkretisme die skyn van goeie Godsdiens probeer handhaaf maar in die besonderhede daarvan gevaarlike afvalligheid van die ware God bewerkstellig, is dit steeds een van die gevaarlikste religieuse fenomene. Die probleem met ’n sinkretistiese stelsel is dat die dwaalleringe en gevare daarvan eers duidelik sigbaar word wanneer daar onder die blink fineerlagie daarvan ondersoek word en min mense is toegewys genoeg om dit te wil doen. Die sinkretisme doen lippediens aan die Godheid, maar as mens na die resep van die sinkretistiese poespas kyk, sien mens dat die essensie daarvan niks te doen het met wat die Godheid van die mens verlang nie en dat die ‘godheid’ wat deur die sinkretisme geskep word, ’n versinsel is wat in geen religie tuishoort nie. Hierdie fenomeen is veral gevestig en sigbaar by die gebruike van die historiese en selfs moderne vrymesselary wat ‘geloof’ in ’n ‘opperwese’ vereis, hoe dié nou ook al daar uitsien en is hul historiese naam vir só ’n gruwel, ‘jahbulon’ (veral die Royal Arch vrymesselary). Hierdie naam is tipies ’n groepnaam vir wat beskou word as verteenwoordigend van die Heilige Naam van God, naamlik JAHVEH, die okkultiese afgod ‘baal’ en dan die Egiptiese afgod ‘osiris’ wat ook as ‘on’ bekend was.

Vandag se sinkretiste is ietwat minder gesofistikeerd of dalk meer geslepe en sal dié saamgeflanste versinde onding enige bekende naam gee van een van die wêreldreligieë se afgode of selfs die Naam van die HERE van die ware Godsdiens, die Christendom. Cornelius Henn se ‘jesus’ is ’n tipiese voorbeeld daarvan. Hierdie gebruik is waarskynlik die vrug van ’n geslepe hart met ’n baie onsuiwer motivering waar die Godheid se Naam gebruik word om mense te mislei, want wanneer hulle die Godheid se Naam sien, is hulle tevrede en sal hulle alles wat deur die geslepe persoon aan die Naam gekoppel word, bykans as soetkoek opeet – ook daardie misleidende poespas wat tot afvalligheid van God lei.

Maar die sinkretistiese praktisyn sal dit ontken. Hulle sal vir jou sê dat alle religieë die Goddelike waarheid is wat net op verskillende maniere voorgestel word. Die bekende sinkretistiese gesegde as dat God op die kruin van die berg is, maar dat die daar baie paadjies (wat die verskillende religieë voorstel) teen die berg opgaan wat almal by God eindig. Dit is natuurlik ook ’n versinsel en ’n oorvereenvoudiging wat geen substansie het nie. Hierdie idioom van die sinkretis kan geen toets deurstaan nie, want dié ‘paadjies’ teen die berg op, vertel elkeen ’n heel ander storie van wat bo-op die sinkretistiese bergie te vinde sal wees. Dit beteken eintlik dat nie een daarvan met die ander te versoen is nie, want elke storietjie het ’n ander ‘waarheid’ wat teenstrydig is met mekaar in die essensiële besonderhede daarvan. Wanneer die sinkretiste net geleentheid gegee word om te uit te brei, kom mens baie gou agter dat hulle die aard en wese van die ‘godheid’ wat hulle aanprys self versin het en, afhangende van die geselskap waarin hul is, aanhaal uit die geskrifte wat vir die toehoorder bekend is, soos wat dikwels, wanneer daar met Christene gepraat word, uit die Bybel aangehaal word, maar geheel en al buite konteks en bloot as metode om die toehoorder te probeer mislei.

As verskillende religieë dan oënskynlik ten doel het om die Godheid te dien, waarom dan die afvalligheid? Waarom is die HERE God dan duidelik weersinnig jeens sulke sinkretisme? Die rede is eintlik baie eenvoudig en voor die hand liggend. Die HERE is die Waarheid en ook dus die Énigste Waarheid (Johannes 14:6-7). Álle ander wêreldreligieë wyk in verskillende grade af van die Waarheid wat die HERE Jesus Christus omtrent Homself openbaar en leer, naamlik dat HY en HY alléén die enigste ware Verlosser van alle mense wie Hom aanneem, is (Johannes 4:42; 17:6-10; 1 Johannes 4:14; 1 Timoteus 2:5). Die wêreldreligieë varieer van dáárdie wat geen Godsdienstige erkenning  aan die HERE Jesus Christus verleen nie (byvoorbeeld die boeddhisme and judaïsme) deur alle verskyningsvorme deur wat SY maagdelike geboorte ontken of erken, maar ontken dat HY God – die Seun van God, die geïnkarneerde Woord van God – is en dat HY, in SY hoedanigheid as Mens, die enigste ware Verlosser en Middelaar van en tussen mens en God die Vader, is (soos byvoorbeeld die islam) tot by die  baha’i wat erkenning aan die Jesus verleen as deel van ’n blote verskeidenheid van sogenaamde manifestasies van God maar nie die Verlosser nie.

Daarom kan die verkillende wêreldreligieë nie aangehang word saam met ’n ware en vaste geloof in die HERE Jesus Christus met die ware Christendom as ware Godsdiens nie. God is mos enigste ware God en wéét mos van hierdie toekomstige verraderlike fenomeen wat sou kop uitsteek en die religieuse milieu van die wêreld,  vandaar dat God al sedert die vroeë tye gewaarsku het “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste HERE” (Deuteronomium 6:4; Jesaja 44:8; 45:22; 46:9; Markus 12:29).

Die sinkretisme soek ’n middeweg en ’n gemeenskaplike grondslag om alle religieë as een saam te voeg en te versoen. Dit sou dus noodwendig behels dat ook die verskillende teenstrydige en haas onversoenbare leerstellinge omtrent die aard en wese van die HERE Jesus Christus  saamgevoeg en poog versoen te word. Maar dit is nie moontlik nie. Daar is net Één Waarheid – die HERE Jesus Christus (Johannes 14:6-7) - en dít wat dié Waarheid behels, naamlik dat die HERE God is, die Énigste ware God in Sy hoedanigheid as lewende Woord van God in die Goddelike Drie-eenheid en dat HY in SY hoedanigheid as Mens die ware Messias is en Énigste Verlosser tussen mens en God, welke verlossing op Golgota bewerkstellig is deur God deur die wederopstanding uit die dood van die Mens, Jesus Christus. Dit is dus voor die hand liggend dat die Waarheid en die leuen omtrent die Waarheid eenvoudig nié versoenbaar is nie. Enige waarheid vermeng met leuens, is leuens.

Sinkretisme is dus spirituele leuenagtigheid en misken en ontken die outoriteit van die HERE Jesus Christus en bewerkstellig afvalligheid. As sodanig is dit ’n tipiese wêreldse religieuse beweging. Die begrip ‘wêrelds’ verwys juis na afvalligheid van God (Johannes 4:1-3; 15:18-21; 17:14; 1 Johannes 3:13; 2 Johannes 7). Sommige van sulke mense sal die Naam van die HERE tipies met hulle lippe dien, maar wanneer daar ondersoek ingestel word omtrent wat hulle werklik verkondig, verkondig hulle leuens wat hulle aan Hom sou wou koppel en SY Heilige Naam daarvoor misbruik.

Kobus de Klerk 

  • 18

Kommentaar

  • Kobus, stuur asb hierdie artikel aan JUIG!-tydskrif - dalk kan jy daar publiseer? Meer christene behoort kennis hiervan te dra. Dis die regte onderwerp vir die tyd waarin ons nou lewe.

  • Beste Kobus,

    Dankie vir hierdie inligting. Wys jou net hoe gevaarlik die skepping van die mens se verbeelding, nl. geloof, kan wees. En elkeen dink sy ou gelofie is die ware jakob.
     
    Laat my so baie dink aan die Vredemiere (Van Eeden se De Kleine Johannes) wat oorlog maak en al die ander mierkolonies uitroei om te bewys hulle is die Vredemiere.
     
    Groete,
    Angus
     
     
  • Kobus de Klerk

    Trienie,

     
    Ek sou ook meen dat jou geestelike bydraes van die afgelope tyd ten minste net so relevant is juis in die tyd wat ons leef, vir publikasie in daardie tydskrif en ander soortgelyk. Ek vind dit inspirerend en waardevol en ek is baie seker andere sal ook.
     
    Groete,
    Kobus de Klerk
  • Kobus de Klerk

    Angus,

     
    Die ironie is dat mens nie ware Vrede kan eien en waardeer as jy nie ook weet wat oorlog behels nie. Na die oorlog is die Vrede die oorwinnaar en daarop, slegs daarop, kan mense werklik floreer.
     
    Kobus de Klerk
  • Kobus de Klerk

    Die Vrede is nie gevaarlik nie, net die haat, Angus. Of dit nou onder die dekmantel van 'n afvallige religie bedryf word of nie.

     
    God is Vrede - die res is haat. Onthou - die Vrede oorwin altyd, ALTYD, die haat... en dit is die haat wat veglustig is want die haat ken geen vrede nie. Dink mooi hieroor na voor jy wil antwoord. Jou antwoord sal bepaal of jy begryp.
  • CorneliusHenn

    Kobus de Klerk se voorstelling van my belydenis is kwaadwillig en vol bedrog ... al het ek geen beswaar teen 'n sinkretiese uitlewing in enige Godsdiens nie, neem ek in besonder aan elke Godsdiens waar ek die genade daarvoor ontvang deel ... ek ag elke Godsdiens se ritusse nederig en sonder om die een met 'n ander te vermeng ... by die huis beoefen ek dit wat ek in my hart in die liefde en genade van ons almal se Skepper vind ... my pleit op die werf is dat elkeen van ons is by 'n verskillende mylpaal in die lewe is, en dat elkeen se hart spesiaal is vir Jesus Christus onse HERE ... dis nie vir Trienie Mahne of Kobus de Klerk om hulle oor 'n ander se hart en opregte diens tot eer van ons almal se Skepper te verhef nie ... maar, wyl ek gedurig uit die Roomse, Anglikaanse en Nederlandse Geloofsbelydenis aanhaal - nie een van Kobus de Klerk of Trienie Mahne hul kerkverband sal verklaar, of die bronne vir hul soort oorlogshond manifeste hier sal aandui nie ... .Kobus de Klerk, ek vergewe jou nogmaals in die liefde en genade van Jesus Christus, ons almal se Almagtige Lewende GOD ... Cornelius Henn

  • CorneliusHenn

    Beste Angus,

    Natuurlik is jy wel reg in 'n mate! Kobus de Klerk sou goed aard sou hy ingebore wees in oorlede Bin Laden baardpatrolies ...

    Aan die anderkant van die munt was en is daar ook menige agelowige -oorlogshond op ons aarde.

    Om Godsdiens in die algemeen te blameer vir die waan van 'n Kobus de Klerk, is nes die besorgdes wat motors blameer vir dodetal op paaie ...

    Nee wat Angus, ek voel steeds jy moet daardie geveinsdes wat jou so seer  gemaak het persoonlik verantwoordelik hou - en nie hul ras, taal, geslag, gewig, kleur hare, bankbalans ... of Godsdiens daarvoor blameer nie!

    Namaste!

    Cornelius Henn

  • Kobus de Klerk

    Kerneels, 

     
     Dit is waarskynlik duidelik vir algar wat op hierdie forum lees en deelneem, dat jy jou skynbaar aan geen raad steur nie en hoewel dit meestal gebeur dat jou blertse geïgnoreer word, voel mens tog soms genoop om jou maar net nog ’n keer op jou sinnelose dwalings te wys. 
     
     Wat jy hierbo in een van jou laaste blertse kwytraak, dui maar net op die spirituele gemors waarin jy jou bevind. Jy weet skynbaar self nie eens wat jy wil of nie wil glo nie – en dan verstaan jy daar boonop niks van nie. 
     
     Aan die eenkant beweer jy dat ek jou ‘belydenis’ kamstig ‘kwaadwillig en vol bedrog’ voorstel as ek uitwys dat jy die tipiese sinkretis is maar dan gaan jy in dieselfde asem voort en vertel vir algar wat dat jy geen beswaar het teen 'n sinkretiese uitlewing in enige religie nie en dat jy boonop in besonder aan elke religie deelneem waar ek die ‘genade’ daarvoor ontvang... en só bevestig jy presies wat ek jou ten laste lê en is die enigste kwaadwilligheid en bedrog maar net by jou te siene – soos gewoonlik. 
     
    Die ‘verskillende mylpale’ in die lewe waar van jy praat waar ‘elkeen van ons’ (wie is jou ‘ons’?) kwansuis sou wees, is juis die probleem van jou poespas religie. Ons weet wat jy doen, ons weet wat jy ‘bely’ – jou mengelmoes van religieë wat eenvoudig nie met mekaar te versoen is nie – verkillende spirituele leuens wat elk in sy eie gewaad gedos is en algar vir jou ewe aanvaarbaar – jy ‘bely’ (sê) skromeloos self so. Ons sien gedurig hoe jy die islam, hindoeïsme, judaisme en verskeie ander pagan religieë bepleit en probeer saamvoeg in jou weersinwekkende brousel. En soos ons nou sien wat jy sê, beoefen jy dit nog by jou huis ook.
     
    Die insinuasie dat jy sodanig genade ontvang om so te maak, is absoluut lasterlik en ’n totale leuen. Wie gee sulke genade? Sal die HERE oor Homself teenstrydighede kwytraak? Allermins! Want in SY mond is geen leuen óóit te vinde nie...  Dit is dus nie van die HERE nie. Wat oorbly is die duiwel, die vader van die leuen en komende van hom, is dit geen genade nie, maar 'n vervloeking. 
     
    Wat jy probeer voorgee is dat elke versinsel spesiaal vir die HERE Jesus Christus is. Dit is weersinwekkend. Religieë wat die HERE Jesus Christus verloën, misken, ontken en dies meer sal jy skromeloos in jou eie versinsel van ’n jesus-figuur saamplak asof dit saamhoort en versoenbaar is met die Wese, aard en Evangelie van die ware Énige HERE Jesus Christus (die goed is nie eens met mekaar te versoen nie) en maak asof dáárdie versinsel van ’n jesus-figuur nou God is. 
     
    Jy is ongelukkig baie duidelik so deurmekaar soos ’n gomsnuiwer wat in ’n Genkem mengpot geval het en met die ingrypende nawerking sukkel. Dit is duidelik vir algar om te sien. 

    Tragies, arme jy. Maar jy leef nog en dus is daar nog hoop vir jou bekering. En die dag as jy tot bekering kom, die ware Jesus Christus ontmoet Wie se Heilige Naam jy so misbruik, sal die skaamte wat jou sal oorweldig oor die leuens en bedrog wat jy in die Naam van die HERE verkondig het, só erg wees, dat... 

    Kobus de Klerk
  • Beste Kobus de Klerk

    Jy veroordeel Cornelius Henn  met die woorde

    "Tragies, arme jy. Maar jy leef nog en dus is daar nog hoop vir jou bekering. En die dag as jy tot bekering kom, die ware Jesus Christus ontmoet Wie se Heilige Naam jy so misbruik, sal die skaamte wat jou sal oorweldig oor die leuens en bedrog wat jy in die Naam van die HERE verkondig het, só erg wees, dat... "

    Ek wil geensins met jou in debat tree nie, want ondervinding het my geleer om maar versigtig te wees vir mense wat allerhande aansprake maak op besondere openbaringe en dan wel in besonder met Jesus Christus en dan 'n enkele vraag vra:'

    Wie het jou aangestel en op wie se gesag spreek jy 'n oordeel  oor Cornelius Henn uit?

  • Kobus de Klerk

    F C Boot,

     
    Jy het so dan en wan kommentare hier op die forum geplaas waar jy in gesprek getree het met sommige van die agnostici hier, maar ook met my as gelowige. Met elkeen het jy 'n appeltjie te skil - jy stem nie met die agnostikus saam nie (Goddank vir jou onthalwe) maar jy stem ook nie met die ware gelowige saam nie (tragies). Wat mens dan nou daaruit moet aflei, is dat jy jou eie geloofsprentjie gevorm het en dit is baie gevaarlik - kyk maar wat het met Cornelius gebeur... en jy is op jou eie manier daarheen op pad.
     
    In 'n gesprek met die agnostici het jy op 'n stadium gesê dat die Woord, die Bybel, die geïnspireerde Woord van God en waarheid is - het ek jou reg verstaan? Maar jy is self nie een wat jou by daardie Woord hou nie en jy is bekend daarvoor dat jy die Woord sal versaak waar dit jou nie pas nie, soos byvoorbeeld, met die skeppingsgebeure in die Woord waar jy eerder die agnostikus se darwinistiese evolusie wetenskap sal aanvaar as die Woord en die Woord sal verdraai om dit te kan doen.
     
    Net so doen jy nou ook weer met 'n ware gelowige se waarskuwing aan iemand wat die HERE se Heilige Naam belaster - en jy noem dit 'veroordeling'. Wat dit eintlik dus beteken, is dat jy dit sal laat begaan eerder as om vir die HERE se Naam in die bres te tree (Mattheus 10:32-33 - hierdie dien as 'n waarskuwing vir jou ook). Maar as jy op gelowigheid aanspraak maak, soos wat jy in jou gesprekke met die agnostici doen,. dan moet jy soos 'n gelowige praat en moet jy tog sekerlik die Woord gestand doen en uitdra. Maar dit lyk nie of jy daartoe bereid is nie. want dit pas nie jou persoonlike religieuse prentjie nie...
     
    As jy die Woord geken en gerespekteer het, sou jy weet dit is jou as gelowige se plig om 'n ander te waarsku (Esegiël 3:17-21; 33:2-9) wanneer hy iets doen wat vir die HERE 'n gruwel is - en om die HERE se Naam te misbruik en belaster soos wat Cornelius doen, is inderdaad vir die HERE 'n gruwel (Eksodus 20:7; Markus 3:28-30).
     
    Dalk sal jy baie baat deur eerlik en openhartig voor die spieël te gaan staan, nie om jouself te bewonder soos wat jy tans hier doen nie, maar as 'n proses van selfondersoek om te besin oor waarmee jy werklik besig is, want nes Cornelius - ook in die Naam van die HERE - jy is besig om lynreg teen SY instruksies en leiding op te tree (soos hierbo aangedui en dan ook Mattheus 28:19) en jy is besig om ander, wie Hom wel gehoorsaam, te berispe daaroor deur jou eie religieuse reëls wat jy sommer self versin.
     
    Kobus de Klerk
  • Beste Kobus 

     Jy sê jy is ’n ware gelowige, dus ’n volgeling van Christus en tog veroordeel jy ’n medegelowiges. Jy ly met alle respek aan ’n grootheidswaan en in die waan besluit jy sommer wie bekeerd is en wie nie. 

     Jy skryf: “Jy het so dan en wan kommentare hier op die forum geplaas waar jy in gesprek getree het met sommige van die agnostici hier, maar ook met my as gelowige. Met elkeen het jy 'n appeltjie te skil - jy stem nie met die agnostikus saam nie (Goddank vir jou onthalwe) maar jy stem ook nie met die ware gelowige saam nie (tragies). Wat mens dan nou daaruit moet aflei, is dat jy jou eie geloofsprentjie gevorm het en dit is baie gevaarlik - kyk maar wat het met Cornelius gebeur... en jy is op jou eie manier daarheen op pad.”  

     Jy praat nou sommer nonsens wanneer jy sê .dat ek met elkeen ’n appeltjie te skil het. Jy beskryf jouself as ’n ware gelowige wat homself die reg toe eien om te besluit wie soos reeds gesê bekeerd of onbekeerd is, dus wie gered en nie gered is nie.  

    Jou probleem is dat jy niemand se vrae reguit beantwoord nie maar  agter ellelange skrifaanhalings en met bedenklike uitleg daarvan skuil.

    Wanneer ongelowiges soos Angus jou met wetenskaplike en bewese feite konfronteer antwoord jy hulle met ’n ompad op so’n manier dat niemand kan uitmaak wat jy sê nie.       

       Leer Christus jou ook nie in Mat 7:
     Moenie fout vind nie.   1.Moenie so gou foutvind nie. 2 As jy ander links en regs veroordeel, gaan God eendag presies dieselfde met jou doen.3 Waarom is jy so haastig om foute in ander mense se lewens uit te snuffel terwyl die blind is vir al die sondes in jou eie lewe? Waarom sien jy so gou die kleinste splintertjie in jou vriend se oog raak terwyl jy blind is vir die groot houtstomp wat in jou eie oog vassit.4 En dan waag jy dit so ewe om vir jou vriend te sê : “My ou broer, kom laat ek gou daai splintertjie uit jou lewe wegvat sodat jy weer reg kan leef,’ maar jy sien die groot foute in jou eie lewe raak nie. 5.Jou skynheilige!Haal eers die boomstomp uit jou eie oog uit,dan sal jy goed genoeg kan sien om daardie klein splinterjie uit jou vriens se oog te haal.  

    Hierdie les van Jesus is op ons almal van toepassing, maar ek haal dit aan omdat jy uit die staanspoor uit medegelowiges beoordeel en veroordeel en dus: 

      Ek herhaal dus weer my vraag : Wie het jou aangestel en op wie se gesag spreek jy 'n oordeel  oor Cornelius Henn uit? En nou ook my uit?        

  • Kobus de Klerk

    FC,

     
    Daar is 'n verskil tussen 'n ware gelowige en mense wat sê hulle glo. Die ware gelowige trek nie God se Woord - wat insluit SY geskrewe Woord - in twyfel nie en soek nie allerlei verskonings om dit te verdraai en af te water net omdat hulle dit nie verstaan nie. Ware gelowiges word deur die Heilige Gees van God gelei en weet dus wanneer hulle ware gelowiges is en is dit glad nie grootheidswaan om erkenning te verleen aan daardie wonderlike voorreg en gawe nie, maar eerlike dankbaarheid. 
     
    Daarby word ware gelowiges deur die Heilige Gees van God in die uitleg van SY Woord onderlê en weet dus ook wat SY Woord beteken en ook dat SY Woord in alle opsigte korrek en getrou is, omdat dit die Waarheid is in alle opsigte.
     
    Dieselfde Heilige Gees van God lei ook die ware gelowige in die uitdra en verduideliking van die Evangelie en ook wanneer die ware gelowige ander juis ter wille van die Woord moet teregwys en op die Waarheid wys - dat jy dit nie weet nie, is maar net getuienis van jou gebrek aan kontak en voeling met die Gees, anders sou jy nie die Woord uit Mattheus 7 aanhaal omdat jy die aanwending, omvang en implikasie daarvan nie begryp nie. Om iemand tereg te wys en op die Waarheid te wys, is elke ware gelowige se voorreg en plig - nie net teenoor homself nie (want wat vir sy medemens geld, geld ook vir homself), maar ook andere met wie hy in gesprek is. As jy die Woord geken en verstaan het en nie net letter-kennis daarvan gehad het nie, sou jy weet dat ware gelowiges ander op hul dwaling wys as waarskuwing want ook op so 'n manier tugtig God diegene wie HY liefhet (sien weer Esegiël 3:17-21 en 33:2-9 saam met 2 Petrus 1:20; 1 Timoteus 4:13; 2 Timoteus 3:16 en veral 2 Timoteus 4:1-4; Titus 1:13; 2:15).
     
    Dit is jammer dat jy hierdie dinge nie weet en verstaan nie en tog skep jy die indruk dat jy volkome is in jou kennis soveel so dat jy selfs die ware gelowige wat jou met God se Woord konfronteer, probeer die mond snoer en stilmaak en jy jou eie verwaandheid en beterweterigheid en grootheidswaan - ironies, in jou onkunde - sonder dat jy enigsins ag slaan op die Woord waarmee jy gekonfronteer word. So verward is jy, dat jy nie kan onderskei tussen slegpraat sonder oorsaak (waarteen in Mattheus 7 gewaarsku word) en Woord-gefundeerde teregwysing en waarskuwing (wat ek gedoen het en waarna verwys in die Woord hierbo aangehaal)
     
    So, as jy nou nog nie weet Wie die ware gelowige aanstel en in Wie se gesag die ware gelowige spreek nie, sal jy eers tot bekering moet kom om uit te vind - maar jy is so vol van jouself dat jy reken jy is reeds daar dat jy sommer oor God's Woord en SY dienaars ook kan oordeel vel - want dit is waarvan jy my vals beskuldig, maar jy self doen.
     
    Ek hoop jy kom tot insig en bekering. Op die oomblik leef jy in vrees vir oordeel (jou gewete soveel so dat jy almal die mond wil snoer wat jou daaraan herinner?).
     
    Kobus de Klerk
  • Kobus de Klerk

    FC,

     
    So terloops, jy sê hierbo dat wanneer ongelowiges soos Angus my met kwansuis wetenskaplike en bewese feite konfronteer antwoord ek hulle met ’n ompad op so ’n manier dat niemand kan uitmaak wat ek sê nie.
     
    Juistement, as jy sê julle verstaan nie wat ek sê nie.
     
    Mense soos die Goddelose Angus (ooreenkomstig sy eie getuienis) en blykbaar jy ook (sien ek jy sê), sal nie verstaan wat ek sê nie, want hulle (of is dit julle) ken net die misleiding van die wêreld wat jy as bewese en wetenskap lof toeswaai, maar verstaan nie die Wysheid en Waarheid nie, want die is blykbaar vir julle totaal onverstaanbaar (1 Timoteus 6:3-7; 1 Korintiërs 1:18-25).
     
    Jy is bloot twisgierig.
     
    Kobus de Klerk
  • Beste Kobus

    Ek gaan my nie eers verwerdig om jou aantygings te reageer nie, want dit is duidelik dat jy van die werking van die Heilige Gees, net soveel weet as 'n kat van klavierspeel. Die Heilige Gees is nie opgeblase en vol van homself soos jy nie.

    Jy toon ook min begrip van wat die waarheid en dan veral tov die skepping is. Soos alle dwepers raak jy verwar
    oor die betekenis van die geskrewe woord van God.

    Met hierdie paar woorde volstaan ek want geloofskwaksalwers soos jy is volop en is die grootste rede dat ongelowiges lag veral oor die onkunde oor begrippe soos evolusie, die ontstaan van lewe ens, omdat mense soos jy steeds die Genesisverhale voorhou as synde die wyse te wees waarop veral die mens ontstaan het.

  • Kobus de Klerk

    FC,

     
    Jy het baie byvoeglike naamwoorde vir ware gelowiges, terwyl jy skel oor hul 'opgeblasenheid' en 'liefdeloosheid' 'sien ek so uit jou eie 'liefdevolle' skrywes, ou hipokriet. Miskien omdat jy self so vol daarvan is...

     
    Ek het nie verwag dat jy sinvol sou antwoord op die Woord wat ek in jou midde lê nie - jou antwoord doen dit alles. Jy het geen antwoord nie. Konfronteer mens jou met die Woord, word jy so vies dat jy aan't skelle gaan en die hasepad kies. Na alles, watter kansvatters en leuenaars is nou opgewasse teen die Woord. Hulle kies uiteindelik algar die hasepad en sit daar onder mekaar en swymel oor die 'dwepers'.
     
    Jy is mislei en ek hoop dat jy wel betyds tot insigte sal kom.
     
    Sterkte vir jou,
     
    Kobus de Klerk
  • Kobus

    Gaan asseblief voort met jou korrekte uitleg en oordra van die SKRIF en die ware geloof. Steur jou nie aan die "skyn-kenners" nie.

    Baie dankie dat jy voortstu om ons GROOT MEESTER ELOHIM en SY SEUN JAHSHUA te verdedig.

    Groete

    Peet Struwig

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top