Ons pragtige taal ...

  • 12

Op Vrydag 21 November 2014 skryf Nellie Brand-Jonker 'n berig: KWV groei sy markaandeel in brandewyn. 'n Voetnota deur die uwe dui aan dat nog meer vreugde uit hierdie gebeurtenis kan voortspruit:

Nog goeie nuus. Die opskrif van hierdie berig kan van vertaalde Engels na goeie Afrikaans omgeskakel word sonder om die getal karakters te vermeerder deur die woordorde net effens te verander. Klink dit nie beter nie! KWV se markaandeel in brandewyn groei.

  • 12

Kommentaar

  • Ek is nie 'n taalpuris nie maar 'n taalsnob. Ek probeer om wanneer ek Afrikaans praat dit so suiwer as moontlik te besig. Wat ek egter nie kan verstaan nie, is wanneer daar op 'n "Afrikaanse radio- en televisiestasie en kanaal" uiters swak Afrikaans gepraat word. Ek glo die taal moet groei en aanpas, maar ek laat my nie vertel daar is nie Afrikaanse woorde vir die baie anglisismes nie. Ek luister vanoggend in die motor na die draadloos. Die persoon/aanbiedster vra die gas of hy patriotisties is. Is dit nie dalk patrioties nie? Daar is vele gevalle wat ek kan opnoem, maar laat dit maar daar. Niemand sal in elk geval na my gekerm oor swak Afrikaans luister nie.

  • Beste Reusedwerg,

    Dankie vir daardie woord; ek het al 'n taamlik lywige woordelys van hulle. Patriotisties! verbeel jou. 'n Woord wat my nogal kielie, is naarstigtelik. 'n Sekere krieketkommentator is lief om te sê Suid-Afrika soek nou naarstigtelik na nog 'n paaltjie.  Waarom nie sommer maar net naarstiglik soek na iets nie? 
    Groete,
    Angus
  • Chris Dippenaar

    Hello George

    Dis dalk beter om die Afrikaans terug te vertaal na Engels en dan te probeer uitmaak wat hierdie sin bedoel. "KWV grows its market share in brandy". Sou dit nie beter wees om dit as volg te vertaal nie: "KWV vergroot sy markaandeel in brandewyn"?
    Chris
  • George Bekker

    Die verdere goeie nuus is dat die skrywer van die artikel vinnig op my nota gereageer het en die opskrif reg gemaak het. Soos dit gewoonlik in die koerantwêreld gebeur was sy nie vir die opskrif verantwoordelik nie en het dit haar keurig versorgde artikel benadeel.

    Mag net hierby voeg: vir my is die belangrikste dat mense Afrikaans praat en skryf. Eerder skeef en krom as geen Afrikaans nie. Nogtans is dit soms nodig om aandag op korrekte taalgebruik te vestig.

  • George
    Dit gebeur al hoe meer, hierdie verkragting van die taal veral deur omroepers. Byvoorbeeld: 

    Inbeller: "Hoekom speel julle nie Boeremusiek nie?"
    Omroeper: "Maar ons doen!"
    of
    Omroeper: "Ons hardloop gou weer deur die lysie."
    of
    Omroeper: " ... waar hulle hul eie groente groei."
    of
    Omroeper: " Groei 'n snor in November."
    of
    Omroeper:"Ek hoop nie jy sit in die verkeer vas nie maar as jy doen ..."

    Reusedwerg
    Jy MOET kla; daar sal altyd iemand wees wat kennis neem.  Ek is al baie reggehelp hier en ek doen my bes om nie meer daardie foute (waarop ek gewys is) te maak nie. Hier is die Engelse 'n baie goeie voorbeeld vir ons, hulle is gou om te kla.  Vra my ek weet; ek het in Swaziland tussen hulle grootgeword.

    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan Rap,

    My taalonderwyser wou altyd die stuipe kry vir: "Ek maak ook foute." Dis glo 'n gruwelik lelike anglisisme. 'n Mens moet sê: "Ek begaan ook foute." 
    Groete,
    Angus
  • Beste Jan Rap,

    Dis darem makliker verstaanbaar (en lekkerder)  om te sê: "Ons hardloop uit tyd uit" as om te sê: "Die tyd is verstreke." Selfs: "Die tyd is om," of  "Die tyd is op" is beter as daardie sg "suiwer Afrikaans", want dit voldoen aan die heel eerste vereiste van taal,  nl dit kommunikeer beter.  
     
    Groete,
    Angus
  • Beste Jan Rap

    Ek sien nou my fout. Ekskuus, ek bemerk nou die fout wat ek begaan het. 
     
    "Ek hardloop uit tyd uit" en "Die tyd is verstreke" is nie sinoniem nie. Nou wat is die suiwer Afrikaans vir : "Ek hardloop uit tyd uit" nou weer? Teen die tyd dat ek weet wat om te sê, is die tyd lankal verstreke. 
     
    Is dit nodig om Afrikaans so te knoop dat jy liewer met 'n bek vol tande staan voordat jy praat?
     
    Groete,
    Angus
    NS Ek het hom! "Die tyd is vinnig besig om ons in te haal." 
     
    Ek is nou besig om uit spasie te hardloop. Groete, A
  • Beste Angus

    Jou boodskap van 24-11 13:49 verwys
    Baie dankie vir daardie teregwysing, ek neem kennis.
    Terloops, my taalonderwyser wou weer stuipe vir 'parabeles' kry; hy reken mens moet praat van 'gelykenisse' (jou brief onlangs aan FC Boot)
    Jou boodskap van 24-11 21:31 verwys
    Sê dan liewer 'ons loop uit tyd uit'.  Steeds 'n anglisisme maar korter; jy hou mos van korter want dit 'kommunikeer' kwansuis beter.  Hoekom in elk geval  'hardloop'?  Buitendien, dit is nie makliker verstaanbaar nie en glad nie lekkerder om te sê nie en dit kommunikeer ook geensins beter nie, inteendeel.
    Jou boodskap van 25-11 08:18 verwys
    Sê bloot 'my tyd raak op'.  Terwyl jy sit, en die tyd is vinnig besig om verstreke te raak, is dit verwarrend om van 'ek hardloop ...' te praat. Dit sê moeiliker, is nie lekkerder nie en kommunikeer swakker.

    Groete
    Jan Rap

  • Beste Jan,

    Ek spot maar met die tyd wat so uithardloop. Ek trek jou been. (Skuus, dis 'n anglisisme. Dit sal my dalk miskien nou-nou byval wat ek moes gesê het.) Ek het dit: Ek steek sommer die draak met jou. (Sjoe!)
     
    Ek haat dit ook as mense, veral omroepers en dominees, nie goeie Afrikaans praat nie, (of soos party taalpuriste dit wil hê, nie suiwer Afrikaans besig nie),  maar ek weet uit my bietjie kennis van tale dat hulle gedurig verander. Patriotisme rem so bietjie, maar kan ook nie noemenswaardig veel daaraan doen nie. 
     
    Gespesialiseerde dissiplines soos letterkundige kritiek, wiskunde, botanie, ens het maar die neiging om woorde uit antieke tale, in hierdie geval, te verafrikaans, of net so sonder verandering, te gebruik. Daarom: parabel, parabool, mite, ipso facto, et cetera, et cetera.
     
    Groete,
    Angus
  • Dit was nou lekker 'gesels'. Veral Angus en Jan Rap se bydraes word waardeer.

    Net 'n kort storietjie om aan te dui dat die 'language' by taalgebruik eintlik dieselfde vereistes as Afrikaans stel (in die goeie of minder goeie tyd het Engelsprekendes mos na Afrikaans as 'the taal' verwys!). Dis seker al twee dekades gelede wat 'n offisier ten tyde van sy aftrede dié verhaal vertel het.

    Hy was 'n jong soldaat en was saam met twee engelssprekende offisiere in 'n klein vertrekkie. Dis winter en die verwarmer is aan. Hy het gesweet van die hitte maar die offisiere was so verdiep in hulle gesprek dat hulle nie besef het hoe warm dit is nie. Hy wou die verwarmer afskakel maar het nie geweet hoe om vir hulle te vra of hy dit kan doen nie. Hy raadpleeg eers die woordeboek en vra: “May I extinquish the heater?”

     “Yes, put it out” was die reaksie. Meer in vandag se terminologie is die antwoord seker: “Keep it simple stupid”.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top