'n Kis vol sondes

  • 1

“Sondagoggend wil ek tydens my preek ’n kis in die kerk laat indra.”

“Ja?” stotter ek. Oorkant my sit ’n dinamiese prediker, sterk leier en nogals aangetroude familie ook. Ernstig tuur hy in die vuur, terwyl die res van die kring skuldig en stil staar na die lekkende blou vlammetjies en die aangename reuk van skaaptjops en hoender-op-die-stokkie beloftevol eenkant braai.

“Ek wil die mense bietjie skok. Oor hul sondes. Ek wil oor die regterstoel van God preek.”

Ek frons. Hou nie van die idee nie. Om mense op hulle sonde te wys, werk nie. En sommige predikers dink hul besit al die kennis, net deur vas te staar teen enkele bybelverse  ...

“Praat jy van Paulus se 2 Kor 5:10: “Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn”?

“Einste!” stoot hy bors uit.

“Wow – wat ’n onderwerp!” glimlag ek opgewonde. “Die Woord is altyd positief. Die ‘Bema-stoel’ van Christus is die plek van beloning vir die gelowige. Nie straf nie. Dis so iets soos die olimpiese spele waar krone en trofeë uitgedeel gaan word. Die bybel noem 5 krone ...” Nou het ek sy aandag. Ek slaan die spyker dieper in: “Ja – een daarvan is nogal die Herderskroon, aan getroues soos jy en vroulief.” ( 1 Pet 5:1-4)

Die volgende Woensdag vra hy my om vir hom notas deur te faks. Die kis wat dood sou voorspel agv sonde, vergete. Ek moedig hom aan om simboliese krone te maak, en aan sy mense uit te deel. Dis bemoedigend. Stigtend.

Wat ’n glansonderwerp.

God se Woord is altyd positief en vol liefde. Leraars verdraai dinge. Joh 10:10 belowe “Ek (Jesus Christus) het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê.” Dit is wat God begeer teenoor sy kinders.

Daar is waarhede omtrent die Christen se beloning wat op hom wag. Soos die verskil tussen verlossing en beloning. Daarbenewens word die vrae wat die meeste gestel word oor die gelowige se huidige lewe, sy sondes, sy werke, God se tugtiging en die verband wat dit alles met sy beloning kan hê.

Daar is verskillende oordele, waarvan die oordeel oor die gelowige se werke maar een is. God sluit twee verbonde met die mens:

  1. Die verbond van die geloof: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is die GAWE (verniet) van God. Dit kom nie deur julle eie VERDIENSTE nie , en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie” Ef. 2:8-9. Maw – hierin staan almal gelyk voor God. Dan verder ...
  2. Die verbond van werke: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.”

Verlossing is genade.

Ons is gered van die oordeel van die sonde en met God versoen. 2 Kor 5:21

Werke (goeie dade) bewerkstellig geen verlossing nie.

Die verbond van die genade is geheel en al op die versoeningswerk van die Here Jesus Christus gebaseer.

Die gelowige word nie veroordeel nie, Christus het klaar betaal vir alles. Heb 1:3

Watter straf sal vir die gelowige die ergste wees? Om sy beloning of kroon te verloor. Die koortjiedigter sing:

Wasted years, wasted years
Oh how foolish ...
As I walk down this pathway of life
Turn around, turn around, the Lord is calling
He’s calling you, from a life of wasted years ...

Hierdie is eenvoudige waarhede wat enige mens red. ’n Sonde-preek word aangesteek uit die hel. Wanneer hierdie verlossingsfeite kragtig in jou opstaan, verdwyn verkeerde gedrag van self.

God se genade en Woord is soos ’n bleikmiddel. Gooi dit in water, en die vadoek word vanself wit. Gee dus gesonde Woord, prediker, en jou mense sal rein bly. Staan sterk: “...sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” (1 Pet 2:22-24)

Wat word in die doodskis die kerk ingedra? Die afgehandelde sondes, nie jy nie.

“Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in die dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” (2 Tim 4:6-8)

En natuurlik gaan dit nie oor krone nie, maar wel die amp of posisie wat jy sal beklee wanneer ons saam Christus regeer.

Trienie Mahne

  • 1

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Trienie Mahne, daar is hierdie lewe, en dan is daar die volgende lewe ... as jy reken jy reeds in hierdie lewe sondeloos en as iets hemels bestaan, waarom so graag uitsien na die volgende? ... daar is werklik 'n groot verskil tussen jou "liewe ekke soort positive thinking" en die werklikheid waarin ons spiritualiteit nog moet oefen ... more is nog 'n dag; nog 'n dag ouer; nog 'n dag wat jy nie ken nie vol nuwe uitdagings wat jy nog in hierdie lewe se wedloop in GOD se liefde en genade moet afle - of tik jy vir ons iewers van die Anderkant af? ... mag Jesus Christus onse HERE, ons almal vergewe waar ons more gaan struikel en self die krag in onse HARTE wees om ook more se sondes in hierdie lewe te deurkom ... jou sondige broeder in Adam, Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top