Mense leer nie

  • 0

Nou die dag op die program Praatsaam vra ‘n inbeller twee vrae. Hy wou eerstens weet watse soort straf kry ‘n ou wat hom wangedra in die parlement, word hy maar net oor die vingers getik of wat en, tweedens, wou hy iets anders weet, ek kan nie meer onthou wat nie.

Evenwel, die programleidster verduidelik toe vir die gas (een of ander deskundige in parlementêre prosedure) wat die ou gevra het want die telefoonlyn was nie te vars nie. Sy herhaal egter net die laaste deel van die vraag en dit is toe waar dit bly, hulle het nooit teruggekom na wat die ou eerste wou weet nie.

Ek het baie sulke gevalle gehoor. Een wat ek spesifiek onthou was ‘n onderhoud met André P Brink, jare gelede. ‘n Inbeller wou weet a) hoekom is die swartes in sy stories altyd so viriel en die wittes impotent en b) nog iets en ek kan nie onthou of daar ‘n derde deel ook was nie. Brink het geantwoord maar nooit by gedeelte a uitgekom nie. Dit kan wees dat hy dalk wel het, dat ek wegbeweeg het van die radio af maar ek twyfel want ek was nogal nuuskierig om sy antwoord te hoor.

Mense wil maar nie leer om een vraag op ‘n slag te vra nie, veral as hy ernstig is om ‘n antwoord te kry.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top