Sonde, predestinasie, voorspoed teologie - agnostiese moerasgrond

  • 0

Die punt is dat die mens weliswaar geneig is tot sonde – en dit beteken dat hy God in die een of ander opsig ongehoorsaam (watter agnostikus doen dit nie?...) – en kan dus nie uit eie wysheid of krag in gehoorsaam tot God (sondeloos of heilig) lewe nie, maar dat die mens daardie versoeking tot sonde kan weerstaan en oorwin deur ag te slaan en gevolg te gee aan die Goddelike uitnodiging in Matteus 11:28-30 vervat deur tot God, tot die HERE Jesus Christus, te nader en soos HY te word met SY hulp en leiding alleenlik en belangrikste van alles, die gebruikmaking van die HERE se bereidwilligheid om ons die sondes (ongehoorsaamheid aan Hom) te vergewe. Dit is dus die eenvoudige antwoord op Dirk se eerste kwelvraag en daar is geen teenstrydigheid of paradoks by betrokke nie.

Dirk en Perdebytjie en andere kan dus hulle verbasing oor die opmerking dat alle mense tot sonde (op een of ander manier) geneig is, laat staan en tot insigte kom, want hulle self skroom nie om God ongehoorsaam te wees nie tot op die laagste vlak van laakbare gedrag waar hulle Hom selfs SY bestaan nie gun nie en ’n sondige mens is nie ’n goeie mens nie.
Dirk verstaan Trienie se behandeling van die Goddelike predestinasie nie in konteks korrek nie. Dit beteken gewoon dat God ordelik is en ’n doel met alles het en in só ’n konteks is alles haarfyn beplan en op pad na vervulling in elke besonderheid daarvan. Geen mens of kombinasie van hulle sal die Goddelike Raadsplan kan verongeluk nie. Deel daarvan is God se wil dat mense, anders as alle ander skepsels, ’n vrye wil het wat in gehoorsaamheid tot God se duiding uitgeoefen behoort te word en waar dit soms faal, die verlossingsplan vir diegene wie bereid is om Hom te gehoorsaam – álmal van hulle (Esegiël 18:21-23; Timoteus 2:1-4), nie net sekeres nie. Trouens, dit is sekerlik dié belangrike deel van God se voorbeskikking met betrekking tot die mens en sy verhouding met en tot God en sy medemens – die bediening en lydensweg van die HERE Jesus Christus getuig direk daarvan.

Dit is dus ’n lamsakkige en lewensgevaarlike verskoning vir mense om te wil beweer dat God vooraf bepaal het of hulle gered sal word of gelowige sal wees en dien slegs as verskoning en selfgeskepte vrywaring vir mense wat nie kans sien nie, of gewoon nie wil moeite doen om God se Wil op te soek nie. Die agnostikus en veral die ateïstiese verskyningsvorm daarvan, neem dié lafhartige en onverantwoordelike houding tot die laagste vlak waar hulle God selfs probeer wegwens sodat hulle net nie aan SY dissipline hoef gehoor te gee nie. Is daar ’n meer kras en blatante vorm van rebellie en ongehoorsaamheid teenoor God? En selfs húlle kan weens die verstommende Goddelike Liefde en lankmoedigheid SY vergiffenis verkry en vrykom deur net aan die Goddelike uitnodiging in Openbaring 3:20 en dit is óók deel van die Goddelike Raadsplan en predestinasie.

Die derde aspek wat Dirk as ’n probleem aansien, is die kwessie van wat hy onder voorspoed teologie verstaan. Sy interpretasie daarvan is streng materieel en hy neem geensins die werklike voorspoed wat God aan Sy gehoorsame kinders bied in ag nie omdat hy as agnostikus daar geen begrip voor het nie. Sy argument dat daar nie werklik te onderskei is tussen die voor- en teëspoed van beide gelowige en ongelowige nie, is ’n wanopvatting en ook aanduidend dat hy die belofte van God glad nie (kan, wil?) begryp nie. Sy argument is inderdaad geen argument nie – God beloof aan alle mense in hul lewe op aarde twee dinge – Sy genade. Dus, beide gelowige én ongelowige ervaar die genade van God eweredig oor die algemeen (Prediker 9:2,11; Romeine 2:11). Die ongelowige, omdat God regverdig is en die ongelowige ook die geleentheid gegun word om homself tot God te bekeer en die gelowige, omdat God regverdig is en in ieder geval SY gelowiges bystaan in hulle nood, want dit gaan eintlik om die hiernamaals en die keuses wat ons hier op aarde maak en invloed daarvan wat reperkussies in die volgende eeu (hiernamaals) vir algar het.

Só sal die ongelowige nie kan sê dat hy deur swaarkry sy keuses verkeerd gemaak het terwyl dit goed gegaan het met die gelowiges en dit dus vir hulle (gelowiges) maklik was om die regte keuses te maak nie – tewens, dit gaan soms verbasend goed en baie voorspoedig met ongelowiges op materiële gebied (terwyl hulle geestelik siedend armlastig is) en leef hulle dikwels gekussingde lewens wyl dit al te dikwels nie so is met gelowiges nie. Vir God is die materiële nie van soveel belang nie, want dit kom en gaan en by afsterwe bly dit geheel en al agter en word dit sinneloos nutteloos, maar wel die Geestelike (Spirituele - Lukas 12:31; 1 Timoteus 4:8) want dié het bepalende uitwerking op jou lewe in die volgende eeu (Mattheus 10:28) en dié kan ’n belangrike invloed hê op hoë dit met jou gaan in die toekomstige eeu – as verdoemde, armlastige of welvarende en dít is van blywende aard (Mattheus 6:19-20 – ’n waarskuwing by geleentheid van die beroemde Bergpredikasie gerig aan alle mense, net sekeres nie. Sien ook Spreuke 23:4; 1 Timoteus 6:17; Hebreërs 13:5]; Jakobus 5:1).

Dus, Dirk se ‘goeie’ mense – gelowiges – sál dus voorspoed geniet, nie net in hulle lewe op aarde nie, maar veral waar dit werklik saak maak, naamlik in die toekomstige, permanente era en dáár is waar die ongelowige se hulle teëspoed hulle sal tref en die blywende armoede aan die geestelike bates by God belê, die énigste nuttige, bruikbare en voorspoedige bates in die toekomstige eeu. Sien Mattheus 13:45; Spreuke 2:4; 3:13-15 (Goddelike Wysheid – kennis van God), 8:10, 19.

Dit is egter nie te sê dat die ware gelowige nie óók aardse voorspoed kan geniet nie, want dit is ’n spesiale geskenk van God (Spreuke 10:22) mits die ware gelowige die verantwoordelikheid van materiële rykdom in wysheid kan bestuur en nie sal toelaat dat dit tussen hom en sy Skepper sal kom nie (Deuteronomium 28:1-14 en waarskuwing by Bergpredikasie – Mattheus 6:24). So ook geniet ware gelowiges vandag nog Goddelike genesing, een van die onuitspreeklik waardevolle geloofsgeskenke, omdat God nie net die liggaam genees nie, maar veral ook die gees en siel.

Die agnostikus is só omdat hy nie kennis het van God nie en duidelik - by keuse nogal - te dwaas en parmantig is om te wil leer.

Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top