Heyneke Meyer

  • 0

Heyneke Meyer is ‘n briljante rugby-afrigter. Daarvan getuig die suksesse ( twee S14 bekers) van die Bulle onder sy afrigting. Een van sy sterkpunte is duidelik sy vermoë om die beste uit sy spelers te haal. Sy lojaliteit teenoor spelers is waarskynlik ‘n faktor in sy vermoë om hulle te motiveer. Dalk blinde lojaliteit by tye. ‘n Moet wen van 92-3 teen die Reds in 2007 toe sy span die bykans onmoontlike vermag het, getuig hiervan.

Meyer het ook al sy swak seisoene gehad. Die Bulle het nie net trofee gewen nie, maar ook al onder hom by meer as een geleentheid die onderste deel van die puntelys beman. Die Engelse span, Leicester, het nooit onder hom gedy nie. Hy ken duidelik die soet en suur van rugby. Die uitstaande van sy afrigting-era is dat hy die goeie smaak na die slegte ervarings. Die Bulls sukkel eers onder hom en dan ruk hy hulle reg.

Toe hy as nasionale afrigter aangestel is, was daar algemene tevredenheid. Drie kenmerke staan uit in sy era as nasionale afrigter: sy geloof in ervaring, sy konserwatiewe spelpatroon en sy voorliefde vir en lojaliteit teenoor spelers wat hy ken, veral uit sy vorige provinsie. Dis my probleem: hy is nou nasionale afrigter. ‘n Nasionale afrigter behoort na die belange van alle spelers in sy land om te sien. Almal behoort ‘n gelyke kans te hê om die Springbokspan te haal. Dit is nie so nie. Dink Wynand Olivier en Zane Kirchener. Hulle sou nooit die jongste Bok 23 gehaal het as hulle vir ‘n ander franchise gespeel het nie. Die ander kant van die munt: Marnits Boshoff sou waarskynlik Saterdag in die begin 15 gewees het as hy nou nog in Pretoria rugby gespeel het.
Dan die veteraan: Matfield het gespeel (en elke denkbare trofee gewen), uitgetree, was TV analis, het afgerig en speel nou weer. Wanneer is genoeg genoeg? Victor en Bakkies staan in die plekke van jong uitmuntende spelers. Lood de Jager se gesigsuitdrukking en lyftaal het boekdele gespreek toe hy vir Bakkies vervang het. Dis asof hy, as jong speler besef het dis ‘n kans in ‘n miljoen om vir die Springbokke te speel met Bakkies en Victor in die rondte. Ten spyte van Lood se skitterende spel moes hy daarna weer agter in die ry (na die Bul Flip) inval. Dan is daar nog jong wêreldklasslotte soos Etsebeth en Du Toit. Waar bevind hulle hulle nou in die ry?

Sy spelpatroon. Willie Le Roux was nooit sy eerste keuse nie. Kirchener was. Dit was eers na kwaai druk in die media en van analiste dat hy gekies is. En wat maak Willie nou? Met hoe hy sy spelpatroon wou afdwing (stormram en geweld), het hy vir Jaco Taute, JJ Engelbrecht en nou JP Pietersen buite hul posisies op senter laat speel. Spiertiere ten koste van spelbrekers. De Jongh, Sithole, Jordaan kan vergeet. Oor sy transformasie agenda wil ek nie praat nie. Ten minste sou ek verwag dat Dlovo bo Kirchener en Sithole bo Hougaard gekies word teen die Skotte.

Dis uiters onbillik dat spelers wat buite die Bulle opset is nie ‘n gelyke kans het om vir die Springbokke te speel nie. Later sal briljante spelers soos Pollard ook gesien word as ‘n speler wat ‘n voorsprong bo ander het omdat hy sy rugby in Pretoria speel.

PATRICK METTLER
LANGEBAAN

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top