'n Karrestorie

  • 0

Daar duskant Oom Nelson en sy maters se vrymaking, in die voorlaaste dekade van die negentienhonderds - sjoe dit klink wild lank gelede - het my pa vir my ’n ryding gegee. Om die waarheid te spreek, dit is wel so dat hy vir my ’n paar karre gegee het.

Tot ek my eie ryding in 1991 kon koop.

Ieder geval, soos baie van ons vorige geslag manne, was ons lief vir kar koop en verkoop. Die manne met die stewige Wesbankrekening het sommer al om die ander jaar ’n nuwe kar gekoop. Aan die einde van die vorige eeu se dae, het dit natuurlik van karre na bakkies met vier deure verander en toe ons weer sien, toe moes elke vierde gesin ’n stasiewa met hoë wiele in die waenhuis hê.

Noudat ek daaraan dink, ’n ver-af mater van my het altyd gesê: “ dis nie ’n bakkie nie, dis ’n Ford of Isuzu of wat ook al, want ’n bakkie is ‘n ding waaruit ’n hond eet”.
So was dit dan in die beginjare van my volwaardige rybewys.

Die rygoed wat Pa vir my “gegee” het, was nie almal gegee om te hou nie. Sommige van die waens het by sy motorhawe op die vloer gestaan om verkoop te word en dan, na ’n knaende gesmeek en gesanik, al het Moeder ook hoé geprotesteer, het hy tog ’n paar keer ’n taboe-voertuig vir ’n rukkie vir my geleen.

Een van die eerstes was ’n 1969 blou Kombi Camper. Toegerus met ’n opslaandak, binnebed en ‘n alarm! In ons matriekjaar het ek en die maters ‘n keer of wat die kombi gepak om die Noordwes aan te vat en teen die winterwaters van Bloubergstrand te gaan “bord” ry. Op pad soontoe het die blou Kombi die rondtes van vader Cloete gedoen en elke saamryer by sy huis gaan oplaai. Die reën ten spyt, hoef niemand uit te geklim het om die gaste te gaan roep nie; nee, ons sit die alarm aan en skud die kombi so bietjie en siedaar, die alarm gil dat die honde in die buurt saam huil!

Alles het baie vlot met die tydige en ontydige gebruik van die kombi verloop ... tot daai een sinnelose oomblik toe my kunssinnige vriend Ivan, die onskuldige woordjies “sin bin” saam met die subtiele kruising van die manlike- en vroulike simbool baie smaakvol op die agterdeur geverf het.

Niks uitspattigs nie; net klein genoeg om die bus te versier, maar egter net groot genoeg om Moeder te versuur!

Weens haar omstrede insig kon sy net nie deel in die kunswaarde en die onskuld wat óns hierin kon raaksien nie. Overgesetsynde, het die rare samevoeging van hierdie mannetjie- en vroutjieskets, die verleibaarheid van ’n strategiese kombi-binnebed en die alombekende, maar tog ouerlik gevreesde rooihakskene van die nuwerwetse tienerseun, veroorsaak dat die 1969 blou Kombi Camper van die werf verban moes word. Een hartseer dag was dit toe wel.

Tussentyds het Pa vir my ’n groen 1980 Mazda, met ‘n glasdeksel vir ’n kattebak, gegee. My eie kar.

Vir hom kon ek opdollie met ’n dakrak en branderplankplakkers. Koel my ou.

Dae ná die Nuwejaar en voor die klasaanvang van my eerste studentejaar, lui die foon een oggend. Vriend Ivan. Hy het ‘n niggie en dié se sleepsel wat hier uit Bloemfontein kuier. Hy wonder net of ek dalk nog die “beach buggy” het waarmee ek die vorige dae in die buurt mee rondgerits het.

My antwoord was maklik: “Uiteraard en inderdaad so ...”

Die verhaal van hierdie pragtige donker goue skepsel met sy 1600 Volksie-enjin, 15-duim vetmannetjie-bande voor en 22-duim spin-my-om-‘n-hoek-agterbande, is een van kommerlose minagting en genade wyer as die skepping se horison!

My Pa het die duinebesie gedurende Desember ingeneem om namens die eienaar te verkoop. Naweke en dan-en-wan gedurende die vakansie het ek bietjie by die motorhawe gewerk. Ek twyfel of ek ooit iets behoorlik gedoen het, maar ek was daar. Elke keer wat ek dus daardie Desember by die “werk” was, het my lus en verlange gedrup om met die beeldskone gedoente rond te ry. My Pa het egter verseg, want die ding “is nie op sy naam nie”. Tot die een middag wat hy seker goed moedeloos met my dikbek lang gesig geraak het en kwaai ernstig sê: “Vat die ding, maar jy ry net naby die huis – nêrens anders nie!”

So gesê-so-gedoen. Vir die eerste twee dae het ek en die duinedame dit skaars ’n kilometer of drie van die huis af gewaag. Ook nie winkel of dorp toe nie; net daar in die buurt.
Tot daai oggend van Ivan se oproep ...

My verliefdheid op ‘n skone dametjie aan die agterkant van Tafelberg, kom ons sê maar net by Clifton se strand verby, was in die vroegste dae van ontkieming. Ek wou met elke moontlike geleentheid die 43 kilometer tussen my en haar ouerhuis aflê.

Toe vriend Ivan dus voorstel-vra dat ons hierdie twee boorlinge van die mielielande bederf met ’n rit deur die skoonheid van die Kaap, het ek sommer oombliklik ’n reguitlyn na ’n ander skoonheid eerste getrek!

Die buggy se petrol was vars en die seilkappie op, toe ek die drie van hulle skuins na nege oplaai en ons die grootpad uit Bellville stad toe vat. Die kewertjie het ’n woelige enjin gehad en ons lag en gesels van destyds hang nou nog soms in my gedagtes rond. Om die stad, deur Groenpunt, verby die Griekse Klub en waar die Kaapse stadion vandag rus, deur Seepunt en al padlangs kronkel ons deur die steiltes van rykmanshuise van waar hulle, die een mooier as die ander, vir die Atlantiese oseaan sit en staar.

Die besie het noodgedwonge vir nog een dun lyfie plek gehad en so met ons geselskap voltallig en my hartsbegeertes vervul, het ons die kuspad verder gevat . Llandudno, Houtbaai, oor Constantianek, Nuweland, Kirstenbosch verby, deur Kaapstad en terug om die nooi by haar huis teen die berg te besorg.

189 kilometer later, met die warm gevoel van ‘n dag se heerlike rondrits en die wete dat die liefdesbloeisel vandag versorging gekry het, laai ek en die besie vir Ivan en sy mense skuins voor skemer by sy huis af. Van daar is dit net so 2 minute bult-af terug tot by my ouerhuis. Dis toe dat die petrolkabel breek!

Selfs nou hier waar ek sit, kan ek net weer diep lekker uit my maag lag en sê “dankie”; want bitter min mense was seker só dankbaar vir juis híérdie breekslag soos ek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top