Klein Pielietjie

  • 0

Onbewus van wie die kleine mannetjie was het ek hom maar so genoem. Kleine tingerige stukkie mens wat heeldag met 'n glimlag rondgeloop het. Krom rug, hoenderbors en met sy snaakse stappie het hy altoos kom vra vir sy los entjie en dan vra ek hom of hulle hom Klein Pielietjie noem omdat hy so groot bedeeld is. En dan lag hy straat af. Nie net lag nie, skatelag.

Ek vra hom noudiedag hoeveel birds hy al gehad het en hy knipoog vir my asof ek moet weet en hy beduie vir my dat die vrouens van vandag erg jaloers is. Hy sien nie meer kans vir hulle nie en hy vry nou maar wat hy sy hanne op kan lê. Ons beaam dat dit 'n moeilike ding is as mens eers die dag die vrouens moet weghou van jou lyf af en ek lag glad nie as ek met 'n man sulke waar dinge bespreek nie.

Ek stap Saterdag hier in en ek sien baie manne en maninne loop met gewyde en kerklike klere rond en mens vra mos maar wat die okkasie is, want netnou was daar dalk 'n gratis dop of twee brannewyn wie weet? Hulle beduie my dit was begrafnis. Klein Pielietjie s'n.

Jy weet mos hoe enige doodstyding werk veral as dit onverwags is ... Hoe? Waaraan? Wie het sy graf gemaak en hom uitgelê (mens laat nie die dood 'n geleentheid om 'n paar rand te maak en iemand behoorlik te bêre verbygaan nie)? Hartaanval. Die jonge man wat soos 'n ou man gelyk het was nog nie 18 nie.

By navraag hoor ek toe die jonge man se verlede ...

Hy is van kleins af deur sy eie bloedpa misbruik. Mishandel. Weerloos gelaat en weer en weer misbruik. Verkrag. Geslaan sodat sy kop en kleine lyf net nie meer die houe kon verduur nie en moes ingee. Moes later, omdat die stelsel hom gefaal het, ronddwaal en wegdwaal om net van die liefde van sy bloed te ontsnap. Hulle sê dis waar hy sy agterstand gekry het. Die dat hy so gedurig geloop en entjies soek het met sy vyf rand. Later ingeneem deur verlangse familie wat hom behoorlike ou klere en 'n dak oor sy kop en drie etes per dag gegee het.

Moes lank sit en dink aan my eie onsinnigheid om sommer net mense name te noem en sommer net te vat op wie hulle is. Ek beduie vir Queen (dit is haar geboortenaam) dat ek spyt is en sy lag en sê dat Klein Pielietjie se hoogtepunt van sy dag was om straat af te stap om sy entjies te kom haal. Want, sê sy, hy het gevoel asof hy soort van hou van die mense wat darem met hom gesels.

Ek ry vandag verby sy vars graf en ek blameer myself dat ek nie eens die moeite gedoen het om sy blad te skud en sy regte naam te vra nie. Hopelik, eendag, sal my, en dit wat mense sy pa noem, se paaie dalk kruis.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top