Meeste van die tyd

  • 2

Dis al weer Maandag en dis al weer die einde van nog ’n maand. Dis al die negende maand van hierdie jaar wie se neusie verby is, maar tog, is die jaar se einde daar êrens in die verskiet.

Vanoggend merk die een werksgenoot op dat hy nie kan glo waar die jaar op die kalender trek nie. Hy sê dit voel vir hom asof daar ’n week of sewe in die niet ’n draai gaan maak het en dat die tyd nou te vinnig verloop. Terwyl ek na hom luister herinner my gedagtes my aan dieselfde woorde wat Oupa destyds, en soms Moeder ook, so graag gedeel het: “Elke jaar voel korter as die vorige een; ek weet nie wat van die tyd geword het nie.”

Tyd en sy genadelose verloop word graag as die horlosie-kyker se grootste vyand beskou. Moontlik is dit juis vanweë ons algemene onvermoë om die wonder van tyd deur die bril van wil en dank behoorlik raak te sien. Daar staan tog geskrywe: “Wie die reg en die geduld het, vir hom kom ook die tyd.”
Of wat van die aardsuitdaging: “Tyd is die enigste kritikus sonder ambisie.”

Uiteraard kan ons nie ons lewens in afsondering van tyd bedink en leef nie. Hoekom is dit dan so dat ons buitensporig, so onbesonne in ons vermorsing van tyd, veral in die jonger jare, hardnekkig aan ‘n tydlose lewe en uitstel na môre bly vasklou?
Jy kan nie 'n gemorsde uur skei van die duur van jou lewe nie. As jy jou tyd mors, moet jy tog jou lewe mors. As jy jou tydsgebruik verbeter, kan dit sekerlik nie anders as om jou lewe te verbeter nie. Tyd is 'n gelyke geleenthede werkgewer.
Elke mens het presies dieselfde aantal ure en minute beskikbaar in elke dag. Ryk mense, dik-dik tjekboeke en kluise vol juwele kan nie meer ure koop nie. Wetenskaplikes kon nog nie uitvind hoe om ’n paar sakkies nuwe minute in ’n middag te maak nie. En ek, wel ek kan nie vandag genoeg tyd maak om dit op ’n ander dag te spandeer nie. Minder nog, om die tyd wat verby is terug te koop nie.

Net so is tyd egter ook tog ongelooflik billik en vergewensgesind. Dit maak nie saak hoeveel tyd jy in die verlede vermors het nie, jy het nog 'n hele môre wat voorlê om die teenoorgestelde te doen. Sukses hang van die oordeelkundige gebruik van daai wonderlike nuwe dag se dinge af, van sy prioriteite en sy doen en sy late. Baie van ons verstaan ongelukkig nog nie die waarheid daarin, dat die tyd wat ons op hierdie aarde neem om ’n voetspoor of twee te trap, wel genoeg kan wees sodat ons mag doen wat reeds vir ons beplan was om te doen nie.

Sommige van ons se grootste vrees is om nie die hele tyd besig te wees nie. Ons het so verstrengel geraak aan die lewenswyse wat gekoppel is met “so many things to do; so little time”, dat ons “gou” alles moet doen; desperaat deur die lewe probeer lewe, net om alles gedoen te kry. Al verg dit oortyd werk, vinnig eet in die motor en al gillende en skellende straatwedrenne tussen vergaderings en afsprake hou!

Vandag is die dag om iets wat 'n bietjie ekstra tyd in beslag neem te doen. Miskien sal dit 'n daad van vrygewigheid wees of ’n oomblik van vriendelikheid of om jou geliefde minder soos 'n vreemdeling te laat voel.
Miskien sal dit die werkslas ’n lekkerte maak, deur die dag met 'n lied van lof en dank te begin. Om geen ander rede te hê nie, behalwe dat jy net jou hart vol van dankbaarheid wil maak. Moenie vir 'n ander tyd wag nie my ou, juig in hierdie dag en wees kalm!
Tyd is die onverklaarbare rou materiaal van alles in hierdie fabriek waarin ons lewe. Met dit, is alles moontlik; sonder dit maak niks sin nie en het niks werklik waarde nie. Dis verstommend en onbeskryflik bevrydend om elke oggend ’n vars stukkie tyd in ontvangs te neem en die daaglikse wonderwerk daarvan te bekyk.

In die koninkryk van tyd is daar geen aristokrasie van rykdom, geen akademiese elite en vlakke van verstand en geen politieke wil of voorsittende regters en leiers nie. Genieë was nog nooit deur selfs 'n ekstra uur in 'n dag beloon nie. En daar is geen blywende straf nie.
Jy kan nie peiltrek op die toekoms nie. Jy kan wel die verbygaande oomblikke laat verspil, maar jy kan nie môre verwoes nie; dit is vir jou gehou. Jy kan nie die volgende uur verwoes nie; dit is vir jou gehou. 'n Wonderwerk. Is dit nie?

Beter nog, hoe sal ons tydservaring wees indien ons verby die fisiese minute en ure en dae sou loer? As ons tyd as die beste moontlike aanwending van ons menswees, plesier, geld, liefde, respek en die ontwikkeling van ons onsterflike siel sou beskou?
Die “reg” gebruik van hierdie tyd en die mees “doeltreffende” gebruik van hierdie tyd, is die direkte gevolg van watter dringendheid bedags die hoogste is en watter uitkoms vir ons die mees winsgewende mag wees. Alles hang daarvan af.
Jou geluk - die ontwykende prys wat jy vashou my vriend - hang daarvan af.

Ons hét tyd en ons het nog altyd tyd gehad, want tyd is toe al die tyd net daar.

  • 2

Kommentaar

  • George Bekker

    Hennie, ek het jou brief geniet. Die eerste was die jaar wie se neusie verby is – het nog nooit so daaraan gedink nie.

    Die Bybel sê: “Koop die tyd uit”. Daar is egter 'n gevaar aan te veel tydsbenutting, as 'n mens dit so mag stel. Mens kan van die een werk of afspraak na die volgende jaag en so besig raak dat jy nie die lewe werklik ervaar nie of nie kans het om jou ervarings te verwerk nie. In vandag se materialistiese gejaag is dit 'n wesentlike gevaar.

    Goed gaan.

    George

  • Hennie ek het dit geniet om jou brief te lees. Mens kan filosofies en liries raak oor tyd. Ek het iewers gelees, "verloor 'n minuut in die oggend en jy soek heeldag daarna". Soos jy noem, tyd is 'n heler van gebroke harte, tyd is 'n geneesheer van pyn en smarte. Verspeelde  tyd kan jy nie koop nie. Tyd is nie te koop nie. Ek het baie tyd, maar nie tyd om te mors nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top