Die gewag by die busplek

  • 0

“Vanuit die veilige warm vesting van my koets, kan my gedagtes die teerblad oor sweef, tussen die blikkantien van ander waens deur swoep en vry op die rand van ’n steen gaan sit ...”

As ek ’n gedig daaroor kon skryf, sou iets hiervan in die openingstrofes my stille emosie vanoggend in Durbanville se Taxi-staanplek kon beskryf.

Vir baie jare, meer as wat ek die dae van kan onthou, het ons huisie ’n hulp op ‘n dag in ’n week. Vader weet hoe dit altyd moontlik was, maar soos die geloofsmense sê, “Sy weë is aan ons onbekend.”

Vir al die jare het Mevrou altyd die taak gehad om Mieta by die busplek te gaan haal en te besorg. Soms, met absolute uitsondering, het die onvermydelike gebeur en dan moes ek instaan. Vanoggend was een van daai geleenthede. En toe is die treine laat; die Taxi’s is oorvol, Mieta is dus laat en ek moet wag ...

Ek stoot die sedan se neus tussen die klomp losgooivullis die parkeergebied binne. Daar naby die Taxi en bus aflaaidraai kry ek ’n parkeerplek tussen twee bouersbakkies. Druk die kar se neus vorentoe en doen my alomberugte “reverse parking”. Nou kan ek almal en alles sien en Mieta sal my ook kan sien; natuurlik wanneer sy eendag opdaag!

My gedagtes wou eers deur die werk vir die dag maal en ek voel-voel terug na die agtersitplek, waar my tas en internetmasjien geduldig vir die sweet in hul aangesig wag. Nee, ek kry nie die affêre raakgevat nie; “klim uit en maak die agterdeur oop” dink ek.

“Nee, die bakkies staan te naby ... en die werkers staan boonop hier teen die kar ... ag ons sit maar wat ...”

Toe sit en kyk hierdie sondevolle skepsel. En vir die eerste keer in sy bykans nuttelose bestaan, sien hy iets raak wat hom stil, skaam en skuldig laat.

Hier is mense op die Taxirank.

Nie werkers of huishulpe of tuinmanne of arbeid nie. Mense.

Vrouens wat uit die taxi’s uit borrel en al gesels-gesels aanstap na die volgende taxi of die werkplek daar oorkant of by hul madam in die kar klim. Het jy geweet dat amper sonder uitsondering, hierdie vrouens almal netjies en sommige baie mooi aangetrek is?

Die hooftooisels en skoene en handsak is kleurpas. Die rokke is vrolik en gelukkig; en hulle skoene is mooi. Dit is nie handelsmerkstapskoene, wat ons gedeelte van die bevolking eers sal aanskaf voordat ons die pad fisies “vat” nie; nee, dis netjiese vroulike hakskoene, platterige kantoorskoene, toeskoene en sandale. Die een opvallende voeteding, uiteraard sover ek kon sien, was die versorging. Hierdie sandaaldraervroue se voete blink en hul hakke lyk nie soos die Rocherpan na ’n lang somer nie. Hul hare is versorg, gekopdoek, of gevleg of gesjinees (die invoer – vasryg hare ). Kortom, op ’n afstand en in ander wêreld, sal enige toeskouer moeilik onderskeid tussen die madam en die hulp kan tref.

Soos die oomblikke verby tik, volg my kyk die een na die ander vrou se aanstap na ’n wagtende rygeleentheid. Meestal tantes in netjiese luukser bergklimkarre en platneus sedans. My gedagtes huiwer vir ’n breukdeel en gaan delf doelloos, in die somber strate van vergange dae.

Langs my het die een bakkie sy messelaars en handlangers laat opklim om te ry. ’n Franse kortgat karretjie neem die bakkie se plek. Die ou lyk half babelas. Hy het skaars gestop, toe pluk hy ’n sigaret uit en trek die kool rooi. Sy huishulp, so neem ek aan, het flink en glimlaggend nader gestap. Hy het net gestaar. So al rokende het hy die blikdingetjie se vensters toegemaak en gery.

Ek wonder of sy wóú saam rook?

Nog ’n bouersbakkie en ’n loodgieter en ’n elektrisiën en ’n tuindienste swiep by die parkeergebied in en tel die werksmanne amper so-in-die-ry op. Hier moet jy spring of jy werk nie vandag nie.

Hier het ek sommer nou ook vasgestel wie die vullisstrooi belhamels is. Dis die mans. Die ouens wat wag vir werk of hul werkgewer. Hulle is seker daaraan gewoond dat ’n vrou by die huis agter hulle skoonmaak en optel ...

Dis al tien-oor-agt. Mieta sal seker nou-nou hier wees.
Hoe begin ‘n mens dan in die middel van die dag te werk?!

Die taxi’s kom die een na die ander om die draai geskuur en mens kan die saamryers se koppe sien kantel en wieg wanneer die doodsbussie voor die aflaaiplek stilhou. Mieta speel nie met die voetwerk nie. Sy drafstap kar toe. “Meneer wag dan al meer as ’n uur ...”

Met die inklimslag begin sy sommer te verduidelik, “Hallo meneer, ek is baie jammer, maar die tien-voor-ses-trein het nie gekom nie; ek moes toe ’n taxi kry Elsies toe vir die aansluiting, maar dis donker en daai area is maar rof, toe moes ek net gou vir ’n vriendin wag om saam met my te stap. Ek weet nie wat met die treine aangaan nie. Ek het darem toe weer ’n trip van Bellville stasie gekry ...”

( Mieta is nie meer ’n jong meisie nie. Sy woon nie in die verste en armste deel van ’n informele nedersetting op die buite rant van die metropool nie. Sy woon in die stedelike area. Nogsteeds, moet sy ’n trein en twee taxi’s neem tussen haar woonbuurt en myne, net om naby genoeg aan haar werkplek te kom sodat iemand haar kan kom haal. Nie al haar werkgewers kom haal haar nie. Dan stap sy. Sonder om te kla en sonder om nie vir werk op te daag nie. Sonder verskonings vir die lewe wat sy gekry het.)

“Dis als reg Mieta. Ons is net bly jy is veilig en beslis dankbaar dat jy hier is.”

Hennie Fritz

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top