Sonde met die honde

  • 1

Nadat ek van Twak-brak ontslae geraak het – sien The Sad Case of Twak – moes ek dringend weer ’n hond aanskaf. Die rede: Ons het in Montanapark gewoon wat in die 1990’s ’n brandpunt van kriminele aktiwiteite was.

My noodroep het alle kante toe uitgegaan, en Hennie en Essie het eerste geantwoord en met Jossie daar aangekom.

Jossie was ’n opregte hond. Beide sy pa en ma was honde. Maar sy bloed was nie so suiwer nie. In hom was daar iets van 'n Doberman, 'n Alsatian en 'n Fox Terrier. Ja, 'n opregte Pavement Special. Maar 'n plesier om op die werf aan te hou.

Jossie kon duiwe en selfs Indiese mynas vang. Hy het 'n uniek tegniek ontwikkel wat hom daartoe in staat gestel het. Sy fyn gehoor het die voëlgeluide in die agterplaas opgetel. Hy het dan met 'n vaart voor by die hek weggespring 25 meter verder sy topspoed bereik by die hoek van die huis. Sy suspensie was op daardie stadium gesak gewees soos 'n 1965 DS19 Citroën s'n. Sodra die plat gevaarte om die hoek gekom het, het die voëls probeer opgevlieg. Maar dan het Jossie so 'n hupsprongetjie gemaak, en die ongelukkige wenner uit die lug uit beetgekry. Die duiwe was redelik stadig, en hy kon hulle so op 'n driekwart meter in sy bek vang. Die mynas was moeiliker. Vir hulle moes hy tot omtrent 1.2m hoog spring.

Terug op die grond aangekom het hy die voël heen en weer geskud dat die vere gewaai het, en dan het hy die voël-kadawer voor hom op die grond neergesit. Met 'n tong wat skeef uit sy bek gehang het, het hy gelukkig en tevrede vir my gelag. Sy hondegesig het duidelik gesê: "Ek is goed, hê?"

Ek het dan sy vangste in 'n plastieksak gegooi en in die asblik gaan deponeer. Ek het soms gewonder wat die vuilishoop aas-wesens vir mekaar gesê het as hulle Jossie se vangste week na week in 'n sakkie gekry het?

Een so vangs kon ek nie in 'n gewone sakkie inkry nie.

Die lawaai van die voëls in die agterplaas het ek ook gehoor toe Jossie op 'n dag weer by die hek weggespring het. Maar dit was Hadidas, en ek sê vir myself: "Vandag kry jy op jou moer, Jossie!" Toe ek om die hoek kom kon ek skaars glo wat ek sien.

Jossie se gesig het weer vir my gelag, en hy was duidelik trots op sy vangs. Maar hierdie een het hy nie neergesit nie. Deur sy bek het die slap nek van 'n Hadida gehang – morsdood.

Jare later het ek vir Jossie weer daar in die agterplaas gekry. Die hondesalon se bakkie het voor by die hek gestop. Jossie was dol oor sy weeklikse bad, en het gewoonlik self daar vir hulle gewag. (Ek het vir my Britse vrinne gesê my hond is skoner as 'n Engelsman, hy bad dan elke week!) Maar hierdie dag was anders. Dit was vreemd vir my. Hoekom sou hy op sy sy lê en slaap in die koelte, en dit nogal in die winter?

Jossie was dood.

Hy het vroegoggend buite toe gegaan toe ons die hek oopgemaak het vir die bediende. Voor ons heining was die braaksel van 'n ander hond, en hy het dit geëet. Ons het later gehoor dat die ander hond deur inbrekers vergiftig was, maar dié was 'n baie groter dier en het dit oorleef. Jossie nie. Die hondesalon-tannie het weggery en al die pad gehuil oor hom.

 

Venus was 'n Staffordshire terrier wat van die plaas af by ons kom aftree het. Oorlyde Pa het haar van die plaas af gebring en verduidelik dat sy Bull Mastiff teef kleintjies gekry het. Elke keer as Venus belangstellend na die nuwe hondjies kom kyk het, het die Bull Mastiff Venus aangeval en stukkend gebyt.

"Twee bietse op een werf werk nie", het Oorlyde Pa gesê.
"Twee bietse in een kombuis ook nie," het ek gedink, maar my gedagtes vir myself gehou. Dis 'n totaal ander storie.

Venus was al oud toe sy by my kom aftree het. Sy was 'n jong meisie-hond gewees toe Adoons, Oorlyde Pa se Staffy-reun, haar swanger gemaak het. Sy het net een kleintjie gehad, en my broer Adam het later die liefdeskind vir homself gevat. Daarna het Adoons spoed gevang. Haar volgende swangerskap het dertien kleintjies opgelewer. Minder as 'n jaar later was daar nog elf.

Omdat sy en Adoons met papiere daar aangekom het, het die gebroedsels gou huise gekry, maar Venus was gaar gebaar. 'n Veearts het haar reggemaak.

"Verkeerd gemaak", het Adam vir Oorlyde Pa gesê. "Oom Fanus Rautenbach het gesê as 'n veearts jou hond se plumbing toeknyp is die hond nie meer reg nie."

"Gesteriliseer," het ek by Afrikaans probeer hou, maar hulle het my nie gehoor nie.

Wanneer die donderweer gedreun het, het Venus totaal nutteloos geraak. Sy het dan soos 'n riet begin bewe en in die huis kom skuiling soek. Sy sou voetjie vir voetjie in die huis insluip met die hoop dat jy haar dik lyf nie sou sien nie. Dan het sy onder die trap gaan sit en kwyl.

Later, toe haar oë nie meer wou werk nie en sy heeltemal doof geraak het, en sy haar blaas ook nie meer kon beheer nie, het ek haar veearts toe gevat vir 'n genadedood. Ek het die halsband met haar naam op afgehaal en liewer net geloop. Dit was Oorlyde Pa se hond, en ek het nie geweet hoe ek dit vir hom sou kon vertel nie.

Tienka was 'n pragtige, rooibruin Rhodesiese rifrug gewees. Sy was ook nog jonk toe sy by ons gekom het. Maar ons tuin was ook jonk, en 'n jong tuin en 'n jong hond werk nie saam nie.

Ek het elke plant probeer toemaak met droppers en draad, maar sy het gate langs die droppers gegrawe totdat sy haar skêrbek onderdeur kon kry. Dan knip sy die stammetjie af en sleep die takkie saam met haar. Ek kon eenvoudig nie voorbly om nuwe plante te plant nie, en het besluit Tienka moet liewer gaan.

Ben en Sonay het een aand kom kuier. Hulle het op 'n kleinhoewe in Hekpoort gewoon, en ja, hulle het 'n hond nodig gehad. Ja, hulle sal Tienka vat. Ek was verlig. Omdat dit gereën het, het hulle sommer deur die garage geloop tot by hulle motor. Ons motor se nommerplaat het skeef gehang aan die buffer. Duidelik was dit Tienka se werk, maar ek wou niks sê nie.

"Jong," het Ben gewaarsku, "Jy sal jou nommerplaat verloor."

Ek het net stilgebly - netnou wil hy nie meer die vervlakste brak hê nie. Hulle is daar weg in die reën en Tienka het 'n plaashond geword.

'n Jaar of wat later het hulle ons vertel dat Tienka tot heldestatus verhoog is in Hekpoort. Daar was 'n verkragter in die omgewing gewees wat 'n plakkerskamp geteister het. Sonay se bediende was amper 'n slagoffer gewees, maar Tienka het die kaalbas man beetgekry waar hy nie beetgekry wil wees nie. Hulle was so trots op haar.

Maar Sonay het nie van "haar" gepraat nie. Dit was "hom" en "hy", en selfs toe ek haar reghelp en sê dat Tienka dan 'n teef is, sê Sonay: "Man ja, ek weet, maar in my kop is dit 'n 'hy'!"

'n Paar maande later het ek weer daar gekuier. "Waar is Tienka dan?" wou ek weet toe ek 'sy' afwesigheid merk. Trane het oor Sonay se wange gerol, en ek het geweet dat Tienka daarmee heen was.

"Man, hy en Trippie ('n ander hond) het nog hier rondgespeel. Hulle het partykeer rondgeloop, maar altyd weer teruggekom. Tienka het later vet geword, en toe kry hy mos kleintjies!"

As daar nie so baie trane geloop het nie, het ek uitgebars van die lag. Ek kon myself beswaarlik inhou.
Die bure het 'n blommeplaas gehad, en Tienka se liefde vir plante verwoes het haar einde beteken. Die buurman het haar geskiet.

Oorlyde Pa se groot Bull Mastiff, Piet, het eendag ernstig siek geword. Op aandrang van die familie se "kenners" moes die arme siek hond al die pad van Messina af Krugersdorp toe kom om deurgehaal te word. Na sy doktersbehandeling in Krugersdorp was ons huis in Montanapark sy eerste pitstop gewees.

Die bakkie het onder die groot seringboom gestop, en Piet het met moeite afgeklim. Onder op die grond het hy heen en weer gekyk. Watter boomstam was nou die naaste gewees?

Ongelukkig kies hy toe 'n klein ou boompie drie tree van hom af, en nie die dik seringstam op vyf tree nie. Dit was 1995 se droogte gewees, en ons het waterbeperkings gehad. Alles het gesmag na 'n nattigheidjie.
Piet het sy been gelig en met 'n dik straal die dorstige boompie sopnat gepiepie. Ek weet nie of dit die verhoogde uriensuur was of dalk al die antibiotika nie, maar die boompie se blare het drie dae later verdroog en toe het die hele boom gevrek. Piet het dit darem gemaak.

'n Paar dae later het Oorlyde Pa gebel. "Hoeganit?" wou hy weet.
"Goed!" het ek gelieg. Hoe kon ek nou vir hom sê sy hond het my boom doodgepis?

Hier in 2003 of 2004 het Elsie Geselsie my voorgekeer by die Kolonnade Sentrum. Vir 'n geselsie natuurlik. "Jy wil nie dalk 'n Jack Russell reuntjie hê nie?" Ek moes nee gesê het, maar het aan my seun gedink, en Face het by ons ingetrek.

Face was regtig 'n pragtige dier, maar hy het 'n ewige wanderlust aan hom gehad. Die heel eerste verandering wat sy teenwoordigheid op my afgedwing het, was om ons heining aan te pas dat hy nie kon deurglip nie. Ons het ekstra staal ingesweis, maar dit het hom nie gekeer nie. Elke nou en dan was hy uit, en dan bel mense ons sowat vyf kilometer verder. "Jou hond is hier by my!" Ek moes hom oral oor Montanapark gaan haal het, en het begin dik raak vir die storie.

En hy het net vir my geluister. Liewe Sannie en Simeon was heeltemal te laag af in die pakdier se pecking order, en hy het hom nie aan hulle gesteur nie. Dit het Liewe Sannie eendag 'n halfuur gevat om hom terug te kry in die erf in. Sy moes daarna weer gaan bad en skoon aantrek. Groot fout. Jy maak nie Liewe Sannie moerig nie. Face was besig om sy eie graf te grawe.

Die fout wat ek gemaak het, was om hom plaas toe te vat. Hy was in sy element. Ek het besef dat hierdie hond nie weer in die stad sou aanpas nie.

Dit was toe so.

Eendag het 'n pretdraf se roete weer by ons huis verbygegaan, en Face kon homself nie help nie. Teen die tyd was hy al gespierd gewees van al sy hardloop ekskursies, en die pretdraf het net te lekker gelyk. Hy het met sy meer gespierde lyf dit al hoe moeiliker gevind om deur die heining te kom, maar na 'n gestoei hy was deur.

Drie ure later bel 'n vreemde vrou my. "Ek het jou hond hier aan sy halsband beetgekry om jou nommer van die skyfie af te lees. Maar toe trek hy sy kop uit die band uit en hol weg!"

Ek was nie verbaas nie. Ek het geweet dat dit die laaste sien van hom was. Al wat ek kon doen was om die foon neer te sit. Elsie het my weer raakgeloop en ek moes haar vertel van Face. Sy wou nie meer met my gesels nie.

Ek kan dit vandag self nie glo nie, maar ek was toe waaragtig weer so dom gewees. 'n Donkie stamp nie sy kop twee maal teen dieselfde klip nie, lui die spreekwoord. Sandvelder is seker dommer as 'n donkie.

Ruben en Benjamin was twee Jack Russel boeties wat in 2005 by ons kom bly het. Net soos Face het hulle ook so mooi gespierd geword. Net soos Tienka het hulle alles in hulle vermoë gedoen om die tuin te verwoes. Gelukkig was die tuin darem nou meer gevestig gewees. Maar dit was 'n rowwe tyd by ons gewees.

Ons het Oorlyde Pa net die volgende jaar begrawe. Skielik moes ek van Pretoria af 'n Messina-boerdery aan die gang hou, en derhalwe my rekenaarbesigheid sluit. Ons was ook toe besig om ons houthuis in Montanapark te sloop om 'n nuwe een te bou. Die twee klein hondjies het die huis waar ons tydelik geplak het se besproeiing eerste opgekou, en daarna die mense se "Welkom"-matjie verorber.

Die bouer van ons nuwe huis het vir Ruben gevat, en Benjamin het ek op die plaas op Messina gelos. So lief as wat ek vir die honde was het ek my voorgeneem om nie weer my hart oor hulle te breek nie.

'n Hond het 'n manier
Om jou lewe te deel
Jou hart te steel
Jou te ruk in die bek
As hy vrek
'n Man kan ook net soveel vat
Daarom het ek nou ’n gemmerkat!

Sandvelder

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top