'n Rooikop

  • 1

Die swart teer peul deur my tone soos 'n oorryp vrug. Vir 'n oomblik staar ek na die swart smelt en geniet die gemors-gevoel, maar dan onthou ek dat teer vlek, dis moeilik om van die vel af te skrop, dit kleef en klou soos 'n desperate skoothondjie. Ek lig my voet en die swart drade trek soos ou kougom agter my voet aan. Meteens besef ek dat die pad nog lank en ver voor my lê; die lang pad met sy eindelose swart teer …

Die son bak genadeloos op my neer en die sweetdruppeltjies poel saam in die holte van my lae rug. Ek het water in my rugsak, maar ek weet dat ek spaarsamig sal moet werk indien ek my bestemming in een stuk wil bereik. Ek tuur in die verte in, probeer kyk of daar alternatiewe lafenis in die toekoms wag, maar al wat ek kan sien is die lang kronkelende pad wat onophoudelik teen die bult uit klim.

Die klank van voetstappe agter my laat my meteens omswaai. Ek het nie vir een oomblik gedink dat ek iemand anders op hierdie pad sou raakloop nie, maar skaars tien treë agter my loop 'n rooikop vrou teen ‘n vurige pas. Ek is stomgeslaan, maar terselfdertyd opgewonde om 'n lewende lyf in my nabye omgewing te hê. Ek glimlag effens in haar rigting, maar die rooikop kyk nie eers op nie. Dit lyk nie of die hitte haar enigsins pla nie en ek verwonder my aan haar porseleinwit vel wat die son weerkaats. Die sproete op haar wange lyk soos verfspatsels en ek steek onwillekeurig my hand uit om haar gesig te streel. Op daardie oomblik kyk die rooikop in my rigting en haar grasgroen kykers brand ‘n gat in my siel. Ek trek my hand blitsig terug, maar nie voordat ek die skynsel van 'n glimlag om haar mondhoeke sien krul nie. Dit voel asof sy my uitgevang het en ek laat sak my kop weer skamerig; bang dat sy vir een of ander rede sal weghardloop. Die rooikop loop vooruit en kort voor lank is haar skaduwee te lank om te agtervolg.

Die klank van my eie voetstappe eggo leeg in my ore en ek besef dat ek die rooikop se nabyheid mis; al was haar teenwoordigheid kortstondig. Ek staar die verte in, in die hoop om die gloei van haar hare in die gloed van die son te sien blink, maar in my hart weet ek dit is tevergeefs. Die rooikop is op haar eie roete en sy verlang nie na my teenwoordigheid soos ek na haar verlang nie.

Die bruin sak op my rug raak swaar en ek besluit om my bene op ‘n pofferige stukkie groen gras te gaan rus. Die groen repies kielie die agterkant van my kuite en ek giggel saggies. 'n Lieweheersbesie kom land op my knie en ek bewonder my aan die insek se rooi en swart spikkeljas. Vir 'n oomblik raak ek verlore in die bome se gesuis en die wind streel saggies deur my hare. Ek dagroom oor rooikoppe en rooi besies wat hulle vesting op rooi rose se blare vind en ek wonder wanneer die rooi son se strale agter die horison gaan sak, want die pad is nog ver en die dag is nog lank …

Hulle sê dat jy groot take stukkie vir stukkie moet aanpak en ek wonder of dieselfde vir 'n groot reistog geld; voetjie vir voetjie? My bene volg hulle eie ritme en ek besef dat ek al duisende treë geloop het sonder om eers te weet watter rigting ek inslaan. Ek weet dit moet my bang maak, maar vir een of ander onverklaarbare rede maak dit my siel rustig; ek geniet dit om nie te weet nie.

Klein druppeltjies vorm aan die buitekant van my waterbottel en ek wens ek kan hulle terugforseer. Terug in die bottle in waar ek hulle as die nodige lafenis kan stoor, maar ten spyte van al my wense verdamp hierdie kosbare druppeltjies in die niet in. Ek teug aan die water en die vloeistof gly seepglad in my keel af. Met skrefies-oë na bo gedraai, loer ek na die son en ek kan sweer ek sien hoe die son vir my dans.

Meteens kom ek tot die besef dat ek al vir 'n geruime tyd dowwe spore in die pad volg. Die spore is rofweg dieselfde grootte as my eie voete en ek plaas my teer-besmette voet bo-oor een; dit pas perfek. Ek besluit om hierdie spore meer doelgerig te volg en die idee van ‘n eindbestemming veroorsaak ‘n opgewondenheid in my hart. Ek voel opnuut vernuwe en kort voor lank volg ek die spore byna op ‘n drafstap. Die pad kronkel om draaie en neem my deur eindelose dale. Selfs teen die stylste bulte versnel my pas steeds. Die swart vlekke op my voete meng met stof en deur die eerste potblou poel wil dit voorkom of meeste van die taai toffie van my voete afgesmelt het. Ek loop, kop geboë, doelgerig verby verlepte sonneblomme en jong boompies, verby die klein spruitjie aan die voetenent van die heuwel en om die groot, magiese akker. Eers toe die voëls stil raak, kyk ek op en besef dat ek myself in die middel van ‘n groot, wye veld bevind. Delikate pienk en wit blommetjies pronk oral om my in die lang gras en ek glimlag, want skaars tien treë voor my staan die rooikop en sy wink my nader. Ek is huiwerig, maar soos 'n by na ‘n blom, vind ek myself aangetrokke tot haar. Sy lig haar hand en raak aan my wang waar die sproete soos verfspatsels teen my wit vel sit. Sy kyk regdeur my en my groen kykers ontmoet haar in die middel waar ek tot diep binne in haar rooikop siel sien; my siel, dieselfde siel. Ons mondhoeke krul in ‘n amper glimlag en my hart vind rus, want in daardie oomblik weet ek; ek is weer heel gemaak.
 

Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top