SêNetbrief vir Dirk en George

  • 9

Dirk Rigter
Jy het gelyk, die HNP en KP hét onstaan weens stiksienigheid en verstoktheid en wel die stiksienigheid en verstoktheid van daardie spul Afrikaners wat die soetkoek sinker en al gesluk het en saamgegaan het met, en meegewerk het aan, die nuwe beleid wat SA na die afgrond toe sou stuur (soos toe ook inderdaad gebeur het). Jy is ook reg as jy sê mens kan nie ’n geklitste eier ontklits nie; wat jy egter weens jou selfopgelegde tonnelvisie nie kan begryp nie is dat ontklitsing geensins voorgestel word nie, wat gedoen moet word is om op te hou goeie eiers by die geklitste vrottes te gooi. Om ‘n brand te blus is die eerste stap immers om op te hou brandstof op die vuur gooi.

Jy’s seker ook reg as jy sê ek is baie soos die ANC; hulle dra die belange van hulle mense op die hart en ek sal graag wil sien dat daar na ons mense se belange omgesien word. Hulle wil Afrikaanse name in swart name verander, wil hê krieketspanne, aandeelhouers en sakebestuur moet swart word en wil hê sosiale toelae moet verhoog word; ek wil graag hê plaasmoorde en die heksejag op Afrikaans (onder andere) moet ophou.

Propaganda bedryf en die stel van ware feite is verskillende dinge. Die doel van die koerant sou wees juis om propaganda teen ons deur die Engelse pers (plaaslik en oorsee) aan die kaak te stel. Hoe dit ook al sy, wanbesteding of nie (dis seker ‘n ander debat), dit is ligjare verwyder van teenswoordige wanbesteding – staatsgekoopte plase wat totaal en al vervalle is, onetiese kontrakte, ongeoorloofde aanbouings aan hogeres se huise, die soort van ding. Dis maar onder andere; selfs die oortjies van die seekoei van huidige wanbesteding is al klaar ordegroottes erger is as die ‘bose’ verlede se gewaande wanbesteding; hoe sal jy nie skrik as jy die hele seekoei moet sien nie.

Kom ek gee jou die voordeel van die twyfel; kom ons sê die ou bedeling was korrup maar dan staan dit nog soos ‘n paal bo water dat daardie korrupsie sodanig was dat daar nog geld oor was vir padonderhoud, munisipale dienste, die bedryf van hospitale en klinieke, effektiewe polisie-, skool-, kollege- en universiteitsopleiding en goed soos TRUK, SUKOVS, ‘n simfonie-orkes, die soort van ding. Die teenswoordige korrupsie egter, is sodanig dat daar nie geld oor is vir bogenoemde nie; kyk maar om jou rond.

Op die manier dan ‘redeneer’ ek nie met jou nie; dit is nou al twee keer agtermekaar dat jy kla jy kan nie met iemand soos ek redeneer nie (terloops, watter arrogansie! Jy redeneer nie met mense wat nie jou sienings deel nie). Ek hoef nie die moeite te doen om met jou te redeneer nie, ek stel net die feite, wys jou net daarop dat die Utopia waarvoor julle jul so beywer het die gemors is wat dit vandag is.

George/Pieter Redelinghuys
Soos Edgar Whitehead sê, ‘he that speaks with a misty profundity’ doen dit om sy onkunde te verberg, of so iets.

Jy sê “Fassinerende stukkie skryfwerk ter verdediging van die régime ancien...” Verkeerd; ek verdedig niks, ek val julle valsheid en huigelary aan. JULLE is die ouens wat die huidige sirkus verdedig en probeer regverdig deur, wat jy noem die ancien régime, aan te val.

Jy vervolg met “ ... met sy gepaardgaande nasionalisties-rassistiese bourgeois interpretasie van die realiteit ...” Jou opinie. Jy mag reg wees, maar jy sê niks om dit te staaf nie. Ek dink die feite wys dis andersom; dis die nuwe bedeling se interpretasie van die realiteit, naamlik ons-is geregtig-op, ons-word-geskuld (soos manifesteer in regstellende aksie, wraak) wat so bourgeois is.
Dan vervolg jy met “ ... soos gesien deur die bril van die wit bevoorregte elite, en onderdrukker van die meerderheid Suid-Afrikaanse burgers.” Soos WAT gesien word deur genoemde bril? Die ou orde se interpretasie wat so gesien word? Maak nie sin nie. Jy praat van die wit bevoorregte elite; is net sekere wittes bevoorregte elite en dit is van dié se bril waarvan jy praat, die ander wittes sien dit nie? Of is AL die wittes bevoorregte elite? Kan tog nie so wees nie maar indien hulle is, wie het hulle elite gemaak en bevoorreg? Wat jy sê mag waar wees maar dan moet jy dit staaf ; jy kan nie net stellings maak en verwag almal moet dit glo omdat George/Pieter dit sê nie.

En hoe is hierdie ander Suid-Afrikaanse burgers onderdruk? Weer eens, dit kan wees maar staaf dit anders is dit maar bloot ‘n opinie (moet net nie met Dirk se absurde stelling kom dat hulle nie in hulle geboorteland kon stem nie; dit hou geen water nie).

So gaan jy voort, stellings sonder stawing, blote eie mening. Byvoorbeeld “ ... breë Westerse demokratiese tradisie, n tradisie wat die Afrikaner langs die pad verloor het ...” Mag waar wees, maar hoekom sê jy so? Dis eintlik andersom; demokrasie is vryheid, regering deur die volk vir die volk, belasting aangewend vir eie heil. In hierdie bedeling bestaan dit nie; hier kan jy nie eers jou eie taal praat nie, vra maar byvoorbeeld vir die Vendas. ‘n Belaglike klein persentasie hier betaal 95% van die belasting waarvoor hulle weinig voordeel kry – hoe kan dit ‘n demokrasie wees? En hoe, en wanneer, volgens jou, sou die Afrikaner hierdie ‘tradisie’ verloor het?

Jy’s in een opsig reg, naamlik dat Dirk se siening weerklank vind met die oorgrote Westerse siening (oningelig ten opsigte van Suid-Afrika). Hy hou daarvan om met maatjies te praat wat sy sienings deel en die ander is volgens hom op ‘n dwaalspoor. Dieselfde geld vir jou; jou kommentaar onderaan my brief kom neer op “ons speel nie met jou nie want ons hou van Ford en jy hou van Chev.” Jy het net groter woorde gebruik maar, omdat jy slegs opinies gelug het (stellings sonder stawing) is dit in wese dieselfde.

Jan Rap

  • 9

Kommentaar

  • Jan Rap, al wat ek by te voeg het, is dat jy 'n soort hedendaagse omgekeerde anachronisme is. Iemand wat met sy voete in die hede staan, maar met sy kop en denke in die verlede. Hoe weet ek dit? Wel jy sê self so.

     Ek haal jou aan: "En hoe is hierdie ander (Swart, Bruin en Indiër) Suid-Afrikaanse burgers onderdruk? Weer eens, dit kan wees maar staaf dit anders is dit maar bloot ‘n opinie (moet net nie met Dirk se absurde stelling kom dat hulle nie in hulle geboorteland kon stem nie; dit hou geen water nie)."

     Niemand hoef dit te staaf dat miljoene "ander" SA burgers nie kon stem voor 1994 nie. Of kon woon waar hulle wou nie, of kon werk waar hulle wou nie, of kon studeer waar hulle wou nie, of seks kon hê soos hulle wou nie, of kon trou met wie hulle wou nie, of kon swem waar dit vir hulle lekker sou wees nie, en 'n dompas moes dra nie...Die lys kan baie lank raak. Wat wil jy "gestaaf" hê? Hoe sê die Bybel, selfs die klippe roep dit uit. Ly jy aan geheueverlies?

     Nee, als was mos goed en reg, want daar was 'n simfonie-orkes...

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Jan,

    Dankie vir jou brief. Die toon en trant daarvan getuig van redelikheid en beleefdheid, en verdien dus 'n antwoord.  Die bewyse vir my stellings waarvoor jy vra is voor die hand liggend en sal gevind word in die argiewe van LitNet. Gaan die jare sedert 2006 na, en lees self wat jy kwytgeraak het. My gevolgtrekkings oor jou wêreldsiening is alleen op jou eie skrywes gebasseer, en verder het ek niks om daarby te voeg nie.

    Wat jy persoonlik betref het jy die laaste jare meer van 'n "gentleman" geword, en jy kan deesdae debatteeer sonder om sulke uitdrukkings soos "'n skande vir die Afrikaanse volk" te gebruik. So het jy my jare gelede geëtiketteer nadat ek 'n artkel geskryf het oor die Bantustanbeleid wat ek beskryf het as 'n beleid van neo-kolonialisme. Vandag sal niemand 'n probleem hê met hierdie stelling nie.

    Dit sal  vir jou siel goed wees om jou te berus by die verloop van sake wat jy persoonlik tog nie kan beïnvloed nie. Die Verwoerdiaanse verlede  was dalk die goue periode in die geskiedenis van die Afrikanervolk volgens jou maar vir 80 % van  Suid-Afrikaners was dit 'n aangaande nagmêrrie. Nou is dit die beurt van laasgenoemde om hulle geluk as bes te skep.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • George Bekker

    Jan jy wou vir Dirk en Pieter bykom en dit is jou goeie reg. My ongevraagde raad is dat jy volgende keer twee aparte briewe daarvan maak. Wat vir my egter onverstaanbaar is, is waar kom George in die prentjie?

    Terwyl jy my bysleep reageer ek teen my eie beterwete. Om met jou en Kobus te argumenteer is 'n hopelose saak en enige man of vrou wat dit doen moet sy kop laat lees. Nogtans, die versoeking is daar om 'n klein (onverstandige) bydraetjie van my kant af te lewer. As jy eerlik wil wees (dink nie jy kan nie!) sal jy moet erken dat ons nou verder van die afgrond is as in 1994. Jou onbuigsaamheid kon 'n burgeroorlog veroorsaak het. Dit beteken nie dat ek F W en kie se kant kies nie. Hulle het geen keuse gehad as om te onderhandel nie. Hulle pap knieë en slap rue is egter nie te verskoon nie. Toe die blankes nog 15% van die bevolking was, was ons nog in staat om te regeer maar met 'n persentasie van 10% of minder was dit nie langer moontlik nie. Face dit! (Vergeef my moedswilligheid. Jy weet ek is ook gesteld op taalgebruik.)

    Oor die geklitste eiers is Dirk reg. Vir apartheid om te werk sou geweldige opofferings van die wittes geverg het. In terme van groepe was veral die ekonomie geklitste eiers. Groot opofferings is nooit ernstig oorweeg nie. Toe ons sien hier kom groot probleme kon 'n wit tuisland gestig gewees het (Miskien vir so 20-25% van die totale wittes). Die laaste man wat dit kon doen was John Vorster. Ten spyte van oorweldigende steun en sy sterk posisie het hy gedurende sy bewindstydperk min inisiatief aan die dag gelê. Jy kan meer hieroor lees in Herman Giliomee se boek Die Laaste Afrikanerleiers. Die buiteblad vertoon oom John se agterkant. Om jou verder aan te moedig om die boek te lees wil ek byvoeg dat ek die boek sterk by Wouter aanbeveel het en dat hy dit ook aangeskaf het. Wouter swyg oor die boek en dit mag jou dalk meer geval.

    In verband met Pieter Redelinghuys en die demokrasie moet kennis geneem word dat ons voorouers aan die voorpunt van demokrasie was. Hulle was bewus van die Franse revolusie en die Amerikaanse vryheidstryd en het met hulle opstande in Swellendam en Graaff-Reinet die jongste demokratiese idees hier in Afrika probeer toepas en meer sukses daarmee in die Vrystaat behaal. Ongelukkig wou die Transvalers (Jan se voorgeslagte?) nie die Vrystaat se mooi voorbeeld navolg nie en moes met 'n outoritêre president genoë neem. Dat die Vrystaters se demokasie net vir wittes voorsiening gemaak het is te verstane want daar was aanvanklik geen geletterde swartmense nie en hulle is in elk geval deur hulle stamhoofde geregeer.

    George Bekker

  • Hello George B et al, 

     
    Ek kan nie so uit die vuis uit onthou nie, maar ek het al in kommentaar hier, uit die boek geput. 
     
    Die mees onlangse voorbeeld was in die gesprek oor Edmund Burke en hoe Van Zyl Slabbert gesien moet word en het ek uit die hoofstuk in Herman Giliomee se boek 'n beskrywing gekry oor hoe moreel walglik  Van Zyl Slabbert, apartheid gevind het. 
     
    Maar tog dink Henn, Van Zyl Slabbert en Treurnicht kan versoen word. 
     
    Die probleem met, J*****, of dan "Jan Rap", en het Dirk dit weer uitgelig, in die kommentaar hier, en gebruik ek my term, die regse sluipers, kan nie in goeie trou, volledigheid en nuanse die werklikheid ondersoek nie, wat nogal 'n probleem is, aangesien dit beteken 'n boek soos die van Herman Giliomee sal nooit deur  J*****, gelees word nie, net soos enige kritiek oor die verlede doodgewoon deur 'n "Jan Rap" ignoreer sal word. 
     
    Heel ironies, gegewe die feit dat hierdie "Jan Rap" hom as "redelik" voorhou en kwansuis sou oop wees vir oortuiging. 
     
    Hierdie "Jan Rap" is dieselfde persoon wat die feit dat daar 'n groep mense is wat nie evolusie wil aanvaar nie, voor die deur van die wetenskap probeer plaas, hoekom kan biologie en wetenskap die mense nie oortuig nie, onbewus daarvan dat die mens is nie passief in die ontvang van kennis nie en sal eerder inligting verwerp as om daarmee te handel. 
     
    Ongelukkig is Kobus De Klerk net so 'n goeie voorbeeld daarvan, wat alle kennis buite die Bybel verwerp. 
     
    Die nadeel daarvan, is dat 'n denkende persoon, sal die probleme soos dit vandag in die samelewing erken en kritiek lewer daarop, maar 'n "Jan Rap" is nie in staat om die verlede krities in oorweging te bring nie en gebruik die huidige om die verlede te regverdig. 
     
    'n Onredelikheid wat dit vir die redelike en liberale persoon onmoontlik maak om 'n "Jan Rap" in gesprek te staan.  
     
    Maar "Die Laaste Afrikanerleiers", beveel ek sterk aan, het dit in Desember 2013 gelees, saam met Max du Preez se "A Rumour of Spring", wat my geneem het na "South Africa Pushed to the Limit: The Political Economy of Change" van Hein Marais en is daar hierdie kort bespreking daaroor in "Foreign Affairs", http://tinyurl.com/ps4tcwg, en moet dit saam gelees word met "The Zuma Years" van Richard Calland en het die Financial Mail, http://tinyurl.com/q43e6hc 'n kort bespreking daaroor.
     
    Die boeke wat ek dus aanbeveel vir 'n bestekopname oor Suid-Afrika en is dit myle beter as enige treurmare wat "Jan Rap" hier skryf, al belowe "Jan Rap" dat sy weergawe van die waarheid die leser sal bevry. 
     
    Net soos "Jan Rap", nie 'n idee het oor die debat wat daar huidiglik is oor die stand van demokrasie en beveel ek vir die lesers hier die volgende aan:
     
    Die Economist het die volgende opstel daaroor: 
     
    http://tinyurl.com/mhsl5pm, met die volgende inleiding: (gratis beskikbaar)
     
    "Democracy was the most successful political idea of the 20th century. Why has it run into trouble, and what can be done to revive it?"
     
    The Nation Magazine, Amerikaanse tydskrif het die volgende opstel daaroor en kan hier gevind word, http://tinyurl.com/mw9latn en is die inleiding soos volg: (gratis beskikbaar)
     
    "What Was Democracy? - Democracy was once a comforting fiction. Has it become an uninhabitable one?". 
     
    Die opstel wat dit begin het, of my aandag daarop gevestig het, kom uit die Financial Times Magazine van 25 Oktober 2013 en kan hier gelees word. http://tinyurl.com/n5w6gdj en die volgende vraag wat gestel word:
     
     "Are western democracies losing the ability to learn from their own mistakes?"
     
    Hierdie opstelle geskied grootliks weens die volgende drie boeke wat poog om 'n bestekopname van demokrasie te formuleer. 
     
    "The Confidence Trap: A History of Democracy in Crisis from World War I to the Present, by David Runciman, Princeton, Nation of Devils: Democratic Leadership and the Problem of Obedience, by Stein Ringen, Yale en The Last Vote: The Threats to Western Democracy, by Philip Coggan,Allen Lane". 
     
    Die New York Review of Books het John Gray wat David Runciman bespreek, http://www.nybooks.com/articles/archives/2014/mar/20/dangers-of-democracy/, kan nie beter as dit nie, maar is agter 'n betaalmuur.
     
    Ook kan Fareed Zakaria se opstel in "Foreign Affairs", deel van "Foreign Affairs" se "Best of Print in 2013", hier gelees word, http://www.foreignaffairs.com/articles/138474/fareed-zakaria/can-america-be-fixed, wat die vraag vra, "Can America Be Fixed? The New Crisis of Democracy". 
     
    Suid-Afrika se verlede en hede wat moet ondersoek word en "Jan Rap" is nie die gids daarvoor nie, net soos die stand van Demokrasie moet ondersoek word en die vraagstukke inherent tot dit. 
     
    Die naweek van 6 Junie 2014 het die Wall Street Journal 'n opstel van Francis Fukuyama publiseer met die volgende inleiding, 
     
    "Twenty-five years after Tiananmen Square and the Berlin Wall's fall, liberal democracy still has no real competitors": 
     
    (Ek is nie seker of dit gratis beskikbaar is nie - aangesien ek ingeskryf is op die Wall Street Journal)"
     
     
    "The problem in today's world isn't just that authoritarian powers are on the move but that many existing democracies aren't doing well either. Take Thailand, whose frayed political fabric gave way last month to a military coup, or Bangladesh, whose system remains in thrall to two corrupt political machines. Many countries that seemed to have made successful democratic transitions—Turkey, Sri Lanka, Nicaragua—have been backsliding into authoritarian practices. Others, including recent additions to the European Union like Romania and Bulgaria, are still plagued by corruption".No one living in an established democracy should be complacent about its survival. 
     
    But despite the short-term ebb and flow of world politics, the power of the democratic ideal remains immense. We see it in the mass protests that continue to erupt unexpectedly from Tunis to Kiev to Istanbul, where ordinary people demand governments that recognize their equal dignity as human beings. We also see it in the millions of poor people desperate to move each year from places like Guatemala City or Karachi to Los Angeles or London. Even as we raise questions about how soon everyone will get there, we should have no doubt as to what kind of society lies at the end of History".
     
    Hierdie bevestig dan die banaliteit van 'n "Jan Rap", dieselfde ou brief oor en oor, sonder enige goeie trou, volledigheid en nuanse. 
     
    Gaan dus verby, wat gaan die leser by "Jan Rap" leer? 
     
    Niks nie. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Beste Jan en Ander

    Om die verlede te ontleed is so goed as om 'n lykskouing te doen.Apartheid is dood en dit is slegs die ANC en sy trawante wat 'n dooie perd, wie se verbleikte bene, oor Suid Afrika se velde verstrooid lê, op te saal en verder te ry, omdat hul na my mening niks verder het om aan te bied, as verskoning vir hul mislukkings,wat teen rasse skrede ophoop.

    Ek was vanaf 1960 tot 1974 direk betrokke by die destydse departement Bantoesake en daarna Nie-blankesake by 'n Oos Randse Munisipaliteit. Daarvan kan jy aflei dat ek reg in die middel van die Apartheidsbeleid gestaan het en ook 'n aktiewe deelnemer was om dit te laat werk.

    Daar was na my beskeie mening drie faktore wat dit laat misluk het:

    1.Wit immigrasie.

    Die NP regering van destyds het 'n demper op wit immigrasiebeleid geplaas het, vanweë die vrees dat veral wittes uit die Oos-blok lande nadelig vir die Afrikaner en sy kultuur sou wees as daar grootskaalse
    instroming was om die plaaslike wit bevolking te versterk.Veral na die WO2 was daar 'n sterk  instroming van veral stamlande, maar soos die politieke situasie versleg en buitelandse druk vermeerder het, het dit  opgedroog.Na 1994 het daar 'n uitvloei van wit kundigheid plaasgevind en na beraming is daar ongeveer een miljoen wat hul elders in die wêreld gevestig het.

    Dit moes tog vir almal duidelik gewees het dat in 'n een-man-een-stem demokrasie die wittes altyd die verloorders sou wees.

    2.Swart bevolkingsontploffing.

      Dit was duidelik dat veral verbeterde landboumetodes en gesondheiddienste  tot die groter produksie van stapelvoedsel  veral mielies en verbeterde gesondheid onder die veral swart bevolking sou lei en het die
    swart bevolking dan ook 'n onbeheerbare bevolkingsontploffing beleef, terwyl die wit bevolking in verhouding daarmee feitlik gestagneer het.

    3.Buitelandse druk en liberale owerhede se onwilligheid om swart plaaslike bevolking se behuisingsprobleem aan te spreek.

    Die ANC in ballingskap het sterk druk op regerings wat hul gehuisves het begin plaas om die NP-regering veral deur sanksies tot onderhandelinge te dwing om die sg. onmenslike toestande in Suid -frika te beëindig.
    Ek kan daar persoonlik van getuig dat daar altyd in die toergroepe wat ek bv. deur Daveyton vergesel het, joernaliste was wat die toergroep verlaat het en veral die swak plekke  afgeneem het.

    So het ek by geleentheid 'n Duitse joernalis betrap wat besig was om 'n swart meisie af te neem, wat op een of ander wyse deur 'n heining gekruip het wat vrye toegang tot 'n oop stormwater verhinder het.
    Toe die foto later gepubliseer is, is dit gebruik om die haglike toestande waaronder die meisie en haar mense geleef het, oorsee te illustreer.

    Daar is niks wat  gedoen kon word om die  skade wat berokken is aan Suid-Afrika se beeld te herstel nie. Niemand het jou geglo nie.

    Daar was talle plaaslike owerhede wat bitter min gedoen het om die lot van plaaslike inwomers te verbeter. Die NP-regering het miljoene Rande beskikbaar gestel teen belaglike rentekoerse vir die ontwikkeling van swart woongebiede.Min het hiervan gebruik gemaak. Daar het dus veral aan die Rand toe dit duidelik is dat die NP-regering gaan swig onder al die druk, groot instroming veral vanaf die platteland plaasgevind het, wat tot die ontstaan van talle krotbuurte en toename in misdaad gelei het.

    Die beskikbare infrastrukture wat eenvoudig nie in staat  om groter bevolking te hanteer nie .So het die beskikbare infrastruktuur op talle plekke in duie gestort en tot gesondheidprobleme gelei.

    'n Kat in nood doen snaakse spronge en so het NP-regering spronge gemaak wat selfs sy stoerste ondersteuner  twee keer moes laat dink het.

    Dit is egter die verlede en die vraag is nou? Wat is die pad vorentoe?

  • George Bekker

    Beste Wouter, dis lekker om weer met jou te kommunikeer, al is dit onderaan Jan Rap se brief! Die hoofstuk oor Van Zyl Slabbert is die kortste in Giliomee se boek, maar is hoogs insiggewend. Giliomee gee ook aansienlike inligting wat meer konserwatiewe Afrikaners van sal hou en dit is die rede waarom ek so graag wil hê dat Jan Rap ook die boek lees. Daar is mense wat niks goeds van Verwoerd wil hoor nie, maar dit was deur sy ywer dat swart geletterdheid 'n groot hupstoot gekry het. Verwoerd was van mening dat daar 'n paar dekades na hom ernstig tussen wit en swart onderhandel sal word en dat dit dan met akademies onderlegte swartmense gedoen moet word. Dat hierdie mense totaal vyandig sou wees juis agv hulle verblyf aan universiteite het hy nie voorsien nie (As iemand nou dink ek praat nonsens kyk in die boek na 'n gesprek wat Verwoerd met sy skoonseun Boshoff gehad het).

    Wouter jou leeslys laat my mond oophang. Weet nie hoe kry jy dit reg nie – 'n dag bestaan tog net uit 24 uur en dan is daar nog werk ook. Asof jou dag nog nie vol genoeg is nie wil ek 'n voorstel aan jou maak: Aan die begin van elke maand verskaf jy hier op SêNet aan ons 'n lys van die belangrikste bronne wat jy die afgelope maand geraadpleeg het. Dit moet eerstens 'n praktiese leeslys wees wat insigte oor alles en nog wat sal verdiep. Die klem sal dus moet wees op dit wat op die internet beskikbaar is. Soms kan jy dit met 'n paar notas aanvul. Die versoeking sal daar wees om oor sekere sake uit te brei maar dit sal beperk moet word of as 'n afsonderlike artikel geplaas moet word. Ek dink só 'n verslag kan groot belangstelling uitlok.

    Beste Jan, ek is nie kwaad vir jou nie en ook nie in Wouter se kamp nie (my klein mishopie is iewers tussen joune en Wouter s'n! Verbeel ek my of is 'n mishopie  - ten spyte van die ruik  -  nie ietsie beter as 'n kamp nie). Al kry ek nie kommissie van Giliomee nie (hy is 'n internasionaal gerekende historikus) wil ek nog iets byvoeg. Ons as koerantlesers het die gevoel gehad dat Verwoerd en PW die groot skurke was (hulle het beslis die meeste aandag getrek) maar Giliomee wys duidelik dat hierdie twee manne die meeste gedoen het om swartmense te laat vorder. Oom John was eintlik die groot teleurstelling – 'n man in 'n sterk posisie wat nie (genoeg) leiding gegee het nie. Miskien moet FW saam met Vorster geklassifiseer word. Voor ek ook in veralgemenings verval, moet almal wat kan, liewer die boek lees. Om te dink dat Van Zyl Slabbert en Treurnicht sinvolle gesprek kon voer is laf. A P Treurnicht was 'n wêreldvreemde predikant en 16 Junie 1976 kan direk aan hom en John Vorster toegeskryf word. Vorster omdat hy vir AP vrye teuels gegee het, maar die groot skurk was Treurnicht. Ek onthou Junie 1976 nog goed. Terwyl swartmense erg sterk gevoel het oor hulle kinders se opvoeding het AP besluit dat swart kinders helfte van hulle vakke in Afrikaans moet neem, terwyl daar weinig swart onderwysers was wat hiertoe in staat was. Voor daardie datum het ek vir weke met groot kommer sake gade geslaan. Die ontploffing wat gevolg het was te verwagte, dis net die omvang daarvan wat 'n mens nie voorsien het nie.

    George B

  • Net 'n nota, ek toets gewoonlik met Chrome se "incognito mode" of die skakels, 'n persoon wat nie ingeskryf is op die publikasies deur my gelys sal toelaat, aangesien ek aangeteken bly met al die publikasies hier bo gelys in die gewone Chrome formaat. 

     
    Dit was net die New York Review of Books wat hierdie spesifieke artikel geblok het, wat jammer is, aangesien John Gray 'n baie goeie kritikus is. Meeste publikasies laat tussen ses en tien artikels 'n maand toe, vir persone wat nie ingeskryf is en gaan die Wall Street Journal deur, aangesien ek dit nou getoets het en Francis Fukuyama altyd die moeite werd is om te lees. Dankie aan die Wall Street Journal wat dit weet. 
     
  • Hello George, 

     
    Om te lees vir 'n doel, om te deel, ek sal regtig kyk of ek dit kan doen. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Beste George B

    Jou aanname dat Treurnicht die vark in die verhaal was is verkeerd. M C Botha was die minister van Bantoeonderwys en Treurnicht sy adjunk.

    Dit is M C Botha wat besluit het om Verwoerd se 50-50 beleid ten opsigte van taal te laat herlewe.Die beleid is geïgnoreer vir 20 jaar  deur mense in die departement,totdat M C Botha besluit het om dit weer in te stel. Glo nie Treurnicht het as adjunk 'n ander keuse gehad as om sy Minister te ondersteun.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top