Reaksie op Kobus de Klerk se skrywe oor homoseksuele mense

  • 2

Kobus De Klerk se prul van 15 Desember (Die kwessie van homoseksualiteit) is so verstar dat dit eintlik geïgnoreer behoort te word. Sy uiterste beledigende skrywe oor homoseksuele persone is op sulke onwetenskaplikhede gegrond, dat ‘n mens nie anders kan as om dit tog kortliks uit te wys nie. Die nonsens wat hy kwytraak verdien in elk geval geen lang relaas nie.

De Klerk se inleidende paragraaf lui soos volg:

“… Die kwessie van homoseksualiteit en homoseksualisme kom van tyd tot tyd weer en weer ter sprake, op sigself 'n aanduiding dat dit nie as normaal beskou word in die samelewing nie – dit geniet dieselfde vlak (nie soort) aandag as ander abnormale sosiale fenomene soos byvoorbeeld mishandeling van vroue en kinders, wat ook 'n fenomeen is vir sy eiesoortige redes waarom dit sosiaal onaanvaarbaar is en as sulks bespreek en ontleed word…”

Enkele opmerkings hieroor:

Eerstens, enige persoon wat beweer dat kwessies of debatte wat van tyd tot tyd weer en weer ter sprake kom, ‘n aanduiding van abnormaliteit is, is self die kluts heeltemal kwyt. Elke dag is die nuusmedia vol van sulke kwessies wat allermins as “abnormaal” beskou word, goed soos aardverwarming, armoede, natuurbewaring, ebola, HIV, geneties-gemodifiseerde plantmateriaal, ens. Die lys kan baie lank raak. Is die goed abnormaal? My genade, dis alledaags, dis goed wat van tyd tot tyd “ter sprake” kom en deur normale mense bespreek word. Geen abnormaliteite nie.
Tweedens, enige persoon wat gays / lesbiërs gelykstel aan die mishandeling van vroue en kinders, het sigself iewers ‘n reuse skroef los. Om te beweer dat gay / lesbiër kwessies “…dieselfde vlak …aandag geniet… as ander abnormale sosiale fenomene… soos die mishandeling van vroue en kinders…” is totaal en al absurd.

Derdens: Hoekom probeer De Klerk só geleerd klink? Fenomeen?? My genade tog, hoekom nie sommer van “verskynsel” of “kwessie”, of “idee” of van “praktyk” praat nie? O nee, geleerd moet daar geklink word, of iets in dier voege.

De Klerk raak ook die volgende kwyt:

“…Kinders is oor die algemeen nie pretensieus nie en is véél minder geneig tot inhibisies as jongmense of volwassenes. Tog sal hulle dikwels 'n kind wat homoseksuele gedrag vertoon, spot en selfs afknou…”

Nou toe nou. Watter statistiek het De Klerk om hierdie stelling te bewys? Hoe sê die kinders waarvan hy so geredelik praat? Absolute tjol. Die kinders van vandag is (neem kennis Kobus de Klerk!) ver verby sy agterlike stereotipering van hulle skoolmaats, hulle is modern en omarm almal wat deel is van die samelewing, ongeag ras of taal of seksuele oriëntasie.
Waar was De Klerk die afgelope tyd? By Noag in die Ark, of by Jona in die walvis. Dalk by Bileam se pratende donkie of by Lot se vrou wat ‘n soutpilaar geword het, dalk by Daniël in die leeukuil? Wel, hy was definitief nie naby die moderne tienderjariges van 2014 nie.

Nog ‘n ding: Die “woord” leer ons bitter min van seksuele oriëntasie. Eintlik leer die “woord” ons bitter min van seks in die algemeen. Wat wel seker is, is dat die “woord” ‘n groot deel van sy volgelinge se seksuele lewe ordentlik opgedonder het met skuldgevoelens en gewetenswroeging en wat nog.

  • 2

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Dirkie,

    Jy wil my so graag ignoreer oor die sogenaamde 'prul' wat ek weergee? Maar jy kan nie, al wil jy hoe graag, omdat dit nie prul is nie, en jy weet dit ...

    En so neem dit jou niks minder as omtrent 527 woorde om my te probeer 'ignoreer' nie ... en jy kry dit toe wrintie weer 'n keer nie reg nie ...

    Despo Dirk. Lekker naam vir jou.

  • Ek sien Panda het, nav Thomas se skitterende verwysing na Russell se segswyse oor "alwyses" soos jy, jou tot "kabouter" herdoop. Paslik vir iemand wat, in plaas daarvan om op my skrywe ten minste te probeer om teenargumente op die tafel te plaas, eenkant in die hoekie te gaan staan en wê-la-kapêla tong uit te steek.

     
    En toe het jy wragtig die woorde ook getel! Of "omtrent" getel. Net soos jou argumente oor godsdiens en homoseksualisme: So omtrenterig. Geen stawende feite nie.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top