Repliek op Trienie se skrywe oor Afrikanerskaamte

  • 7

Trienie jou skrywe, Skaamtegevoel as rigtingwyser (2 Sep), bevat 'n paar goed wat my hinder, om dit nou maar sagkens te stel:

Wat bedoel jy as jy sê dat "...die Afrikaner...nie meer geskok word...of aanstoot neem nie..."? Ek leef elke dag reg in die middel van Afrikaners, Engelse, Swart, Bruin, gelowiges en ongelowiges, ja alle soorte mense. En die verre oorgrote meerderheid van hierdie mense waarmee ek daagliks skouers skuur leef lewens van hoogstaande morele en etiese standaarde. En die Afrikaners binne dié groep is nie anders as die res wat dit betref nie.

Ek het jou brief herlees en toe sien ek die ding raak: Jy stel die "sonde" van voorhuwelikse seks gelyk aan die immoraliteit van korrupsie en regsondermyning. En dít is waar my probleem lê met jou veralgemenings oor die Afrikaner en sonde en deelname aan pornografie en onsedelikheid en wat nog al.

Jy sien, Trienie, mense soos jy en eendersdenkendes het in die verlede die morele kompas vir die Afrikaner gerig en almal het soos skape agterna gedraf sonder om vrae te vra. Maar, mettertyd soos wat die wêreld kleiner geword het, en die Afrikaner se blootstelling aan ander waarhede toegeneem het, het hy/sy vir homself/haarself begin dink en tot ander konklusies gekom oor wat moreel reg en verkeerd is.

Hy/sy het tot die besef gekom dat ons nie elke Sondag klokslag om 10.00 in die kerk hoef te sit nie, en dat swem of gholf speel op Sondag nie van jou ‘n sondaar maak nie. Net so het baie Afrikaners ander insigte oor seks gekry en jou gelykstelling van voorhuwelikse seks met wetsondermyning is (in 2014) só vergesog dat ‘n mens by die lees daarvan net jou kop skud.

Dieselfde geld vir die stelling dat “… die Afrikaner het/wil vergeet dat daar ‘n koste verbonde is aan oneerlikheid, onsedelikheid en oortredinge …” Eintlik wil ek vir jou vra, soos van ouds, hoeveel onse is daar in jou pond? Want wraggies, die Afrikaners wat ek ken is eerlike, hardwerkende, sedelike mense wat wetsgehoorsaam lewe.

Hoekom kry ek die gevoel dat jy nie kan aanvaar dat ons nou in ‘n sekulêre samelewing leef nie. Jou verwysing na die “… staat … wat alles goedgekeur het…” is ‘n hunkering terug na die goeie ou dae toe die destydse NP mos in sy kollektiewe wysheid vir ons almal besluit het wat goed en sleg, reg en verkeerd is. Wat ons mag lees, waar en wanneer ons mag swem, dat bikini dra by die swembad sonde is, ens, ens. En dan sê jy niks oor dit wat die Afrikaner toe, nogal in die naam van godsdiens, aan miljoene mense gedoen het met Apartheid nie. Mense van vlees en bloed soos ek en jy wat ontwortel, verneder en as tweedeklas burgers behandel is deur die Afrikaners van destyds, en dit nogal met die bybel onder die arm.

Goddank, die Afrikaner het tot sy/haar kollektiewe sinne gekom, Apartheid verwerp, jammer gesê en die nuwe oop samelewing omarm. Afrikaners help om die land, met moeilikheid en al staande te hou. En ons lewe nou buite die benoudheid van weleer toe bykans alles wat lekker was as “sonde” voorgehou is. Om te sê dat ons “… laf geword het en geen skaamte of gewete het nie ...” is net nie waar nie, om dit nou maar baie diplomaties te stel.

Dirk Rigter

  • 7

Kommentaar

  • Dit is ontstellend vreemd dat moord en kannibalisme al vir eeue as heilig en  nie as sonde beskou word nie.

  • CorneliusHenn

    CM, natuurlik verwys jy na die gruwelike moorde op plase en die muti maak van menslike organe - so algemeen in Dirk Rigter se kwansuis morele en oop samelewing aan Mzansi vandag! ... nes jy onstel dit my ook dat apartheid so maklik as sonde voorgestel kan word terwyl die gru en verval in Dirk Rigter se nuwe Suid-Afrika oral as "sondeloos" voorgestel word!

  • Pieter Redelinghuys

    Beste CM,

    Nou dwing jy my regtig om repliek te lewer op daardie "kannibalisme" uitlating van jou, 'n rite wat  elke Sondag in die Kerke gevolg word. Blameer seker vir Mnr. Voltaire wat die gewaarwording gemaak het, en waarvoor hy vir sy lewe moes vlug, hoewel volgens "The Oxford  Illustrated History of Christianity"  was hierdie gebruik reeds as sulks tipeer en gekritiseer deur sekere christen-gemeenskappe tydens die ontwikkeling van die vroeë Kerk, gedurende die tweede-eeu AD.

    Soos ek seker ook tot vervelens toe, oor-en-oor, op hierdie webblad uitgewys het, word geweld en doodmaak by verre minder gevaarlik as seks geag. Hierdie "mindset" kom natuurlik van ernstige studeer van die Bybel, die grondslag van Westerse moraliteit. Ag, hoe koddig om te dink dat ietsie wat soveel genot en plesier in die lewe kan verskaf, en nogal verniet is daarby, so gedemoniseer kon word deur die skrywers van daardie "heilige" boek, ou mans met vergrote prostaatkliere, en impotent daarby. Seker maar 'n verterende jaloesie vir daardie jong bokke wat liewer oorlog toe gestuur moet word as om hulle talente te geniet. Vreeslik om te dink wat vrees aan die mens doen -  dat hulle nie die moed het om die bul aan die horings te vat nie, en 'n bietjie te eksperimenteer nie. Watter Engelsman het nou gesê dat "the unexplored world is not worth living".

    Wonderlik om te dink dat daar ook Afrikaners nou vandag is wat seks nie meer as sonde beskou nie. Dink net dat die lewe gaan verby, en as jy weer kyk, is jy reeds oud, en al die kanse is vir ewig verby.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Beste Pieter Redelinghuys,

    Dit word verkondig dat doodslag en kannibalisme heilig is, maar as jy dinge so uitspel, kwyl die predikers!

    Baie dankie. Ek is met jou. Verfrissend om van jou te hoor.

    Beste groete

    CM

     

     

     

  • CorneliusHenn

    CM, waar het jy na die Bybel verwys? Meen jy alles wat jy tik  vanselfsprekend jou hatigheid jeens gelowiges uitvloek - nes Pieter Redelinhuys en Dirk Rigter?  Wel, leer nou iets; jou stelling hierbo is veel eerder van toepassing op onse nuwe Suid-Afrika! Die res is gewoon anderhaters se onthutste interpretasie.

  • CorneliusHenn

    Elders tik die hatige Pieter Redelinghuys die volgende:    

    “Dalk kon jy (François Williams) ook noem dat waar Wit Anglo-Saksiese Protestante hulle in die wêreld gevestig het soos in Kanada, Australië, Nieu-Zeeland, en die grondwerk neergelê het vir die ekonomie, demokrasie, die "rule of law", en menseregte, hierdie lande floreer het, en is vandag die beste lande in die wêreld om in te woon.”  

    Opmerklik hoe dieselfde Pieter Redelinghuys in sy desperate stryd om Godsdiens te probeer ondermyn hierbo dieselfde  “Wit Anglo-Saksiese Protestante” se harte minag.  

    Misantrope se nydigheid het niks met geloof en ongeloof te doen nie – haat sal hulle haat - ongeag die bron wat hulle daarvoor misbruik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top