my kind, meneer (L, P)

  • 4

Annerdag beduie van die man wat vir sy vrou weekliks van daai vaseline koop wat so lekker ruik. Die pienk ene. En Dawn roompies en dalk 'n botteltjie Sadie onderarmrol. Ek is doodseker elke keer wat ek hom sien is hy maerder, en sy vroutjie raak by die dag al meer vrou. Groot vrou bedoel ek. Wat hy haar voer weet ek nie maar ek is doodseker sy eet alles op sodat daar niks vir hom oor is nie.

Ek hoor hier vroegoggend so kort na twee die sirenes en die gedoente en die foon lui nie so mens neem mos maar aan dis weer iewers ver weg wat iemand iets oorgekom het. Mens is mos maar altyd, waar dit die Boere, ambulanse, brandweer en dies meer betref altoos verlig as jy hulle eerder sien verbyry. Verder van jou eie skade en skandes.

John R kom vroegoggend met die nuus: Het ek al die pad na die Causeway gery vanoggend? Ek beduie hom van my tronk met die oop deure en hy knik en beduie ek moet loop kyk: Daar lê 'n bloedstreep honderde meters ver al met die pad langs. Iemand is doodgery beduie hy. Ek vra hom wie dit is en wie dit gedoen het en hy beduie my dis Vaselien en Dawn (ek weerhou, logies, sy naam uit respekte) man se klong. Tref en trap. Lelike besigheid want die drywer moes sekerlik ver oor die limiet gewees het en het dalk uit vrees om uitgevang te word weggery. Die klong getrap en gesleep so ver as wat die bloedstreep was. Wat ons toe later uit die Boere se bek hoor presies 293 meter was. Ek beduie hom van my verlede en my weersin in bloederige besigheid en hy knik en ons bespiegel oor die reën want dit is nie mooi om gedurig oor bloed te ry nie. Nog minder as jy al die pad van die Causeway af moet stap en letterlik jou kind se bloed tree vir tree moet afmeet nie. En soos dinge toe maar gebeur kom die reën genadiglik en doen wat die Boere eintlik veronderstel was om te doen: ten minste die bloed wegwas.

Vaseline kom later die week hier in en ek’s nie goed met simpatie nie en gee maar blad en beduie dat dit kak is en die gewone goed wat mens mos maar moet beduie. Hy beduie dat hy al heeldag sy kind se graf grawe en dat hy nou dors is. Ek gee hom 'n bottel coke en ek sien sy hanne bewe en ek sny vir hom van Britos se ham en tong en hy kou kaalmond aan die halwe broodsnye. Ek vra hom oor die graf en of ek nie maar die ding moet uitbou vir hom nie en hy beduie my: "Maarg ek hettie geld nie meneerg" en ek beduie hom dat mens nie iemand in rou geld vra nie en hy skud sy kop en beduie my dat hy dit self wil doen. En "Nee, meneerg, my meneerg het ook aangebied maar ek het net 'n graaf gesoek en hy het my uitgehelp. Ek's ok meneerg. Die graf sal reg wees vir Saterdag."

Die begrafnis was blykbaar 'n groot gedoente want dis 'n groot familie met baie ooms en tannies en neefs en niggies. Ek ry vanmiddag terug van Wild Oats af en ek sien vir Vaseline langs die pad langs 'n flenter Renault 5. Bonnet oop, al die deure oop. Ek vra wat dan nou en Vaseline kan nie 'n woord uitkry nie. Hy is stamelend en vallende dronk. Ek vra oor die kar en iemand beduie dat die ding geraas gemaak het hier by die voorwiele en soos hulle beduie het is dit CV's en jy gaan hom nie langs die pad reggemaak kry nie.

Ek vra hom oor die diens en seremonies en hy beduie struikelend vir my dat hy nog moet begrafnis toe.

"Ja, maar my ou maat, was die diens en ter aarde besigheid dan nie veronderstel om vanoggend te wees nie?"

"Dan het ek my kind se begrafnis gemis, Oester" en sy woorde raak weg in die Suidoos wat besig is om op te steek.

Ek wonder oor hierdie ding en hoe mense rou. Die mense beduie laatmiddag kopskuddend hand oor die mond dat dit nie mooi is dat Vaseline nie eens by sy eie kind se begrafnis was nie. Dat hy dronk was in die donkerste uur van rou.

Ek wonder egter, want niemand ken die pad van die ander nie. Die een rou met trane die ander rou binnetoe en soms rou mens dalk beter met 'n seskan Oom Tas.

oester

  • 4

Kommentaar

  • Tiens Pretrius

    'n Baie hartseer storie.

    Mens kan verstaan dat party ouens, veral alkoholiste, na so 'n skokkende en hartseer gebeurtenis, hulle tot drank wend. Ek het dit al self gesien.

    Dankie vir 'n goeie vertelling wat mens weer laat dink oor ander se pyn

    Tiens

  • ek onthou my bra (as dit my bra is wie ek dink dit is). hy was in elk geval 'n cool dude gewees, ten spyte. hy het nie verdwyn nie want ek onthou hom, die bottel ten spyt.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top