Ockham se lem en maagdelike geboortes

  • 1

Ek sien Kobus de Klerk, met al sy hersenskimme, is al weer hier om die Sê se lesers te vermaak. Jesus se sogenaamde goddelike geboorte word volgens ons kdk-prater as ’n bewysbare feit voorgehou maar in werklikheid is dit baie vêr daarvandaan.

Kobus reken dat Jesus se maagdelike geboorte ’n voldonge feit is omdat die bybel so sê. Al sy sogenaamde “bewyse” kom uit die bybel uit wat die brondokument van die hele mitiese verhaal is. Dis so goed soos om te beweer dat Superman kan vlieg omdat die Superman-strokiesboeke so sê.

Ek het van ’n gesaghebbende bybelwetenskaplike verneem dat ’n alternatiewe hipotese is dat Maria deur ’n Romeinse soldaat bevrug is aangesien die gebied waar Maria gewoon het onder Romeinse besetting was en die verkragting van vrouens deur die Romeinse soldate aan die orde van die dag was. Dit verklaar ook die rede hoekom Josef onwillig was om met haar te trou. Verder weet ons dat “jong meisie” dikwels as “maagd” vertaal is.

’n Verdere moontlikheid is dat die evangelies bloot oorvertellings van mense was met geen kennis van die moderne wetenskap nie.

Nog ’n hipoteses is dat die hele Jesus-karakter ’n mitiese karakter soos Racheltjie de Beer is.

As ons nou die beginsel van Ockham se lem toepas en die mees eenvoudige verklaring vir ’n hipotese soek dan kan ons kwalik die verklaring van goddelike bevrugting oorweeg omdat daar hoegenaamd geen bewyse daarvoor bestaan nie. Verder, die hoeveelheid nuwe onbekendes wat bloot net aanvaar moet word, soos die bestaan van ’n god, die inplanting van sy saad in Maria sonder dat Maria se eiersel daarby betrokke is, die bestaan van menslike erfsonde waarvan die mens verlos moet word ens ens ens is net heeltemal te veel om dit ’n lewensvatbare hipotese te maak.

Bloot dus deur die toepassing van Ockham se lem is daar soveel meer waarskynlike verklarings vir Jesus se geboorte (indien hy wel hoegenaamd bestaan het!) dat die hersenskim van onse Kosie so totaal onwaarskynlik is dat dit bloot as ’n belaglike alternatief afgemaak kan word.

Groetnis
Thomas

  • 1

Kommentaar

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Thomas,

     

    Dankie vir jou kommentaar oor die maagdelike geboorte van die Jesus- figuur. Die Bybel is maar 'n bron van plagiaat van ander volke se mitologie, en as ek reg onthou het die Hindu-god Shiva ook 'n maagdelike geboorte gehad, en hierdie mite is veel ouer as die christelike.

     

    As mense in feëverhale en mitologie will glo in ontkenning van die realiteit omdat hulle persoonlik beter daaroor  voel, het ek vrede daarmee, maar dan moet hulle nie eksepsie neem nie as ander weier om in hulle fantasiewêreld saam te speel nie.

     

    Dit is skoon pateties om te sien hoe volwasse Afrikaners nog vandag só in die Bybel se sprokies kan glo, en ek wonder net hoe rym dit dan met hulle huidige lot in die onsekure Suid Afrika van vandag? Nog n beproewing vir n volk wie die Hebreuse god só liefhet?

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top