‘n Afrikaner wat sy kop gebruik: (soos deur Deut 28:13 vereis)

  • 7

Afrikaners moet streef om die kop te wees en nie die stert in ‘n multikulturele gemeenskap, en nie toelaat dat enigiets hom onderkry nie. Deut. 28:13.

FC Boot verkwalik my (amper histeries) dat ek dit waag om hierdie Bybelse leuse op die Jode van toepassing, vir die Afrikaner ook te “hijack”. Laaik dit of nie FC. Ek is nie ‘n Jood of Christen nie, maar dit is ook my persoonlike leuse. Ek sorg in die omgewing waar ek rondbeweeg dat ek die kop en nie die stert is nie en hierdie leuse het vele vrugte vir my gepluk.

Afrikaner-landbouboer, Charl Senekal, is ‘n voorbeeld waar ‘n Afrikaner die kop en nie die stert in die landbou-opset is.

Hy besit die grootste plaas in die land, 25000ha.

Hy baal die meeste suikerriet in die land – gemiddeld 380 000 ton per jaar, en is besig om rou grond in suikerrietplantasies om te sit wat ‘n verdere 200 000 t/jaar kan produseer.

Pleks om die blare van die suikerriet, soos tradisioneel, af te brand word dit gebaal om ’n verbrandingsmiddel vir sy private kragstasie te voorsien; krag wat hy op die plaas gebruik en die omliggende bevolking te voorsien.

Sy boerdery is hoogs wetenskaplik met waterpyp-aanleiding vir die suikerriet vanuit die Josini-dam. Hy help ook die omliggende mense om wetenskaplik te boer.

Afrikaners wat trots is om te sien hoe mede-Afrikaners die land beïnvloed, sal dit geniet om die volgende skakels te lees:

http://www.farmersweekly.co.za/article.aspx?id=5507&h=Size-matters

asook

http://www.iol.co.za/news/south-africa/kwazulu-natal/farmer-to-set-up-green-power-1.1510983#.SUJicSh8z_M

Jaco

  • 7

Kommentaar

  • Beste Jaco

     Iets hinder my nog die hele week nadat jy so uit die Bybel staan en kwoteer het. Dit is nie in die aard van die god van die Bybel om sommer vir iemand te sê hy moet die kop wees en nie die stert nie. Dis eers toe ek die Bybel “oepeslaan en daaruit lies” (met verskoning aan Adam Small) dat ek besef het dit is omdat jy Deuteronomium aan die stert beet het. 
     
     In Deut 28:13-14 staan die opdrag van God tog duidelik. Jy moet hom, en hom alleen aanbid, jy mag nie die Egiptenaar, of wie ook al, vermoor nie, jy mag nie jou buurman se vrou begeer daar waar sy langs die swembad lê en sonbrand nie, jy moet jou stout kinders met klippe doodgooi, en nie die bokkie in sy ma se melk kook nie. Dan, en alleenlik dan sal God jou die kop maak, en nie die stert nie. 
     
     As jy andersins nie hierdie gebooie nakom nie, so lyk dit my, maak hy jou nie alleenlik die stert nie, maar oral sal sy vloek rus en ellende jou tref.
     
     Groete
     Angus
  • Johan Martin T Labuschagne

    Jy hoef nie 'n Christen, Jood of Moslem te wees om die wysheid in die Bybel (dele daarvan) te waardeer nie. Ek is ook nie 'n Christen in die tradisionele sin van die woord nie, maar die Boek Prediker het my nog altyd bygebly en is 'n vreeslike mooi en insiggewende boek. Jy kan maar daaruit aanhaal soos wat dit vir jou insig gee. Tereg: ander verse gee weer geen insig nie en is eerder 'n walglikheid soos om jou stout kind met klippe dood te gooi. Gooi liewers die stout politici met klippe!

  • Angus

    Ivan Terblans se sentiment omtrent die Bybel deel ek ook, en dit is in daardie lig dat ek vanuit die bybel gekwoteer het.

    Jy is reg.  Indien ek 'n gelowige was, het ek die stert eerder beet gehad.  Al rede waarvoor ek die teks gebruik het was suiwer vir "leuse" doeleindes.  Die verskil in die Bybelse konnotasie en my gebruik daarvan, is die verskil tussen die negatiewe en die positiewe.  Die Jood/Christen wat die teks vir homself eien, en in terme van die inhoud van die hele hoofstuk, is dat god die werk vir hulle doen om die kop te word (en dit het nog nooit gebeur nie).  Volgens die bybel, hoef hulle net op hulle agterstewe te sit en aan al die goddelike vereistes te voldoen om die belofte om die kop te word substansie te gee.  'n Negatiewe benadering.  'n Slapgat benadering.

    Die positiewe benadering met  die einste bewoording in isolasie geneem soos ek dit gebruik het, is dat die indiwidue of instansie hul eie golwe maak om hulle eie doelstelllings te bereik om van hulself die kop te maak, sonder enige goddelike toedoen.  'n Pro-aktiewe benadering.  Die bybelse benadering is Re-aktief.

    Hierdie pro-aktiewe benadering is my wens vir  die Afrikaner als kultuurgroep in hierdie land.

    Ek verbeel  my, maar is nie seker nie, dat Napoleon Hill, die skrywer van "Think and Grow Rich", asook "The Power of Positive Thinking" hierdie einste teks in sy skrywes gebruik het, en om tyd te bespaar om juis dit uit te vind en hom eerder te gekwoteer het, was dit makliker om die bybel direk te kwoteer.

    Menslike vooruitgang en seëninge is VOORWAARDELIK in die bybel, onderhewig aan algehele gehoorsaamheid aan sy god, en dit wek in die betrokke persoon 'n afhanklikheidsindroom vir enigiets in sy lewe.  Ek sal eerder Napoleon Hill en Dale Carnegie se voorstelle volg, waar ek beheer oor my eie lewe, en die gevolge van my eie strewes in die lewe vat. 

  • J. Labuschagne

    Jammer, ek het jou hierbo met iemand anders verwar, en dankie ook vir jou respons.

    Ek is volkome eens met jou seniment hierbo.  Daar is baie vanuit die bybel vir persoonlike opheffing te lese, veral die gedigtelike skrywes soos Prediker, Psalms, Spreuke en Hooglied, en selfs baie van Jesus en Paulus se woorde;  sonder om enige geloof in 'n god te huldig.  Een geliefde teks vir my is "Gaan na die mier en word wys."  Sodanige woorde is universieel van toepassing, 'n positiewe opdrag wat sê dat niks sonder harde en ordelike werk bemagtig word nie.

  • Beste Jaco

    Jou mede-ateïs is nader aan die waarheid as wat jy is.

    Die Bybelversie wat jy sommer van toepassing maak op die Afrikaner val tog onder die gedeelte wat gaan van 'Die Here maak gehoorsame mense voorspoedig' .

    Dit word opgevolg vanaf vers 15 tot 35 met strawwe vir mense (van die uitverkore volk) wat ongehoorsaam aan die Here is want sonde het skrikwekkende gevolge.

    Wat staan in ver 13." As julle mooi luister wat die Here julle God vir julle beveel het en julle doen presies wat hy sê,sal Hy julle die belangriskste op die aarde maak.Julle sal oor ander nasies heers.Julle sal altyd die sterkste wees."

    Dit kan nooit op enige ander volk as die uitverkore volk wees en daar was net een. En dit is beslis nie die Afrikanervolk nie.

    Mag dit met jou goed gaan.

  • Johan Martin T Labuschagne

    'n Interessante ding: Christene haal graag die Ou Testament aan om homoseksualiteit te verdoem, maar wat van die verbod teen rente? Hoekom raak hulle nie ook besonders ongelukkig oor rente nie? Rente is volgens die Bybel 'n sonde. Jy mag niks uitleen teen rente nie, ook nie geld nie. Dit is om hierdie rede dat Calvyn so geliefde van die kapitalistiese magte was: hy het rente goedgekeur en toe kon hulle lekker begin geld maak. Onthou, St Aquinas het sterk teen rente geargumenteer en is myns insiens Bybels korrek.

  • Beste Johan Marten Labuschagne

    Wat staan nou eintlik in Deuteronomium 23 oor rente?

    Rente val onder die voorskrifte 'vir die regte manier van leef' .Rente is nie gehef op enigiets wat 'n mede-Israeliet  by jou geleen het nie, maar in hoofstuk 24 is dit duidelik dat as jy iets geleen het daar 'n verpligting op jou rus om dit of terug te gee en as 'n waarborg'n pand te gee.

    Jy kan net nie in sy huis ingaan en sommer iets as waarborg vat nie.

    In die  Jewishvirtuallibrary.org sal jy 'n verduideliking oor 'Money lending' vind asook onder http://www.jewishencyclopedia.com/articles/14615-usury

    Hierdie onderlinge reëling het  dus slegs gegeld onder die Israeliete .Jy verryk jouself dus nie ten koste van jou mede-volksgenoot nie want almal was slawe of nakomelinge van slawe  wat lank deur die Egiptenare uitgebuit is en deur God uit die slawehuis bevry is.

    Hoe jy hiervan aflei  dat hierdie reëling vandag nog van toepassing  is en 'sonde' vir Christene wêreldwyd is, is nie duidelik nie  asook hoe jy 'n verband  lê tussen rente (vir die lener die koste van kapitaal en die uitlener opbrengs op kapitaal) en homoseksualiteit .

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top