Letterlike Belydenisse

  • 4

Beperk ons Jesus?

Die naam Christen maak Jesus noodwendig die simbool van meeste mense in ons land se geloof. Calvinistiese kerke het hierdie geloof probeer vaspen in formele belydenisse wat in besonderhede uiteengesit is. Dit word lank reeds bevraagteken, byvoorbeeld of:

1.       ’n Beperkte en tydsgebonde belydenis met onbeperkte en tydlose bande versoen kan word; en

2.       Jesus se bre? riglyne vasgepen kan word in ’n letterlike dokument.

Die Sinode van Dordrecht het in 1618 voorskrifte neergelê vir gereformeerdes in ’n uitsluitende geloofsbelydenis, onder meer oor uitverkiesing. In besonder het dit in ’n teoretiese twis met metodiste ’n absolutistiese standpunt ingeneem teen die siening dat geloof ook doen insluit.

Die drie formuliere van eenheid in hierdie belydenis het tot ’n groot mate op die outoritêre sieninge van Calvyn gesteun. Dit is noodwendig deur die wêreldsiening van sy tyd beïnvloed en geld vandag nog onveranderd. Maar kan jy op skrifuitlegte steun wat geskoei is op beskouings van 400 jaar gelede asook dispute wat reeds bygelê is en nie meer met vandag se insigte te versoen is nie?

Ptolomeus se siening dat die aarde die middelpunt van die heelal was, het toe die denke oorheers. Die mens het sentraal hierin gestaan.

Die basis van daardie wêreldsiening was reeds omvergewerp deur Copernicus se bewys dat die planete om die son roteer. Dit is in 1543 gepubliseer maar was nie voor Calvyn se dood in 1564 algemeen aanvaar nie. Galileo Galilei wat in Calvyn se sterfjaar gebore is, moes later onder dwang van die Katolieke Kerk sy bevinding terug te trek dat die aarde rondom die son beweeg.

Kerke is slaafs nagevolg deur ’n grootliks ongeletterde bevolking onder wie Gutenberg se uitvinding van die drukpers ’n eeu vantevore, nog min effek gehad het. Teoloë se onderskrywing van ’n onverdraagsame morele kode het gevloei uit hulle tyd se veroordelende negatiewe gees en arrogansie oor uitsprake van wat die waarheid was.

Die Cartesiaanse ideal dat jy vir jouself moet dink is eers na Calvyn se dood gevestig. Isaac Newton moes nog die wetenskap omvorm en daarna onder meer Kant die filosofie, voordat Einstein alles gerelativiseer het. Die teologie sou groot ontwikkelings ondergaan en die sielkunde heeltemal nuwe perspektiewe bring.

Die 17de eeu se feodale stelsel het verdwyn onder rewolusies op industriële en politieke gebied. Ons lewe nou in ’n globale welvaartomgewing met al sy voordele van kommunikasie en inligting al het ons nog die armes met ons.

Aan die lig kant is ons psiges verweef in die uitbou van ’n humanistiese kultuur, individuele vryhede en relatiwisme. Maar aan die donker kant is ons deurdrenk van absolutisme en skuldprojeksies wat uitgeloop het in wêreldoorlog en wapens wat alles kan uitwis.

Glo ons steeds aan die uitsprake van Luther op grond waarvan Desiderius Erasmus se toenadering en Zwingli se simboliek verwerp is, en die teoretiese verskille van Calvyn wat Servetus na  die brandstapel sou stuur? Of glo ons eerder aan hierdie hervormers se aandrang op die sentrale samehang en bedoeling van die Bybel wat hulle aangespoor het om letterlike uitlegte van die Skrif te oorkoepel en die godsdiens suiwerder te maak.

Probleme met ’n statiese belydenis ontstaan wanneer letterlike interpretasies oor die “waarheid” nie meer slaag om die instinktiewe in die lewe en die godsdiens te verklaar nie. Veral wanneer die tradisie waarin jy groot  geword het, uitgedien is en grootliks gebaseer was absolute voorskriftelikheid oor wat jy  moet glo.

Kan deel van die louheid teenoor die kerk toegeskryf word aan dogmas wat aan tyd en plek gebonde was maar nog bely word? Eerder as om oor woorde te struikel en persepsies van Calvinistiese verstokthede en onverdraagsaamhede te probeer wegredeneer, sal daar nie meer bereik word om in die gees van Ubuntu ons verskeidenheid te omhels in begrippe wat sinvol is vir ons tyd nie?

Dit sluit aan op tweede vraag hierbo of dit hoegenaamd nodig is om ons geloof te dokumentêr sonder om plek te maak vir alternatiewe sienings? Het Jesus nie juis voorskriftelikheid uitgesluit deur in gelykenisse te praat om die waardes te reflekteer het wat hy wou belig nie?

Die Christelike godsdiens staan in ’n dinamiese verhouding met ’n evangelie wat nie staties bly nie en nie vervreemd en geskei kan word van die steeds vernuwende gees van ’n gemeenskap nie. Verwyderd van vorige outoritêre strukture bevraagteken mense die tradisionele moraliteit en ly die kerk onder die verwerping van sy letterlike mitologie.

Jung het gevra of die tyd nie ryp is om vir eens die Christelike mitologie simbolies te verstaan nie. Was dit net die mens wat God nodig gehad het, of ook God die afhanklike mens wat in Jesus verwesenlik is.

Immanuel beteken “God met ons” wat noodwendig ook verband hou met menslike intuïsie en die goeie en kwade in vandag se kollektiewe onderbewussyn.

Die metafisiese uitleg vir die oorsprong van goed en kwaad het byvoorbeeld ’n groot sielkundige kleur bygekry. Eerder as om kwaad aan die mens se val toe te skryf, vra Jung wie die slang in die paradys geplaas het – dit was sekerlik nie Adam of Eva nie. Volgens hom kan die mens eers sy skadukant ernstig opneem as kwaad as ’n lewende entiteit gesien word en nie bloot as die afwesigheid van die goeie nie.

Kant redeneer dat God nie in die re?le rasionele menslike geskiedenis optree nie maar buite die veld van fenomene wat wetenskaplik verklaar kan word. Hy tree op in die noumena, die bo-wesentlike terein buite die ondervinding en logika, wat in geloof geopenbaar word en intuïsie die bron van godsdiens maak.

Geloof is ’n werklike, feitlike en wederkerige band met die absolute vir Kierkegaard en is alleen bindend as dit die hele lewe insluit. Dit beteken dat die absolute die verhouding as ’n persoon binnetree. God is nie in sy majesteit vasgevang nie maar is met, vir en by die mens.

Die ek en jy verhouding maak die lewe volgens Martin Buber ’n eindelose dialoog met God. Dit beteken vryheid en spontaneïteit en nie die las van vergane tradisies nie - ons kom God tee in ons ontmoetings met ander mense. 

Vir Karl Barth is die doel van die Bybel die openbaring van Jesus en maak die nuwe verbond, waarin die Woord mens word, ons vry van ons obsessie met verlossing. Dit los die mag by God en gee aan ons die verantwoordelikheid om Jesus se wegwysers op sy pad te volg.

In hierdie gesindheid sal jy barmhartigheid raakloop maar nie die American Dream nie. In daardie welvaartsdroom is Jesus ’n middel tot ’n verlossingsdoel en nie die doel self nie, en word hy slegs ’n hek om deur te gaan as ’n pad om te loop.

Dietrich Bonhoefer skryf dat ons kennis van God nie op eie ondervinding gegrond is nie. As ons kon bepaal waar om God te vind, sou hy gemanipuleer kon word om by ons natuur in te pas of om hom vir ons aanneemlik te maak. Maar God het besluit waar die ontmoeting sou wees – daardie plek is die kruis van Jesus en iemand wat God daar wil vind, moet nader aan die kruis beweeg op die manier wat in die Bergpreek bepaal is. Al pas dit nie in by jou rede nie en is dit vreemd aan jou kultuur of natuur, is dit die plek waar God besluit het om jou te ontmoet.

Is bekering dan nie om uit die donkerte van konformiteit op te staan vir dié soort van menswees wat vir Jesus verlaat van almal, selfs Petrus, laat sterf het nie.

Die Bybel gaan oor God se verhouding met die mens. Sy goddelikheid in ons word verloën met middelmatige verwagtings soos om nie versoening te bly soek nie omdat ons reeds versoening ontvang het. Die kerk met sy nadruk op ’n ons en hulle kollektiwiteit, verloor daarin die persoonlike verhouding tussen mens en mens.

Gandhi het gesê dat hy van Christus hou maar nie van Christene nie. Dit is omdat Christus vir hom inklusief was en Christene eksklusief.  Is dit nie ook die basis van die jare van minagting van ons naaste se menslikheid in ons land wat so min plek gelaat het vir goedertierenheid nie.

Die eerste kerkskeiding op rassegrondslag in Afrikaanse kerke het binne 20 jaar na die vrystelling van slawe geskied – onder meer om te keer dat hulle die kerkleiding kon betree. Dit het oor mag eerder as liefde en vertroue gegaan.        

Die boodskap van die opneem van jou kruis is gevolglik afgewater in die realiteit van ons kerke se lewe, wat meegebring het dat die Bergpreek van sy krag as hul credo sou verloor. Hoe kan ’n kerk ’n goeie verhouding met God hê as sy lede nie eens onderling ’n verhouding met mekaar het nie.

Ons kan saamkom en kleinlike verskille opoffer om die groot prys van eenheid in Christus na te jaag soos Pous Franciskus vir wie geloof, soos in Hebreeus, ook doen insluit. In die plek van uitgediende tradisies probeer hy vernuwing bring met simboliese optredes en uitsprake om vensters van hoop oop te maak en die vars lug van insluiting en nederigheid in te laat.

Ons is nie in staat om die rykdom en vryheid van God se almagtige genade na te speur nie en ken nie eens onsself nie – hoe kan ons seker wees wat die waarheid is? Nederigheid oor ons geloof hoef geensins ons vertroue in Jesus te skend nie.

Miskien kan ons saam met Isaac Newton bely wat aan die einde van sy lewe gesê het: “I do not know what I may appear to the world, but to myself I appear to have been only like a boy playing on the sea-shore, and diverting myself now and then finding a smoother pebble or a prettier shell than ordinary, whilst the great ocean of truth lay all undiscovered before me.”

Meer as om belydenisse soos Dordt te vervang, sou dit nie verkieslik vir kerke wees om weg te doen met die inherente dwang van skriftelike beperkings nie en bloot te vertrou op die onbeperkte Woord wat mens geword het. Of vra ons steeds soos Pilatus, “wat is die waarheid”, terwyl dit voor hom en ons staan?

Dan Badenhorst

  • 4

Kommentaar

  • Dan Badenhorst

    Goed en geleerd opgestel

    Maar waarom die klem alleenlik op Calvinisme wat net 6.5% van die bevolking uitmaak?  Wat van die ander meer as 73% Christene in hierdie land?  Wil jy Calvinistiese dogma daardeur probeer wysig?

    Met jou aanhalings van al die geleerde skrywers wat ook onderling verskille het, wil dit voorkom dat hulle aanhef vir jou meer gesaghebbend is as die van die Bybel self.  Elke skrywer het sy besonderse vertolking rakende die lewe, wat goed en wel is, maar aansluiting met die Bybel is seer sekerlik nie hulle hoofdoel nie.

    Die gemiddelde Calvinistiese leek, soos die geval met ander kerke  se leke, is heel onkundig betreffende hulle kerkleer.  Die meerderheid woon kerk by om 'n boodskap vir die dag van hulle dominee, pastoor, priester, ens.  te verkry.  Die meerderheid is ook in sy besonderse kerk weens die godsdiens-tradisie waarin hy gebore is. 

    Daar is ander as net godsdienstige faktore dat daar 'n afname onder veral blanke kerkbywoning plaasvind, faktore soortgelyk aan wat aanspreeklik is vir die afname in kerkbywonging in beide Katolieke en Protestante lande van Wes-Europa.  In teenstelling is daar 'n toename in swart "home grown" kerkbywoning, en Ortodokse Oos-Europese kerkbywoning, beide vir verskillende ander redes.

    Die Babiloniese verwarring onder die magdom sektes en vertakkings van die Christendom in hierdie
    en ander lande, tesame met die duisende weersprekende-boeke oor Bybelse vertolking; is genoegsame rede vir die gewone leek om hom nie te geleerd met die Christendom te wil wees nie.

  • Jaco, ek stem saam met jou kritiek dat 'n mens nie arrogant oor geloof kan wees nie. Maar keer dit jou om krities oor die inhoud daarvan te wees as jy van mening is dat die tradisie waarin dit staan, uitgedien is. Weg van outydse outoritere strukture is ons op onsself aangewese om dinge te bevraagteken wat verhoudings vertoebel en fiktiewe werklikhede aan ons voorhou. As jy defensief oor jou tradisie is, kan jy dit verpolitiseer - veral wanneer jy met vergelykings en statistieke die skadukant van jou eie natuur op ander projekteer. Vir my persoonlik het van ons kerke se letterlike beeld van Christus te steriel geword om aan die bergpreek se eise te voldoen.  
  • Dan

    Ekskuus.  Het hierdie respons onder die verkeerde brief gepos, en herhaal dit hier waar dit hoort.

    Dankie vir jou terugvoer. Ek haal aan 'n response wat Kobus de Klerk aan my gerig het, wat op jou brief ook toepaslik kan wees, nl.

     "religie is maar al te dikwels die handewerk van die mense wat dit bedryf, maar dit is sekerlik nie iets waarvoor jy God kan verantwoordelik hou nie. Jy behoort mos al teen hierdie tyd te weet - God en religie is nie een nie.  Religie word deur die mens ontwikkel om te probeer om God daarmee te dien, maar dit kan God nie definieer nie".

    Hy het dit aan my geskryf wetend ek is 'n ateis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top