Kan jy jou dit indink?

  • 1

Dis Junie êrens in een van die skoolvakansies in die eerste helfte van die tagtigerjare. Dit kan eintlik enige Junie van daai jare wees, want soveelkeer het ek op hierdie plek gesit, deur dieselfde venster gestaar en dieselfde denke gedink ...

Johannesburg se koue lê in ’n wit ryplaag teen die golwende heuwel, wat uit Hadfieldweg, op tot in Hillbrow teen die blokke en blokke woonstelle groei. Teen die grasbank, waar die straatkinders bedags hulle in die waterval teen Endstraat afkoel, skuifel ‘n paar bevrore blanke pioniers agter die vlasbosse en struike uit. Uit onder die bome tot af hier onder amper op die sypaadjie, waar die dag se eerste winterson ’n streep oor die oggendverkeer trek. Ek sit in my Ouma se woonstel se stoepkamer en hang met my kop teen die kantgordyn, om hierdie ongekende verskynsel dop te hou.

Waar ons woon ken ons nie van bedelaars en boemelaars nie; waar Ouma-hulle woon, is dit algemeen. ’n Pestilensie.

“Kan jy jou dit indink?” vra Moeder toe ons gisteroggend hier in die lower voorstad van Kaapstad winkels toe ry. Verby die soveelste bedelaar met ’n kartonbord wat die een of ander seëning of versoek om hulp bevat. Mens lees dit nie meer nie. Min weet Moeder egter hoe reg sy is, hoe gereeld ons weier, weier ek, om weer hieraan te dink...

Die slimmer maatskaplike kenners sê dat ons die mense by die verkeerspunte en op straat nie kos of veral geld moet gee nie. Hulle sê dat ons liewers die geld vir georganiseerde maatskaplike dienste moet gee. Vir instellings met rade en karre en kantore en personeel, sodat hulle die geskenkte geld wat oorbly, vir die mense by die skuilings en bewaarskole en huise vir verwaarloosde vrouens, kinders en ongehude verwagtendes kan gee.

Uiteraard ná hulle die verlorenes eers met die voedsel van die gees gevoed het. (Kommerwekkend dink ek tog – wanneer laas het ek ’n gebed ten behoewe van die sosio-maatskaplik gestremde gemeenskap gehoor ... of gedoen?)

Ja, gewis, dink ek so amper hardop, hierdie hedendaagse stryders van die strate word van baie slegte gewoontes en eienskappe beskuldig.

“Hulle is te lui om te werk.”

“Hulle suip al hul geld uit.”

“As hy kan rook, dan kan hy werk ook.”

Al hierdie en meer gedagtes is sekerlik regverdigbare standpunte wat baie gereeld in koerantbriewe, op sosiale netwerke en by kerklike kleingroepies bespreek en gedebateer word.

Maar, kan jý jou dit werklik indink?

Hoe vervaard en meegesleur moet ‘n eens gesonde mens se brein en chemiese samestelling word, om toe te laat dat slegs die basiese oorlewingsinstinkte oorbly?

In die oggend word jy wakker wanneer die verkeer begin spoed optel. Staan op, vat jou bedelbord en gaan verkeerslig toe. Staan die dag in die Kaapse wind en son en nog wind en reën. Namiddag, wanneer die laaste stoet spitsverkeer verbyskiet na die kospotte van hul voorstedelike kastele, dan tel jy jou fonds vir die dag en begin stadig aanstap na die winkelsentrum. Miskien sal die wagte jou nie vanaand sien en verjaag nie. Miskien sal jy dan gou-gou by die naaste badkamer kan insluip en ’n bietjie lyf was ensovoort.

Klaar gewas. Nou vir ’n bottel nagrus en die bokse regkry vir later se slaap. Môre, wanneer die wyn uitgewerk is, sal jy weer die stryd aanpak, maar hopelik en as daar genade is, sal jy nie môre-oggend wakker word nie. Sal jou lyding deur die nagengel verlos word en sal die ander bewoners van die straat jou hopie besittings opraap en verdeel; sal die staatslykshuis jou kom haal en sal die mense wat jou deur die toe vensters van hul luukse voertuie miskyk, nie meer so ongemaklik of veroordelend hoef te voel nie.

Kan jy jou dit werklik indink?

Hy was ook eenkeer 'n kind, sy moeder se oogappel, moontlik haar enigste.

Sy vader het hom nie veel geleer nie en nooit vir hom gesê: “Wat ek jou sê, moet jy vashou, my voorskrifte moet jy uitvoer, sodat jy werklik kan lewe.”

So het niemand help sorg dat hy wysheid of insig bekom nie! Hy het nie die vloek- en skelwoorde vergeet nie en van die mislukking kon hy nie afwyk nie. Die wysheid was nooit sy metgesel nie, dit kon hom nie beskerm nie; as hy dit maar sou liefhê, sou dit hom moontlik veilig kon bewaar.

(Dankie, Salomo, jy was toe reg.)

  • 1

Kommentaar

  • Hennie, ek sou sê dis beter om vir die bedelaar 'n geldjie te gee as vir een of ander organisasie waarvan 80% van die geld in 'administrasie' (lees speknekke se agtersak) ingaan en die betrokke bedelaar net mooi NIKS daarvan sien nie.

    So, ek sê, gee hom 'n geldjie en sê dis vir wyn en sigarette, die ander mense se geld kan hy vir kos gebruik en weerhou oordeel want, but for the grace of God, there go I.

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top