Kom by met handboeke, skole

  • 0

Daar is verskeie goed wat ek meer aangenaam vind as om jaarliks skoolklere en boeke te koop vir die volgende skooljaar. Daardie goed sluit in wortelkanaalbehandeling asook 'n oudit deur die Ontvanger.

(So van die Ontvanger gepraat: Moenie dat ek eers begin warm om die kraag raak oor waarom dit nodig sou wees vir my om astronomiese inkomstebelasting, skoolgelde EN nog handboeke te moet betaal nie. Julle kan my ook nou seker daarop wys dat dit bloot my eie skuld is dat ek my kinders by skole wat nog in die 1800's vasgevang is, loop inskryf het, terloops.)

Maar waaragtig, die skoolboeke en skoolklere is 'n geweldige rip-off! Die debat oor duur skoolklere is 'n ou een, maar deesdae is die handboeke ook 'n groot pyn. Ons een skool dwing jou om die handboeke by slegs een verskaffer aan te koop. Die hele spulletjie; handboeke, skrifte, penne, gom en lêers werk uit op 'n aardige R3500 of so, en dis net vir die een jaar.

Ek is jammer, meneer die skoolhoof en mevrouens op die Beheerraad: Ons woon in die era van die internet; van iPads en van e-boeke. PDF-dokumente kan enige iemand opstel, selfs die tiksters in die skool se kantoor, met insette van die onderwysers. 'n iPad kos so tussen R300 en R400 per maand op 'n goedkoop kontrak by 'n selfoondiensverskaffer. Gaan koop vir jou kind 'n iPad, laai die skool se eie PDF-handboeke en -oefenboeke op die iPad af, en siedaar! Binne twee jaar het daardie iPad vir homself betaal, want die jaarlikse kontrakgelde is amper dieselfde as die koste van die handboeke.

Vir die oorblywende 5 jaar van die laerskool, of vir die oorblywende drie jaar van die hoërskool, is die arme ouers in die swart, in stede daarvan om elke jaar gerook te word vir handboeke. Kom tog net by, skole!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top