Dirk Rigter en Helmine le Roux

  • 5

Vandag doen ek iets waarvan ek eintlik nie hou nie. In plaas van 'n reaksie onderaan 'n brief rig ek 'n nuwe skryfsel aan Dirk Rigter en Helmine le Roux. Dit is 'n antwoord op Dirk se kommentaar aan Helmine (Holruggeryde goeters, 23 Maart 2015). My antwoord het gegroei tot meer as 'n nota.

Dis riskant, maar ek wil tog Helmine se brief opsom: apartheid word gebruik om onbevoegdheid en misdadigheid te regverdig, terwyl die ANC veronderstel was om vir ons te wys hoe dinge gedoen moet word en klaaglik misluk het. Dirk neem vir Helmine erg kwalik omdat sy (min of meer) die tradisionele Afrikanerstandpunt goedpraat. Ons ken sy “ek-is-meer-beterder-as-jy”-houding, maar selfs hy moet onthou: dis my mense.

Dit is so dat feitlik alle Afrika-lande steeds na “onderdrukkende koloniale bewinde” verwys. Daar is enkele uitsonderings: twee Afrika-lande was nooit kolonies nie. Nie toevallig nie, is dit die twee lande wat altyd aan die onderpunt of naby die onderpunt van enige Afrika-lys is, afgesien daarvan of die lys oor onderwys, paaie of mediese dienste handel. Die lande se name is Etiopië en Liberië. As 'n anti-kolonialis wie se mense onder die Britte gely en verneder is, moet ek erken dat Britse kapitaal aansienlik gehelp het om lande soos Kenia en Zimbabwe te ontwikkel. Ongelukkig het uhuru aangebreek voor hierdie lande in staat was om dit wat hulle ontvang het te beskerm en uit te bou.

Ag, ek weet daar is redes om, veral in terme van voorgeslagte, neusoptrekkerig tov sekere van ons mense te wees, wat min formele onderrig ontvang het en hulleself aan hulle kruisbande moes optrek weens 'n vyandige koloniale bewind. Dis die soort mense waarna lojale Amerikaners, in hulle eie land, met groot respek en trots verwys as pioneers. Hulle het, in ons geval, byvoorbeeld in gevegsituasies, dikwels hooghartige Britte op die neus laat kyk en ons eer hulle.

Ek neem swartmense se gevoelens in ag, maar dit is nodig om daarop te wys dat swartmense bewysbaar duisende jare agter Europese ontwikkeling was toe Jan van Riebeeck en sy groepie hier aangeland het. Die blankes, en spesifiek Nederland, gedurende sy goue eeu (toe Engeland nog sukkelend was), het swartmense 'n groot guns bewys deur aan die Kaap te land. Nie dat dit nie aanpassings en ellende vir swartmense veroorsaak het nie, maar dit was die vinnigste pad denkbaar na 'n moderne lewenswyse. Vergelyk maar die mense in ons land met die res van Afrika.

As Dirk voorbeelde noem van hoe dom die vorige regering was sal hy meestal gelyk gegee moet word. Die feit is egter dat dit sy mense is en opgeweeg moet word teen die positiewe wat wel gebeur het. Toegegee, die internasionale media het hulle werk oor jare goed gedoen en 'n groot getal blankes in die land (soos Dirk) is net bereid om die negatiewe te erken (Helmine meld dat dit selfs gebruik word om moord te regverdig). Nogtans, as hy sy wetenskaplike publikasies tydelik opsy skuif en 'n slag geskiedenis lees, spesifiek Hermann Giliomee, sal hy op interessante dinge afkom. In die 1960's en 1970's was die regering byvoorbeeld daarop ingestel om swartmense se vergoeding jaarliks met die maksimum bedrag moontlik te verhoog en die blankes s'n naastenby konstant te hou om 'n regverdiger inkomste verdeling te bewerkstellig. Ivm Hendrik Verwoerd: ek was nie 'n groot aanhanger nie (bedenkinge gehad) maar hierdie man het meer vir die geletterdheid van swartmense in ons land gedoen as enigiemand anders – dis 'n onbetwisbare feit.

Vir die vorige regering was voldoende, goedkoop elektrisiteit 'n hoë prioriteit. Dit was nie net 'n beleid nie, want dis met ywer geïmplementeer (soos die meeste dinge wat hulle gedoen het) en mee volgehou as noodsaaklik vir ekonomiese ontwikkeling en werkskepping.

Die grootste saak was die verset van swart nasionalisme teen die regering. Was dit nie vir die ou regering se sterk teenstand nie het ons dieselfde pad as ander Afrika-lande geloop, nl om die land te sien ondergaan weens 'n swart regering wat totaal onbevoeg is om 'n moderne staat te bestuur. Die oorname is as gevolg van blanke verset vir dekades uitgestel tot 1994. Swartmense is hiermee in 'n veel beter situasie geplaas om suksesvol beheer oor te neem onder 'n grondwetlike bedeling. Natuurlik was dit nie 'n ideale situasie nie, maar in terme van die omstandighede was daar nie 'n groot keuse nie (as De Klerk sterker gestaan het of die proses nog 'n paar jaar uitgestel kon word sou sake nog beter verloop het). In terme van Afrika-geskiedenis het dit eintlik goed verloop. Dis 'n omvangryke saak wat ek gewaag het om hier aan te roer en daar sal ongelukkig met die enkele voorbeelde volstaan moet word.

As Dirk die boosheid van apartheid beklemtoon sal ek hom telkens gelyk gee. Dis egter nie die punt nie. My punt is dat ten spyte van al die verkeerde het apartheid groot positiewe gevolge gehad wat erken moet word (sonder ontkenning van die waarheid) en is daar steeds hoop dat ons sterker uit die huidige krisisse sal kom.

  • 5

Kommentaar

  • Beste George, 

     
    Jou skrywe is aan my gerig. Ek reageer graag. 
     
    Eerstens: Jy sê “Dirk neem vir Helmine erg kwalik omdat sy (min of meer) die tradisionele Afrikanerstandpunt goedpraat.” Watter standpunt? Dat apartheid goed was? Dat swart mense sleg is? Dat die ou Suid-Afrika beter was as die nuwe SA? Dat “tradisionele” Afrikaners terug verlang na die ou bedeling? Dat elke enkele handeling van die swart regering sedert 1994 net sleg was? Dat “tradisionele” Afrikaners hunker na ‘n wit tuisland? Dat alle swartes misdadigers is? Ek is bevrees, ek bespeur nêrens enige van hierdie standpunte onder die “tradisionele” Afrikaners in my daaglikse omgang met hulle nie. 
     
    Waaroor ek haar verkwalik, is dat sy die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners (en Afrikaners) wat meer genuanseerd oor die land en sy gekompliseerde geskiedenis as sy dink, beskuldig van “gewaande hogere intelligensie … wat nie behoorlik oordink is nie”. Sy maak die stelling dat swartes die blankes in koloniale gebiede noord van SA vermoor het “al was daar nie apartheid nie”. Wat beweer sy tussen die lyne? Swartes maak wittes dood sonder rede? Of sy ken gewoon nie die koloniale onderdrukkende geskiedenis nie. 
     
    Tweedens: Ek is nie neusoptrekkerig oor my voorgeslagte nie, maar ook nie blind vir die foute wat hulle gemaak het nie. Helmine maak die Afrikaner se onderlinge twiste en tweedrag af as “pure bog” en dís totale bog. Die geskiedenis vertel ‘n ander storie, ons weet dit almal. 
     
    Derdens: Ek lees graag geskiedenis, trouens ek het nagraads geskiedenis studeer en was ‘n student van prof Giliomee vir wie ek die hoogste agting het. Jou punt oor regeringsbeleid in die 1960’s en 1970’s om swart lone nader aan pariteit te bring, is waar. Maar dit word oorskadu deur die neerdrukkende en bloedige hand van die staat teenoor swartes in hierdie tyd. Dalk moet jý weer ‘n slag gaan lees hoe die ystervuis van Verwoerd, Vorster en Botha toegeslaan het. En dis welbekend wat Verwoerd se standpunt oor swart geleerdheid was. 
     
    Vierdens: Oor jou standpunt dat daar in 1994 nie ‘n “groot keuse” was nie: Daar was eintlik net een keuse, nl oorgang na ‘n meerderheidsregering. Dit was al keuse. Wat nóg uitstel betref, De Klerk en die NP se tyd het uitgeloop. Die generaals wat die orde moes hou, het geweet die militêre instandhoudingstyd is verby. Dís hoekom die oorgangsperiode alreeds in die laat 1980’s begin het. 
     
    Vyfdens: Jou beskuldiging teenoor my dat julle my ken as iemand met ‘n …”ek-is-meer-beterder-houding-as-jy”, het ‘n snedigheid in wat my laat my wonder: Hoeveel onse is in “julle” pond?  Dit was nie ék wat beterweterig na andere se "gewaande hoë intelligensie" verwys het nie. Dis daardie beterweterigheid wat my die pen laat opneem het.
  • George Bekker

    Beste Dirk, dankie vir 'n reaksie wat wys dat jou dosente nie hulle tyd gemors het nie.

    Met die lees van Helmine se brief het ek glad nie saamgestem oor haar sterk protes teen “die Afrikaner (wat) nog nooit kon saamstaan nie”. Verskille tussen Afrikaners is kenmerkend van ons geskiedenis. Om die storie nie te lank uit te rek nie, het ek die punt geïgnoreer en op die eerste deel van haar brief gefokus. Het net gevoel dat jy die dame 'n bietjie skerp aanvat en sy het 'n saak. Volgens die Beeld berig het die vierjarige dogtertjie van die vermoorde pa telkens gevra: “Oom moet asb nie my pappa seermaak nie.” Dis genoeg rede om emosioneel te reageer.

    Dat swartmense of hulle nou in SA of amper enige ander deel van Afrika is, geneig sal wees om negatief teenoor blankes te wees, is verstaanbaar. Voel egter dat die ander kant van die saak ook raak gesien moet word, nl dat daar voordele vir swartes in die ongelyke verhoudings was. In die geval van die Belge en Portugese wil mens absoluut negatief reageer oor hulle koloniale verlede. Nogtans, as die Mosambiekers met onafhanklikheid hulle beperkte geleenthede benut het (nie die burgerlike Portugese weggejaag het nie) kon dinge vir hulle aansienlik beter verloop het. My probleem met apartheid is nie dat dit afgekraak word nie, maar dat die geskiedkundige voorstelling heeltemal ongebalanseerd is – het reeds daaroor geskryf.

    Goed gaan, George

  • Helmine le Roux

    Menere,

     
    Smaak my ek het julle manne aan't strye gesit.
     
    Ek is 'n paar dae lank uitstedig, maar as ek, soos die Here wil, volgende week terug is sal ek graag 'n stuiwer in die armbeurs gooi.
     
    Helmine
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top