n Ode aan vergete Name

  • 0

We are all honourable men here, we do not have to give each other assurances as if we were lawyers.”

Indien iemand sou dink dat hierdie aanhaling uit ’n “Godfather”- fliek kom, dan sou hy of sy beslis reg wees. Want die ode wat ek vandag aan die oud-legendes van hierdie dorpie van ons wil bring, is manne wat kon staan en val by die skud van ’n hand en die gee van ’n woord. Manne wat net hier-en-daar nog onthou word.

Dit is nou reeds my 23ste sakejaar in hierdie deel van Kaapstad. Dit is verseker nie uitermatig lank in vergelyking met die manne oor wie ek wil gesels nie, maar beslis langer as die vlugvoetige nagvlerk-swiepers wat die dorp, soos ’n vlermuis op soek na vars vrugte, in- en uit vlieg.

Die sakemanne van ouds (skuus dames) het by wyse van “natuurlike dorps- en groepskragte “, hulself in drie duidelike groeperinge gevestig. Daar was die ouens in die dorp wat mag gehad het; jy hoef hulle nie daarna te gevra het nie en hulle sou jou ook nie vertel het nie, dit was net so.

En dan was daar die ouens wat gedink het hulle hét mag. Aan die ander kant van die hiërargie was daar die klomp wat soos bosluisvoëls van die een na die ander gehop het; met die hoop om iemand êrens as trapsteen te gebruik om ’n geleentheid te aas of ’n transaksie te volvoer. Dis eienaardig hoe hierdie laasgenoemde spul nooit opgang tot enige van die ander twee klasse gemaak het nie; van hulle sien of hoor ons ook maar min, alhoewel van hulle soort, is daar nou volop beskikbaar!

In 1991 stap ek die raadsaal van die destydse Kamer van Koophandel en Nywerheid in die Pasteurgebou op Voortrekkerweg, Parow binne. Hierdie was die sake-kern van die noorde en bykans al die sake-spierbulters was op die een of ander wyse deel van die Kamer.

Dit is Dinsdag en die manne sit die vertrek vol. Almal het pakke klere of ten minste ’n baadjie en ’n das aan. Behalwe 7-Eleven se baas. Oom George dra hul ondernemingsuniform; ’n wit sweetpakbaadjie met groen en geel strepe.

Die meeste rook.

Voor in die raadsaal op ’n effense verhogie, sit die voorsitter met manne weerskante van hom. Die sekretaris is ’n man. Die tee, koffie en broodjiesregpakker is die enigste vrou.

Die Voorsitter is ’n ronderige gryskop oom met ’n leesbril wat so halfmas op sy neus hang. Hy is die prins van die motorbedryf in hierdie dorp. Hy dra ’n koolswart pak met ’n geel hemp en ’n grys das. Die das is bietjie losgetrek en die kraag se bo-knoop hang oop.

Teen die kante onder die kraag kan mens net-net die rand van ’n breë goue ketting sien. Voor hom lê ’n stapeltjie dokumente, ’n ordeslaan-hammer, ’n pakkie Satin Leaf, brandsteker, asbak en ’n asmapompie.

Hy kyk die sprekers, wat opstaan om te praat nadat ’n spreekbeurt ordelik toegeken is, met leepoë bo-oor die neustooisel aan. Dit lyk amper of hy kyk sonder om te sien, tog volg hy die sprekersstandpunte met ’n “mmm..” elke nou-en-dan. Wanneer hy praat, is dit sag en berekend. Terwyl hy praat, lyk dit kompleet of hy vir homself instemmend knik, of miskien het sy kop net gebewe, ek weet tot vandag toe nie eintlik nie.

Elkeen van sy sinne was afgesluit met.. ... “hmmm?”

Met dié dat die volgende raadslid ’n beurt kry om ’n standpunt of repliek of ondersteuning vir die vorige spreker te huldig, skuif die Voorsitter se regterhand met die dik goue ketting en swaar goue ring stadig onder die baadjie en hempsmou met mansjetknope uit. Geleerd trek sy twee voorvingers ’n satynse blaarstokkie uit die pakkie en steek hy dit brand. Met die rook wat tussen sy vingers opdwarrel, bied hy die sekretaris ook een aan ...

Hierdie is een van daai maandelikse langmiddag Beheerraadvergaderings. Almal is hier. In die voorste rye sit die manne wat die grondbrekers van die noorde was. Niemand het meer eiendomsmag as oorle oom Dawid gehad nie. Al die nasionale huurders en selfs die plaaslike owerhede was op sy boeke en die “bosluisvoëls” was lief vir hom...

Langs hom het hulle ingeryg gesit; oom Bill, die bekendste prokureur in Bellville, oom Kobus, die grootste prokureur in Brackenfell, oom Sarel, die effektiefste boekhouer in Bellville en almal se makelaar, oom Radi. In die ander rye was daar ’n bankbestuurder of twee, die mansklerewinkel se eienaar, die juweliersbroer, die baas van twee Shell garages, ’n eiendomsagent of twee en dan die res.

“It was not perhaps the warmest friendship in the world, they would not send each other Christmas gift greetings, but they would not murder each other. That was friendship enough in this world, all that was needed.”

Ai, die dorp is lankal nie meer ’n dorp nie. Die sakepersone is lankal nie meer karakters wat sommerso uit ’n fliek kon stap nie. Moontlik het ek net te afgestomp geraak, maar daar is nie meer opkykmense in hierdie sakesamelewing oor nie.

Wanneer ons jonges destyds by die senior manne se kantore of praktyke ingestap het, dan was daar ’n skoenlapper met wilde struweling in jou maag doenig. Jou agting vir die persoon, het jou op jou senuwees gehad, nie die grootte van sy huis, sy kar of portefeulje nie; ja, dit het tog die vere aan die voël gesit, maar hierdie voorste ry ouens was leiers ten spyte daarvan!

1999, dié jaar toe hierdie manne dit goedgedink het om die voorsittersketting om my nek te hang, het soos ’n warm wasem op ’n koel ruit verdamp.

Ek onthou maar bitter min daarvan.

Behalwe, dat ek op die maandelikse vergaderings voorgesit het ... en op die jaareindfunksie se kiekie was. Dis al.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top