Oom Dieks en sy “verlore skapie”

  • 1

Oom Dieks was die Volle Evangelie Kerk se pastoor op Leeudoringstad in die ou Wes-Transvaal. Hy was 'n lang, statige man, wat sy amp met waardigheid gedra het. Al het die gereformeerdes gemaak asof hulle nou nie veel erg het aan die pinksterman nie, het hy tog baie respek by hulle almal afgedwing.

Die Vollies het daardie jare nog nie die fondse gehad vir 'n kerkgebou nie. Die dorpsraad het vir hulle 'n erf gegee, en oom Dieks het daar 'n groot tent opgeslaan. Tydens Sondae se dienste kon sy mense so lekker sing! Ja, so lekker het dit gegaan, dat die gereformeerdes daar onder in die straat kopskuddend na mekaar gekyk het.

Die gereformeerde kinders het egter die saak vanuit 'n ander hoek beskou.

Die pinkster kinders kon dan lekker op die grond sit en in die sand speel. Wanneer hulle moes sing, kon hulle opspring en lekker hande klap. En nie een het eers skoene gedra nie!

Die Du Plessiekies was van die jaloerse gereformeerde kinders wat die pinkster kinders so op 'n afstand dopgehou het. Hulle het Oom Dieks goed geken, want hy het net sowat drie huise van hulle af gebly. Elke dag het hulle van die skool af by sy huis verbyloop.

Spot was Oom Dieks se klein foksbrakkie, en hy het glad niks van enige Du Plessiekie gehou nie. Elke middag het een van hulle 'n stok of iets in die hand gehad wat hulle teen Oom Dieks se heining gedruk het terwyl hulle verbyloop.

Trrrrrrrrrrr! het die stok geraas, terwyl Spot waansinnig geraak het van woede agter sy heining. Maar wie bang nou 'n blaffende brakkie agter 'n hoë staalheining? Wanneer Oom Dieks of sy vrou die gordyn weggetrek het om te sien wat aangaan, hardloop die Du Plessiekies dat hulle klein word.

Dit was dus nie sonder rede dat Spot elke Du Plessiekie met 'n passie gehaat het nie!

Een jaar met Kerstyd het Oom Dieks pamflette uitgedeel waarin hy die hele Leeudoringstad uitgenooi het na die Vollies se Kerskonsert. 'n Konsert in die Vollies se tent! Dit was darem net te onweerstaanbaar vir Leeudoringstad se gereformeerde kinders. Na 'n paar kort kerkraadvergaderings het die onderskeie kerkrade besluit dat Oom Dieks se konsert seker skadeloos genoeg sal wees dat gereformeerdes dit seker ook mag bywoon.

So het die Du Plessiekies in die tent op die grond by Pa en Ma Du Plessis se voete geland. Die tent was stampvol en warm. Almal was opgewonde om die konsert te sien.

Oom Dieks was die storieverteller, en het die rol van die Goeie Herder gespeel. Hy het 'n lang gewaad aangehad. In sy regterhand was 'n lang staf met 'n krom punt. Styf vasgeknyp onder sy linkerarm was 'n skaaplam. Of so het dit vir almal gelyk.

Eintlik was die lam ou Spot met 'n wit, gebreide jassie aan wat Oom Dieks se beter helfte een winter vir die stomme dier gemaak het. Spot moes die rol van die “verlore skapie” vertolk.

Oom Dieks het sulke lang, rustige tree in die gangetjie af gegee, terwyl sy statige stem deur die tent gedraal het. Hy het die verhaal vertel van die herder wat sy verlore skapie gevind het, terwyl die ander skape veilig gewag het vir sy terugkoms.

Onder die warm, gebreide jassie het 'n paar geïrriteerde swart ogies uitgeloer. Wat hier aangaan het hom glad nie aangestaan nie. Nadat hy 'n paar keer in die lug gesnuif het, het 'n bekendheid van êrens af hom begin pla. Sy wakker ogies het rondgedans ... totdat hy 'n pes van 'n Du Plessiekie gewaar! Oop en bloot sonder 'n heining wat hom kan keer!!!

Oom Dieks kon sy wriemelende “verlore skapie” nie meer vashou nie. Skielik was hy gelaai met die energie van 'n honger wolf! Nadat hy op die grond geland het, het hy in 'n stofwolk weggespring. Al hygend en blaffend op pad na die eerste Du Plessiekie wat nog sukkel om op te kom.

Met gille in sy ore, 'n sout- en 'n bloedsmaak in sy skaapbek, raak Spot weer van voor af waansinnig. Die Du Plessiekies het in alle windrigtings begin hol, en die konsertgangers daarmee saam.

Dit was die einde van die Vollies se konsert. Net die Du Plessiekies en Oom Dieks het regtig geweet waaroor die bohaai gegaan het ... en die Herder moes weer sy “verlore skapie” gaan soek.

Sandvelder

  • 1

Kommentaar

  • Sandvelder. Oulike storie. Mag ek vra - hoeveel van jou storie is waar of fiksie? Ek het lekker gelag. My pa het ook so 'n tent gehad voor daar kerk gebou kon word. Oom Lee was hierdie statige, perfeksionistiese oom wat die kitaar in die kerk kon tokkel soos niemand anders. Sy klere en das was altyd perfek gestryk en niks uit plek. Die verhoog was net 'n groot aanmekaar getimmerde hout-boks. Eendag het Oom Lee te veel na agter beweeg bo-op hierdie verhoog. Skielik gil die mense - want al wat van oom Lee te siene was, was die netjiese skoensole, styf en netjies teen mekaar, wat agter die verhoog tussen seil en bo-op verhoog uitsteek. 

     

    Nodeloos om te sê dat my pa ook nie kon preek daardie dag. Die mense het te veel gelag. Ydelheid het die diens oorgeneem...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top