Eienaardige verskynsel uitgelig in Max se program

  • 0

Max du Preez, nou die dag in sy saampraatprogram, wil hê die mense moet inbel en vertel wat húlle doen aan die slegte toestand in die land. Max loof die mense wat allerhande welsyn-inisiatiewe bedryf in plaas van net te kla en te kla. Ek wonder wat Max sal doen as hy sy motor na ‘n diens terugvat oor een of ander fout en die werkswinkelbestuurder vra hom wat hý daaraan doen?

Eienaardig dat hierdie soort stelling van Max af kom; het hy nie ‘n hele koerant bedryf waarvan die uitsluitlike doel was om die bedeling te kritiseer en oor einste te kla nie? Maar dit net terloops, dis nie die groot raaisel nie.

Mense bel in en vertel hoe hulle, grootliks op eie koste, allerhande opheffingsinisiatiewe bedryf en dit is lofwaardig. Almal is natuurlik Afrikaners – uit die aard van die saak want dit is ‘n Afrikaanse program – die einste mense wat uitgekryt word as die wreedaards van die vorige bedeling.

Dít is die groot misterie. Hierdie mense word gehoon deur die regering, hulle straat-, dorp- en plekname word verander, hulle skole word verengels, hulle universiteite is almal reeds verengels en by baie staats- en semi-staatsinstansies is hulle verplig om Engels te praat en, in baie gevalle, MAG die wat daar werk nie in Afrikaans kommunikeer nie. Ten spyte daarvan dat hulle spreekwoordelik in die gesig geskop word, steek hulle steeds, verbete, hardnekkig, ‘n helpende hand uit. Wat liefdadigheid, mededoë, deernis en selfverloëning betref steek hierdie mense Moeder Theresa in die skande.

Nog is dit het einde niet, die misterie verdiep. As hierdie mense ‘n organisasie stig en bedryf om opheffing te doen en hulp te verleen, gee hulle hom ‘n Engelse naam. Is dit nou nie eienaardig nie?

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top