Die (vraende) kerk buite die Hillsong-enklave

  • 4

Ek wonder party dae op watter planeet Kobus de Klerk woon. Dié gedagte kom weer by my op toe ek sy jongste skrywe (Die kerk in die hedendaagse samelewing, 29 September lees), waarin hy reageer op Jean Oosthuizen se artikel oor die onlangse rondetafel gesprek by die US.

Die gesprek waaroor Oosthuizen rapporteer, het oa, soos ek dit verstaan, gehandel oor die kerk se steeds letterlike interpretasie van die bybel, die nuwe wetenskaplike kennis tot die mens se beskikking wat hom anders na die bybel laat kyk as in die verlede, die spanning tussen geloof en wetenskap, die kerk se simplistiese standpunt oor seks en seksualiteit, ouer en verál jonger lidmate wat toenemend rug draai op die kerk, en die sekularisering van die hedendaagse wêreld.

Wat doen De Klerk? In plaas daarvan om in gesprek te tree oor die bg sake, trek hy los met die gewone tirade: “ Ateïste ... belaglik ... kerkbase se manewales ... klug ... wegvlug soos ‘n rot voor stormwaters ... spititueel verbitterdes ... hedendaagse uitvindsels ... Goddelose skakerings, ens, ens.

Boonop ontken De Klerk dat die wêreld aan die sekulariseer is, hy ontken dat veral jongmense vrae oor die kerk en die christelike geloof vra en beweer dat die alternatiewe nie-hoofstroom kerke “... uit hul nate uit gedy ...” En dan volg die gewone. Die een bybelvers na die ander, teks op teks, totdat hy sommer, in een sin, Genesis 1 en 2 en die wetenskap met mekaar vereenselwig en sommer die wetenskap aansê om oor die skepping soos dit in Genesis beskryf is “... behoort te getuig ...”

Ek het nuus vir De Klerk. Miskien sal hy, as hy uit die Hillsong enklave uitbeweeg en rondom hom kyk, ook hier in Suid-Afrika, sien en hoor dat mense, oud en jonk vrae vra oor die sg bybelsekerhede en christelike dogmas wat oor jare in ons kele afgedruk is as “vaste onwrikbare waarhede”.

Want sien, die kerk en die christelike geloof het hulself vasgewikkel in hierdie einste “waarhede”. Selfs net effens goed-ingeligte mense weet vandag dat die skeppingsverhaal van Genesis nie letterlik waar is nie. Net soos wat ons almal weet Jona kon nie drie dae in die vis se ingewande oorleef het nie, dis net ‘n storie. Nou’s die probleem: As hierdie twee bybelse verhale nie letterlik opgeneem kan word nie, watter deel van die bybel is dan letterlik waar? Die pratende donkie, of Noag en elke denkbare dierespesie in die Ark? Dalk Daniël en sy vriende wat die leeukuil oorleef het? Die maagdelike geboorte van Jesus?

Kobus de Klerk, en alle christengelowiges moet eerder pogings soos die rondetafel-gesprekke verwelkom. Want die kerk en die christendom in die algemeen sal moet aanhou besin oor die vrae wat tans op die agenda is. Die kwessies gaan nié soos mis voor die son verdwyn nie, inteendeel dit gaan al meer na vore kom. Baie deurwinterde gelowiges is tereg ontsteld en ontevrede dat hulle vir so lank aan die neus gelei is. Nou wil hulle antwoorde hê. Insgelyks wil die jonger garde ook weet hoekom die kerk so vasklou aan uitgediende sienings soos die “sonde” van voorhuwelikse seks en gay-wees, om net twee te noem. En dan praat ons nie eers van die talle en talle mense, oud en jonk, wat gewoonweg rug draai op die christelike geloof nie. Iemand wat dit nie raaksien nie, moet sy oë laat toets.

Hoekom hoor ek niks, nie ‘n enkele woord vanuit kerklike / christelike geledere oor die reuse tragedie wat so twee weke gelede By TB Joshua die groot “profeet” se kerk afgespeel het nie? Slegs dawerende stilte daaroor dat honderde mense in kinderlike geloof gaan om geestelik versterk te word, en wat gebeur? Byna negentig dood en talle beseer. Hoe is dit moontlik dat die Almagtige dit toelaat? Mense kom om te aanbid en woon ‘n “volbloed diens” by soos De Klerk dit noem, en dis die loon wat hulle kry? Watter teks in die bybel kan dit regverdig?

Om mense met vertwyfeling wat vrae vra as “verbitterde onvergenoegde dwase” te tipeer wen nie een siel vir die saak nie. De Klerk en kie sal hul strategie moet verander. Kort voor lank is hulle stoksielalleen in Hillsong se kerk.

  • 4

Kommentaar

  • Verstommend. Dis voorwaar 'n vooreg om jou briewe te lees. Jy  'n uitsonderlike begaafde mens mnr Rigter en beslis 'n aanwins vir die menslike ras. 

  • Jean Oosthuizen

    Dirk, 

     
    Ek dink jy som die situasie baie goed op. Die gesprek het gehandel oor die spirituele verhuising uit die kerk. En dat dit gebeur is gegewe. Behalwe natuurlik in Afrika en Suid-Amerika waar die tendens anders is.
     
    Maar jy vra tereg  waarom daar  so min uit kerklike gelede gesê is oor die ramp by TB Joshua se kerk en waarom sy uitbuiting van goedgelowiges nie helder en duidelik deur die “kerk” in die breë afgewys word nie.
     
    Die teologie wat in lande soos Nigerië en baie ander plekke verkondig word behoort die rooiligte te laat aangaan vir almal wat die situasie dophou. Ook vir die hoofstroomkerke.  Dit is ? teologie wat duisende kilometers breed maar enkele sentimeters diep is.
     
    Daar is inderdaad etlike vrae wat ook deur gelowiges gevra word waaroor die kerk baie huiwerig is om oor te praat. Die sogenaamde erfsonde, maagdelike geboorte en baie ander brandende sake word dikwels meer sinvol buite kerklike ruimtes bespreek as daar binne. 
     
    Dit is jammer dat die debat soms tot ? vlak daal waar die twee pole van die geloofsgesprek mekaar net slegsê. Dit help niemand nie en deelnemers aan beide kant maak hulle daaraan skuldig. Om ongelowiges as immoreel en sonder waardes uit te beeld, om alle gelowiges as dom of anti-wetenskap voor te stel of om andersdenekende gelowiges met die Bybel oor die kop te slaan dien geen doel nie.
     
    Daarom dink ek die gesprek by US was ‘n goeie geleentheid. Die doel daarvan was ook nie om ‘n “uitkoms” een of ander kant toe te bereik nie want so verwagting sou onrealisties wees. Die doel daarvan was om van die vrae wat jy ook hier noem aan die orde te stel en mense kans te gee om daaroor te gesels of net daarvan kennis te neem. En dit was beslis nie ? groep “verbitterde onvergenoegde dwase” wat die kerk wou slegsê nie. Dit was doodgewoon ? groep mense wat met mekaar in gesprek getree het en vir mekaar ruimte bied om te verskil.   Natuurlik was die gesprek nie foutloos nie en diegene wat daar was sal dit baie goed weet. Maar dit het sonder venyn geskied. As mense soos in jou brief hier bo op die argumente en kwelvrae kan fokus sonder om etikette om mense te hang mag daar dalk vordering wees. 
  • Beste Dirk
    Ek dink die kwessie van erfsonde i(original sin) is al deeglik deurgetrap onder ander artikels.
     Sonde is nie iets wat jy kan erf soos 'n bate nie, inteendeel  as dit erfbaar was dan is dit 'n las en begin jy dus reeds met 'n agterstand in jou lewe.

    Wat wel waar is dat kinders kan lei onder die oortredings van hul ouers en die gevolge daarvan dra en ook soms so in hul eie gesin oordra.

    As  hul  Pa dus ' n suiplap  en 'n verkwister en verwoester van vrouens was, en in die tronk beland ,sal  kinders  nie die gevolge daarvan vrygespring het nie en hul lewe dalk 'n heel ander wending as onder ander huislike  omstandighede sou geneem het.

    Kinders lei dus gereeld onder die nadelige gevolge van die optrede van hul ouers.

  • Ek is daarop gewys dat ek eeder moet praat van kinders wat 'ly'  (pyn en lyding) en nie 'lei'  (voor loop).Dankie vir die regstelling.Wys weereens dat 'n mens se woordgebruik belangrik is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top