'n Soen om te onthou

  • 3

Moet my nie vra waar ek aan die gedagte vir hierdie moeilikheid-soek onderwerp kom nie. Moet ook nie verbaas wees, as jy my in die dorp raakloop en my kop voel knoppe en my been in gips is nie ... pyn en Mevroutjie se aggressie ten spyt, voel ek my geroepe om hierdie wandelgedagte met my portuur te deel.

’n Soen om te onthou.

Ons almal moet tog seker ’n onthou-soen êrens in die geheuekis hê. ’n Soen wat soveel impak gemaak het, dat die ander lip-pikkies daarna soos ’n klein hondjie se gelek gevoel het. Of moontlik het sommige van ons meer as een van daai soene gehad!

Die nostalgiese voetpaadjies wat deur ons herinneringe kronkel, is soms ’n vêraf verlange na ’n oomblik of gebeurtenis wat so toonkrullekker was, dat die romantisering daarvan meer waarde as die herinnering self het. Ander kere, is dit suiwer ten behoewe van die terugbring van ’n sagte glimlag, wat ons die oë star sal maak, die geheue-seine laat woel en dít vir die lekkerte om ’n oomblik te herleef ...

Februarie 1984. Ons lewensgroot vriend Louis, was een van die eerste ouens in ons hoërskool se vriendekring wat ‘n garage-party gehou het. Sy pa se pynlike netjiese motorhuis met die groen geverfde vloer en ingeboude kaste, was soos ’n diep Hillbrow se disko met ’n skitterblinkbal, neonligte en blêrkas ingerig. Ons manne het elkeen ’n sleepsel op tou en lekker dans vooruitsigte gehad. Al was dit dan ook, dat meeste van ons vriende se danspassies tot ’n wilde getrap beperk was!

My meisie was, soos die tyd sou leer, ’n volksvreemde van die ander kant van Bellville se potjiekosgordyn. ’n Ingelse girl van ‘n ander skool; nogals ’n skool met net meisies, daar vêr uit die Paarl se vallei. Moeder het altyd gesê dat die Britse kinders te groot vir hulle skoene is.

“Die meisies is hopeloos te vroeg ryp,” sou sy my knaend herinner en teen die ingevoerde adders waarsku.

Terug by die partytjie, was die dans goed op dreef. Fleetwood Mac en Yellow se musiek het die tempo laat spoed optel, terwyl ons bene en arms soos makgemaakte spook ledemate gebewe het. Tot so neffens 11:00, toe begin die skoffelmeester sy musiek met ’n stadiger Suzanne Vega en Ciny Lauper afwissel. (Ek wonder tog of dié tannies nog sing?) Ieder geval, die dansvermoëns was hier, vir die meeste van ons, weer tot die uiterste beproef. Hier-en-daar, het ek opgemerk, het ’n paartjie die nag-in verdwyn. Om dan na ’n rukkie of so, weer blosend en klewerig aan mekaar op die dansbaan te verskyn. Dit was ook nie lank nie, of hierdie stuitige meisie van my, het my ook aan die hand gevat en die nag ingelei. Diep die donkermaan nagtuin in, waar kol-kol ’n klompie paartjies ongesiens gesit en fluister-gesels het. Of so het ek aanvanklik gedink ...

Sy het my na ’n staanplek agter die motorhuis tussen twee regop struike gelei. My teen die muur geanker en die kus van die lewe gegee. Op daai oomblik, was dit vir my ’n kus van oorlewing, want behalwe die skrams kuste wat Moeder, my tannies, niggies, Oupa en Pa my gegee het, was ek totaal-en-al onhandig met die affêre. Hoe moes ek weet wat om met hierdie girl se suiende lippe en tong teen my verhemelte te maak?!

Ek moes seker ten minste twee keer weggebreek het vir asem, voor ek die asemhaal-soen-vat-en-los trick agtergekom het. Ek moet sê, toe gaan dit sommer lekker. Die Franse se maai!

Die volgende dag kon ek nie wag om my rooi 50cc se windskerm oor Welgemoed se kop te druk, na daar waar die vryerige meisie se liefdesnes is nie. Kwansuis nie vir ’n opvolgsoen nie, nee, inteendeel ... maar eerder om haar vir die kloppende koorsblaar te gaan dankie sê!

Die soetste soen is een wat mens eintlik nie moet vergeet nie. Die proe van daardie soen wat jou aan iets herinner, maar jy weet nie wat nie. Dit kan so varswatersmaak soos ’n bergstroom wees; of sag en tinkelend soos die sap wat teen die byt van ’n vars appel aflek. Daardie herinneringsmaak wat jou mond, by die blote gedagte daaraan, laat water. Ek het ’n verhouding beëindig vir ondermeer daai smaak. Ek het ook ’n hartstogtelike uitnodiging na ’n “weer-probeer”-verhouding, vir hierdie smaak van die hand gewys.

Lank voor ek die voorreg gehad het om oor ’n Spur se tafel te leun en haar onbeskaamd eerste te soen; of lank voor ons die tweede soen op Houtbaai se strandgebied dieselfde nag gedeel het, het ek verlief geraak op haar Weskus windverwaaide krulle-boskaas. Hoeveel keer was haar tot-ons-môre-weer-soen, op haar ouers se voorstoep, die kafeïene wat my moes wakkerhou op pad huis toe. Daai soene was so lekker, dat selfs spookasem en kaste knoffel nie die smaak kon aantas nie. Sjoe, hoe verlang ek nou...

My oom sê nou die ander dag, hy en die tannie soen nie eintlik meer nie ...

Ek wonder tog of soen nie soos kosmaak is nie. Sommige mense eet net om te lewe; ander van ons, probeer om van etes ’n lewe te maak. Die kuns van kook lê meestal meer in die passie, as in die bestanddele, so ook ons toewyding aan die soeke na vandag se soen.

Haar lippies proe nog net so lekker; sy kla my baard krap op die tweede oggend. Maar, pleks daarvan om net voet te slaan op die paadjies van herinnering en nostalgie, sal ek eerder my kinnebak glad geskeer en my tandekas vars versorg hou ... want wie weet, netnou gryp sy my en dan moet ek reg wees om weer aan die bergstroom van haar kus te drink!

Hennie Fritz

  • 3

Kommentaar

  • Hennie , oulik geskryf! Sonder enige hyggemors. Lekker om te weet daar  is nog ordentlike mans wat op hierdie vulgere planeet van ons rondloop. 

     
  • Ek is al ouer. Saam met my werk 'n middeljarige vrou - een van daardie ewige verloofdes wat nie wil trou nie. Sy is kort en klein en seksie en slim. Eendag het ek in haar kantoor gekom en sy sê: [Titel], ek verjaardag vandag en beland in my arms vir 'n druksoen. Ingedagte tel ek haar in die lug op en swaai haar rond - skrik toe en vra ekskuus. Moenie, sê sy, ek is bietjie lief vir jou ... 

     
    En so gaan die jare om: Sy gaan werk elders en ek tree af. Ek moet 'n draai by 'n spesialis maak en hier kruis ons karre in die parkeerplek. En sy wag my in. En ek kry die soen van my lewe. En toe is ons by dieselfde spesialis. So toe ons klaar is, kry ek twee soene van my lewe. Gegeurde lipstif, wat die heeldag bly en waarvan ek die heeldag horing kry. 
  • 'n Lekker soen is darem nie te versmaai nie. Dis die voorspel tot die owerspel. Dis soos om sop met 'n vurk te eet, jy kry net nie genoeg nie. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top