Grahamstad Nasionale Kunstefees

  • 0

Soos die teenspoed dit sou wou sit ek steeds in die Spur op Grahamstad. Dit is snaaks hoe die teenspoed baie keer sy wil uitdruk op die laaste dag, uur of minuut van ‘n gebeurtenis. Soos ‘n vervolgverhaal wat gestuit word om by die “hierdie sal vervolg word”-gedeelte uit te kom. Net voor ‘n mens beplan om na jou eie ruimte, en wat jy as jou huis beskou, terug te keer, besluit jou bakkie: “Nie nou al nie, ou maat!”

Die studentedorp is stil. Omtrent net die Spur leef. As gevolg van munisipale stakings in die area lyk die hoofstraat soos ‘n ashoop. Hier en daar is daar tekens van partytjies wat dalk eers teen more-oggend met ‘n groot hoofpyn sal opklaar. Ek dink oor die week se feestelikheid, die produksies waarna ek gekyk het en my ervaring daarvan. Dit was my eerste keer by die Grahamstad Nasionale Kunstefees. Alhoewel ek al ‘n hele paar keer gaan kamp opslaan het by die KKNK en Aardklop, was ek nog nooit so tevrede met wat ek gesien en ervaar het nie. Wat ek uit die staanspoor opgemerk het was die professionele wyse waarop produksies aangebied is. Klank, beligting asook die plekke waar produksies, beide op die hoof- en fringe-platform, opgevoer is, was goed beman en het getuig van ‘n fees wat jaar na jaar op internasionale vlak kan kompeteer.

Dan was ek ook in besonder beïndruk met die verskeie informele platforms wat deur die organiseerders en borge geskep is. In die verband dink ek veral aan die sogenaamde WordFest en ThinkFest wat nie noodwendig deel van formele produksies(hoof- of fringe-platforms) gevorm het nie. Dié twee is op informele gespreksvoeringsvlak aangebied. Dit is interaktief en bied ‘n platform vir die bekende en die onbekende denker en/of skrywer. Dit bied ‘n sekere mate van blootstelling maar meer belangrik, dit bied duidelikheid, in die geval van die WordFest, byvoorbeeld, aan aspirant digters en skrywers dat hulle nie alleen staan in die stryd om publikasie nie. Verder help die tipe van platforms ook die digter/skrywer om te verstaan dat hy/sy nie die enigste een is wat gehoor of verwoord moet word nie. Andersyds, skep dié platforms ‘n gevoel van samehorigheid en die strewe na droomverwesenliking. Die hoogtepunt van my fees was een van hierdie Wordfest-sessies waartydens Denis Hirson sy bundel van saamgestelde gedigte (An anthology of South African poetry 1996-2013) bekend gestel het. Tydens die sessie het Hirson ‘n Engelse vertaling van Gert Vlok Nel se Beautiful in Beaufort-Wes voorgelees. Dit was voorwaar mooi gewees.

Ek weet dat ek volgende jaar hier sal wees vir dié fees se vervolgverhaal. Daar is ‘n gevoel van bevrediging in my binneste. Ek het baie gesien en beleef die afgelope week. Alles wat ek gesien en beleef het, beide op ‘n formele- en informele produksievlak getuig oor die feit dat daar wel ‘n ewewig in ‘n post demokraties-wordende Suid-Afrika kan wees vir ál sy kulture, hoe divers ook al. Vir al sy rasse, hoe kleurvol ook al. Vir al sy klasse, hoe gesegmenteerd ook al. Vir my het Grahamstad sonder twyfel laat verstaan dat dit soos vervat soos in die aanhef van ons Grondwet, wel haalbaar is, synde:

“Ons, die mense van Suid-Afrika, Erken die ongeregtighede van ons verlede; Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het; Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top