Gedagtes oor geluk, uitgebrei

  • 0

Die boodskappe en wyshede oor die belangrikheid vir die sinvolle versorging van ons denke in hierdie varse humanitêre wêreld van ons, lê gelap, soos die wingerde in die De Doorns-vallei, op al wat ’n groetekaartjie, traktaaitjie en sosiale webblad is.

Gedagtes oor positiewe dink-dinge trek duisende “likes” op ieder en elke prediker van goeie boodskappe se Facebook en ander webblaaie, en ons mense deel graag die opbouende aanhalings wat moet help om die-een-die-ander te inspireer, om die bes moontlike persoon te word of om die kalmste onder die gemoedelikes te wees. En om dit dan weer terug te gee aan ander ...

Aanhalings uit die Skrif is uiteraard legio, maar dis die saamgestelde rigtingwysers soos ... "Die lewe is 'n geskenk, en dit bied ons die voorreg, geleentheid, en verantwoordelikheid om iets terug te gee,” of “Sien jy altyd die gat in die oliebol raak of is jou lewensglas halfvol? Jý het die mag om jou denke én jou wêreld te verander!” ensovoort en so aan weerklink die sagte berading wat daagliks oor die skerms van die rekenaargoeters en slimfone rol.

Daar is ’n klompie nie-fassinerende fenomene wat al hoe meer gereeld hier by my kom kop uitsteek. Sonder om myself en sommige ander mense met die inhoud van al my skewe opvattings en vrae te teister, is daar egter vandag ’n noemenswaardige verskynsel wat die grysgoed in my skedel na medikasie laat hunker ...

Hoekom is dit juis die aanhoorders van die goeie boodskappe wat so sukkel om die sous by die kool te bring en lewenstevredenheid daaruit te put? En hoekom is dit juis hierdie begaafde en bevoorregte deel van ons samelewing wat ’n vol bottel en “jam-doughnuts” hul lewe lank geniet, wat nou oor hul selfopgelegde ontydige sporadiese gemoedsbekakking struikel?

My liewe saamleser, wanneer jy weer knussel in die gesellige bondeling van familie en vriende; luister dan tog hoe tevrede die gemiddelde groeplid is ...

... hoe tevrede mense met hul keuses van hul verlede is en hoe keurig hul ervaring van die huidige, van elke godsverlate frustrerende dag en slapelose nag, uiteengesit word. Hoe vaalgrys, met galstrepe van kommer en brakkolle van verlies, die verfdoek van die toekoms geskilder word ... en hoe stoksielalleen die strofe “bly, wees bly” in ‘n vergete liedboek gelaat word.

Wanneer ons oor niks anders wil kla nie, dan kla ons oor ander mense; so sit ek ook aangekla voor my eie nie-fassinerende fenomeen en lastige vrae: skuldig!

Gedagtes oor geluk
Hennie Fritz

Die gees loop soms op 'n dwaalspoor
op soek na die lig, om dit te sien;
te vlug van die erge misleiding
of so wil dit lyk.
Hierdie soeke na die vermydelike waarheid
weg van die valse wêreld en sy reëls wat mens ontbloot
weg van hierdie land en sy godsdienstige nabyheid.

Geluk is die doel van hierdie lewe −
om minder te vra en grensloos te gee
om die wil te leer en om te oorleef,
met meer as net die volgende asemteug.
Om rondborstig die vrugtige lewe te lééf
om so die fees van blymoed te deel,
bevryd van die kleed van skuld, uit spyt geweef.

Gister is tog nie die beste wat ek kan doen;
wie bepaal die lewe se soet en bitter,
wie skink die beker?
Geluk is om te soek, te vind en vas te hou,
om tot die laaste uur die eensame einde te vermy
en om vandag,
‘n lewe van geluksvolheid te gaan kry.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top