Genoeg

  • 0

Ek het nie in Kuilsrivier groot geword soos of selfs saam met Marion Holm en Nataniël nie. Ek het nie elke Dinsdag saam met die een se twee susters ’n koek gebak en versier voor ek huis toe gegaan het nie.

Ek dink Nataniel se stem het effens gebreek vandat hy meer na ‘n winkelier as ’n winkelpop lyk. En, my kopvel is seer gebrand na gister se son en wind.

Terwyl jy hier saam met my lees moet jy asseblief nie jou tong so ver laat uithang van verbasing dat die ding sonbrand kry nie of selfs die stof in jou kommerplooie bokant jou oogkaste laat vergader nie. Die dinge waarvan hier gepraat word, is nie uit die skatkis van geheimenisse gesteel nie. Nee, ek praat van die ergevolle geluister na die sinnelose geklak van mense wat voor ander mense opstaan en stories en wyshede op ‘n verhoog of kerk-teaters kwytraak. Amper so tipies soos die inhoud van hierdie skryfding ...

Laas Sondag het ek amper my godsdiens versaak en oorgestap na die jehova’s of daai ouens wat ‘n Sondag op ‘n Saterdag vier of die klomp wat glo vader krismis is die antichris. Genadiglik was die vars trop hotnotsvye en die skalkse maan doer bokant ’n Bloekomboom se ryk my redding van die sweep van kerklike tug en sensuur.

Gelukkig kon ek net bokant die enkelvrouvertoning se nabootsing van Nataniël se eentonige stem, wat nogal meer soos hyself klink, saggies hoor hoe roep die bedding vol vye my vir ’n bietjie water aan die einde van die warm Sondag. En daar terwyl die gemeente giggelend in teaterstyl die kerssangdiensvertoning geniet, het ek die roeping van die vye gehoor en die huis van die Here vir die beskerming van Sy goeie wil verlaat. Want hoe kon ek my lensiesoep aan hierdie vermaaktafel geniet, te midde van die skreeuende onheil in my binneste?

Die vye het die lafenis verwelkom en bokant die bronstige blare van ’n Bloekomboom in die wind het die nuwe aand se maan kleintjies gehang en hy het geglimlag...

Elke tweede Dinsdag van die nuwe maand van die destydse Kamer van Handel en Nywerheid hier in ons dorp (vandag nog by meeste Sakekamers en Rotary en selfs die Vrymesselaars) was daar ‘n funksie met ’n spreker. Die manne het hul werksplekke en praktyke en kantore verlaat om hierdie uitgelese en gerekende sprekers te kom beluister. Dan kry hulle op die koop toe ietsie te eet, geleentheid om die netwerkbande te versterk, ‘n kansie om ’n glasie wyn te geniet en dan na die werksplek of praktyk of kantoor toe terug te gaan. Soms egter, sommer net reguit huis toe.

Hoe groter die imposante waarde van die spreker was, hoe groter was die gehoor. Die sakemense en prokurowers en somme- en planmakers wou nie na Jan-en-alleman kom luister nie. Nee, wat sal hy of sy dan meer weet as die res van ons? Indien die spreker nie sakesukses-boodskappe kon deel nie, moes hy en later ook sy, darem vermaaklikheidswaarde gehad het. Dis mos lekker.

Die volgende week het ons dadelik begin om die nuwe maand se geleentheid te reël en die sprekers vir die nuwe jaar te bespreek. Elke jaar of kwartaal het ons begin met die stewige taak om onderwerpe van aktuele belang vir ons lede voor te stel en sodoende ons funksies en praatjies en visie daar rondom te beplan. Tot ek aan hierdie ete uitgevreet geraak het.

‘n Ruk gelede het ek ’n paar Vrydagoggende vroeg opgestaan en al slaapwandelend oorgestap kerk toe, om 06:00 te gaan luister wat ander gewone lidmate soos ek te sê het oor hul geloofsverhouding/s. Ek het gedink dat dit net ek moet wees wat swaar dra aan die verdiende straf wat die lewe my opgelê het. Aanvanklik was dit gaaf om te hoor dat ander gewone ouens, soos ek, met dieselfde gevoelens en tekortkominge worstel en oorwin het. Dit was lekker.

Maar die dinge moes verander. Die mense se behoefte was na luistergenot. Die gassprekers moes die een darem meer dinamies wees en as dit kon, meer bekend wees as die vorige. Die jeugwerker van die buurgemeente sou nie deug nie, net sendelinge met skrikwekkende stories uit die vervolgde lande sou die tafels volmaak en die siele voed. En weer was ek terug by die Kamer van Handel en Nywerheid...

Ons groepvormende handjievat-en-vashou-wesens kry lekker warm wanneer ons die intimiteit van samehorigheid kan geniet. Om saam te kom en op te kyk (na die verhoog of podium of liturgiese ruimte) en saam aan die lippe van vermaaklikheid te hang. Ons is so verslaaf aan die goed-voel-gevoel dat dit ten alle koste bevredig moet word. Dis lekker om die saal te verlaat en te sê: Sjoe, dit was goed.

Na al die jare kom die Sakekamers se lede steeds met ’n gemeenskaplike doel byeen – die bevordering van sake en om iemand van êrens anders met die lede se teenwoordigheid te vereer.

Gister het die son feesgevier op my amper haarlose kopvel en gisteraand was dit seer. Maar vanoggend toe ek by my God, die stil spreker sonder podium en aansien gaan stil raak, toe wys Hy my dat Hy daar saam met my is, toe wys Hy my dat Hy elke sonstraal, wolk en reën oor my beskik en toe vertel Hy my dat dit vir my genoeg kan wees. Toe dank ek Hom vir hierdie Advent; vir die voorreg om Sy vye te kon natspuit en Sy maan te kon sien hang en dat Hy my nie na die gedigte en geselsies van mense laat luister het nie...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top