'n Paar vrae oor Afrikaans

  • 4

Ek is op ’n desperate soektog na verklarings vir hoekom mense op sekere maniere praat, miskien eerder ’n soektog na hoekom mense goed sê op maniere wat ons nie almal verstaan nie. Ek was die naweek in ’n omgewing waar ’n paar mense noodgedwonge met mekaar moes “interaktiveer”, doodgewoon oor die Karoo net te koud was om enigiets anders toe te laat as “interaktiveer” met die lot wat jou huisgenote was.

So sit luister ek na verskillende mense se maniere van praat. Die een praat van die amper 3 galjoen wat hy meer as laas jaar gemaak het (dis nou R miljoen), daai een van haar voorgeslagte wat van een of ander eksotiese land, oostekant van Europa, af gekom het. En so loop diesulke geselse wye draaie rondom watter ook al vorm van vuur in so-likke koue in ’n plaashuis gemaak kan word.

Dalk is dit ’n eie-karakter ding, maar ek wou my tog self wysmaak dat daar van die ander spanne was wat ook na ’n heel klompie uur om dieselfde vuur, met dieselfde geselskap en met taamlik ge-old brown sherry-de siele begin irritasiesimptome wys oor nie wat mense sê en vertel nie, maar hoe. Nou klink ek skoon heiliglik nes my vrou in die eerste 27 jaar van ons huwelik: “jy kon dit net anders gesê het”. “As ek dit anders gesê het, het dit iets ander beteken – of hoe meen die mevrou dan nou?” “Jy hoef nie met so ’n stemtoon te praat nie.”  Al wat dan oorbly is drie kopknikke, net-net stadig genoeg dat dit nie sarkasme by jou klagstaat sit nie, maar nie vinnig genoeg dat dit met instemming verwar kan word nie.

Nou, my verwondering oor hoe mense goed sê, gaan nie naasteby oor die stemtone en kopknikke binne ’n huwelik wat al by sy vierde sak sout trek nie. Dit gaan oor daai miljoen, wat ’n galjoen raak. Die kos wat reg is, wat kossies raak. En dan, die Oubies, wat meeste van die gordyne voor die elkedagse voorgee ooptrek en net dit laat oorbly wat ons maar nog altyd was – altans voor die galjoene begin inrol het. As julle wil, kan ons oor die ander goeters voorkant toe praat, maar die een wat tagtig persent van my reeds oorwerkte, bonzai-breintjie van die naweek af al besig hou is die kossies en skoentjies en teetjies een.

Die mens wat dit, kossies, teetjies en goedjies, haar spreektaal gemaak het, is nog niks van my nie, maar as ek die koerasie-meter so sit dophou, kom daar ’n verwantskap op ’n kol. Van die naweek af al sit wonder ek: het dit te make met haar innerlike sagtheid? Dit moet innerlik wees, want van buite af sien jy niks van die aard nie. Jy sien iemand wat nie deelneem aan die gewone ou goeters waaroor fammaters (familie en maters wat mekaar miskien een maal per jaar sien) praat nie. Jy weet nie rêrig wat die mens se belangstellingsveld is nie. Nog minder haar verwysingsveld, want sy praat nie oor die boere-prokureurs-onderwysers-huisvrouens goed waaroor ons ander lot praat nie.

Sy het 29 geraak die Donderdag voor die naweek, maar tog is haar deelname aan enige vorm van gesprek ’n af-en-toe-se fluister in die jongman, wat wel aan my verwant is, se oor. Nie daai soort fluister wat sou gaan oor “kom help gou met die toilet wat lek nie”. Daai soort fluister wat ’n geselsie op sy eie raak – die oor en weer fluisterdery. So smaak dit my en duidelik van die ander fammaters ook, dat dit nie rêrig hoort by mense van hulle ouderdom nie. Dan sien die klong op ’n kol, almal wat hom ken sit kyk vir hom en kry hy dit tog reg om sê: “Ek kom nou, dan kan ons praat.” So of hy sê: “Los my net tussen die lot, ek sien hulle min genoeg dat ek net die twee aande hulle verbale diarree wil sit luister. Môre kan jy weer voortgaan om my te bestuur.” Ai, die klong weet nie wat vir hom lê en loer nie, maar hy IS 24 en niemand van ons kan daai vuur doodpiepie nie. As hy saam met al die res van ons stem, sal hy maar self moet begin water drink om piepie bymekaar te maak.

Nou so sit en dink ek nog heeltyd oor die sies wat elke koffie, tee en kos volg. Ek ken die mens nie goed genoeg om te oordeel of dit dalk kan wees dat daar ’n sekere soort meerderwaardigheid in die sies is nie. So al asof sy reken dat as sy vir my en my tydgenote, wat so 20 – 28 jaar ouer as sy is (onthou sy is 29), brêkfis aanbied, ons dalk nie beter as eiertjies, worsies en teetjies verdien of ken nie. So of die verkleiningkie ’n soort meerderwaardigheidsgevoel vir haar besôre, veral in die omgang van die lot noord-Kapenaars wat van plekkies af kom wat niks beter as teetjies en goedjies gewoond behoort te wees nie.

Of dalk oor sy reken sy kan die baie goedverdoeselde onvergenoegdheid met omtrent als in die lewe, wegsteek op hierdie manier van sag wees. Sy lag vir niks van die goeters wat ons lot sit en praat en ons onsself dan ent-ent simpel lag vir wat en hoe dit gesê word nie. Sy antwoord ’n vraag so goedkoop met woorde as moontlik. Sy is een van die wat my, deur ’n tussenganger, 3 weke later laat weet dat sy nie daarvan hou dat ek by die vuurmaakplek my pyp rook nie. Omdat “die rookruik haar asma gee”. So vra ek dan toe die naweek of ek nie een teug van haar asmapompie kan leen nie, oor die effense hooikoors wat ek het, net om te hoor sy het nie ’n asmapompie nie. Gevaarlik vir ’n asma-leier, sou ek in my onnosellikheid reken. Dis toe daar waar ek besluit, gif en medisyne kom in dieselfde bruin glasbotteltjies – dis net die labels wat verskil.

Wat van sy wil dalk maar net nice wees, sê die Geelslang wat my gat deel. “Moet ’n mens dan WIL nice wees?” “IS jy nie nice of nie nice nie?” waag ek ’n mening oppad terug na die naweek. En dit slaat my voor die kop: “Jong,” sê ek vir die Geelslangwyfie, “as JY dit raakgesien het, is dit nie ’n probeer nice wees ding nie.” Verstaan asseblief, Geelslangwyfie sal ’n rede soek om vir Jack the Ripper ook op te kom, as ek iets teen hom sou hê. “Beteken dit dan om nice te wees moet jy jou woorde in heuningkies doop, elke keer as jy iets sê?” Geelslangwyfie praat niks verder nie, wat beteken sy stem saam, maar omdat sy niks kry om my mee verkeerd te debatteer nie, is stilbly vir nou eers al tool wat sy het.

Ek maak vrede: die mens moet woordjies in heuning doop om iets te bewys. Nou is die gala aan vir my om uit te vind wat onder daai heuninglagie sit. As ons dan nou (ai tog) familie sal moet raak, sal ek moet weet watter bruin glasbotteljie ek mee werk.

Ooo ja – amper vergeet ek – praat nurste dan nie maar so nie? Maar hoekom? Help da, asseblief julle taalmense.

Groetnis van ’n dêm koue Karoo af.

’n Gryskop met min haartjies.

  • 4

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Die woord "kompleks" het verskillende betekenisse. Een daarvan is "ingewikkeld". Pleks van "ingewikkeld" te gebruik, word alewig "kompleks" geskryf of gepraat. Dit is moeilik om hierdie sotlike verskynsel afdoende te verklaar. 

  • Beste Johannes Cometor

    Ek twyfel of 'n mens enige taalverskynsel sommer as "sotlik" kan  afmaak. Daar moet 'n rede wees waarom  "kompleks" naas "ingewikkeld" bestaan, want taal laat selde, indien ooit, absolute sinonimie toe.
     
    Groete,
    Angus
  • Johannes

    Jou skrywe is uiteraard vir my te kompleks - ek verstaan nie die konteks van die komplekse storie van jou nie.  Jy werk met 'n ongeletterde my bra, verduidelik dat ek nie weer jou so erg irriteer /verveel nie.  As jy rêrig wil help, verduidelik eerder vir my hoekom mense praat van kossies.  Toe man.
  • Die taalbulle, bied leesmasjien en woestersous?? 

     
    Hoe woes is dit nie?
     
    Cormac McCarthy: I can normally tell how intelligent a man is by how stupid he thinks I am ...
     
    Sotlik. 
     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top