Die heelheid van die menslike gees

  • 0

(Sug.) Sommige terme is so alomvattend dat hul definisie na uitleg nutteloos is. Vat uitdrukkinge soos: geloof, rasionalisme; selfs die verskil tussen epistemologie en ontologie, al hul verklaring loop op dieselfde interpretasie uit. Of is ek nog groen?

Tussen kopkrappery was ek eintlik opsoek na die ware rasionalisme: die geloof in die vermoë van ons verstand om die waarheid te onthul. Asook wat is die verskil tussen historiese rasionalisme en die van moderne rasionalisme. Vat bv die hedendaagse rasionalis teenoor die aardsrasionalis – albei beweer tog dat hul die verstand vertrou en daarin glo. As dit dus by geloof kom, het die rede ‘n plek, en indien wel, sal ek graag wil weet to watter mate.

Teologie is ‘n bedrywigheid van die rede, daarin sien ek dat die verstand die geloof dien. Kan mens dit omkeer en bv sê dat die geloof die verstand moet dien? Sekerlik sal ek hier eers moet vertrou in die heelheid van my menslike gees voordat hierdie vraag sinvol beantwoord kan word.

Daar is soveel filosofieë, ideologieë en verskillende gelowe, maar tog behoort die gelowige te weet hoe om die Absolute Waarheid te verklaar in ‘n godsdienstige plurale en relatiewe wêreld. Selfs hier op LitNet word skouers geskuur tussen verskillende sieninge, wat eintlik net die gemiddelde leser verwar.

Daar is ‘n nuwe uitdaging aan die moderne Kerk. Eintlik het niks verander. Ons is niks beter af as die vroeë Christene, wat Jesus as Heer en Redder in die teenwoordigheid van vele ander gode in die Grieks-Romeinse wêreld van daardie tyd, verklaar het nie. Die uitdaging aan die moderne Kerk is om te demonstreer dat dit nie die geval is nie, dat relativisme ‘n verkeerde teorie voorhou van: begrippe van waarheid en morele waardes is nie absoluut, maar onderhewig aan die persoon se begrip en rede daarvan. Die denke word dus verhef bo die Waarheid.

Ek hou van Aquinas se oortuiging dat alle waarheid ‘n enkele bron het en dat hierdie bron God is. Alle waarhede, of dit uit die natuurkunde, wiskunde, filosofie of teologie is, ontspring uit God en word weer in Hom versoen. Daar is geen plek vir dubbele waarhede of pluralistiese relativisme nie. Daar is net een geloofspad, en dit is: “Jesus Christus is die Vleesgeworde Waarheid”.

Die gelowige moet die Waarheid ken omtrent wat die Christelike geloof werklik behels. Ja, ons is opgeroep om lief te hê - maar dit beteken nie om die verkeerde te verdra nie. Om die sout en lig in hierdie wêreld te wees - nie om sonde oor te sien nie, om nederig te wees – nie om korrupsie, hebsug en materialisme goed te keur nie.

Absolute waarheid is standvastig. Daarom kan niemand werklik sonder dit harmonieus en gesond leef. Selfs wanneer mense God se Waarheid ontken, sal dit bly voortbestaan omdat dit duidelik en oortuigend is.

Eintlik is dit kosbaar, want hierdie herkenning is deel van God se algemene Genade teenoor Sy skepping. Daarom is Hy alleen werd om geloof en geprys te word.

Sterk staan in jou geloof!

Trienie Mahne

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top