Boodskappers van die lewe

  • 4

LitNet se Botanica: ‘n gesprek tussen kunstenaars is ‘n 5-ster artikel. Die skilderye asook beskrywings is pragtig en pralend. ‘n Besef dat plante en blomme nie net goed is vir geestesgesondheid maar ook boodskappers van suurstof en asemskep is, van lewe.

Ekself is nie vlytig met ‘n kwas tussen die vingers nie, maar kan ‘n waterdruppel of sonstraal vasgevang in die lewe van ‘n blom se bloos my tot feesviering verruk. Ek hou daarvan om die kleurespel en tinte wat saam met die son opkom asook padgee rondom skemer, op foto vas te lê.

Luis in hare
Hierdie piepklein poeierpers blommetjies met die deurmekaar hare behoort aan ‘n doringbossie. Niemand sou hierdie antagonis wou skilder nie. Die volmaaktheid van die prent word versier deur twee witluise wat tussen die stamhaartjies woon (sien middel) en aan die plantsap suig. Kan jy hulle sien?

In die reënwoud stoot hordes paddastoele oornag deur die komposkombers op. Hul besonderse aardse bruine wissel tussen silwergeel tot rooibruin met ligter onderkante. Die rubbersagte voorkoms betower en laat jou binne in die reuk van mosblaar en verrotte hout inklim. Of hierdie een (bo regs) eetbaar is, sal net kenners weet.

My dogter, as grafiese ontwerpster, was verplig om haar werk by ‘n drukkery te laat vaar. Die verf van die oorhoofse reklame borde se ammoniak en pigmente het haar vergiftig. Dit het konstante lugweg-ontsteking veroorsaak. Stedelinge loop dieselfde gevaar omrede van besoedeling en gasse. Dit wat asem moet wees, kan jou stadig versmoor. Maak ‘n verskil aan jou gesondheid deur korrekte bome en blomme in jou leefruimte aan te plant. Blomme is die natuur se eie lugfilters en sal die atmosfeer rondom jou opruim.


Pittig in pienk
Aanskou die skitterpienk roomys-skakerings van hierdie Azaliablom. So asof die nostalgie daaraan jou wil bekoor en die donkerder sentrum jou oë magneties aantrek om te sien wat in die verborge dieptes skuil. Azalias se reuk is soet en koesterend en die bloeisels blosend aanloklik.

Regs is ‘n lelie wat sy skoonheid deur fraai kleurspatsels vertoon. Asemrowend. Dié blom spog met wasagtige kroonblare en volryp stuifmeel aan die helmknoppe. ‘n Vertoning wat enige insek (soos bye) sal naderlok vir soetsappige kruisbestuiwing.

NASA het bevind dat sekere plante ook heelwat skadelike gasse in ruimtestasies absorbeer. Vul dus jou werksplek met varings, lelies, orgideë, lintrose of enige pragblomme wat in jou omgewing sal aard.


Koester ‘n Camelia
Hierdie Camelia Japonica se aantrekking is vasgevang in hemelse aroma en sierlikheid. ‘n Wil-pluk-blom aanskoulik in pienksag nuanses. Tel een op en dit rus vlinder-sag op jou handpalm. Die volwasse blom val ongelukkig maklik van die stingels af en vorm ‘n confetti-kombers onder die boom. Hierdie een in die piering met bergwater het nog vir dae pragtig en vars bly vertoon.

Regs bo toon die Camelia sy nog toegevoude blomkelk waarvan die ryp saadknoppe in die vrugbeginsel weggesteek is. Aanloklik vir enige bestuiwer of skoenlapper wat graag daarin wil kom rond woel opsoek na heuning.

Omrede van ‘n watertekort is baie stadsmense geneig om oor te skakel na boomstomp- en kliptuine met nagemaakte blomme en droë stokke of grasse in erdepotte. Alhoewel dit professioneel en klinies vertoon, plaas dit geen suurstof terug in die lug. Vetplante en sekere bome vereis min water en sal jou ruimte vriendelik en vars hou.


Son in vlamme
‘n Collage van geel-, oranje- tot bloedrooi vlamme, maak van hierdie kanna ‘n uitdaging op die vlak waar emosie geluk in die siel verkry. Blommerangskikkers is lief daarvoor om hierdie kelke met die taai lang lote te gebruik vir lengte aan ruikers. Die kanna se knop-pypies en blomme pronk behoorlik aan die lang stele soos ‘n string krale. Hierdie een se kleurvlamme gloei son, vreugde en warmte.

Tekstuur in die natuur is aanloklik. Geen vrou wat bewus is van innerlike skoonheid kan die versoeking weerstaan om ‘n blom se sagte blare teen haar wang te koester of dit tussen die vingers te kneus sodat die soet nektar daarvan die reuksintuig tot ekstase kan prikkel. Dit oorweldig die innerlike. Wil jy ‘n vrou se hart versag? Koop vir haar blomme.


Polsende pers vir ‘n koning
Geskape volmaaktheid is soms so volledig en elegant dat geen woorde die vorm of fasette daarvan kan verklaar. Wanneer jy dan jouself verklein, sal jy die stem van die natuur duideliker hoor. Hierdie Tibochina Bush se blom oorskry perfeksie in pers, of is dit pienk tinte in blou? Tuur jy diep in die hart van die blom, mag jy skrik en terugruk. In die skadu’s lyk die swartpers stuifmeelstingels soos opgekrulde spinnekoppote!

Kamal Meattle skryf ‘n boek: How to grow fesh Air. In my geestesoog kan ek sien hoe hierdie stamsagte blomme se sappige sprokiesgesiggies ons planeet se giftige lug opvreet. Moeder natuur sorg vir haar kinders, en dit nogal deur lieflikheid en loflikheid.


Wonder in wit
Blomme bewoon ‘n intens persoonlike ruimte wat ons met gemak kan indring. Hierdie kelkvormige wit blom (philodendron) dra ‘n natuurlike sjarme weggesteek tussen geharde beskermings-tongstingels. Die groot blare moes behoorlik weggedruk en oopgehou word, om die skoonheid op foto te kon vasvang.

Dis roerend om die pers vrugbaarheid van hierdie suiwer sneeuvlokkie (regs bo) te aanskou. Maar wag! -sien jy die indringer wat binne vreet? ‘n Kriek. Die mens verkry ook soms indringers in die hart wat knaag aan skoonheid en ons bloeisels verwoes. Hierdie foto sal nooit ‘n wen-foto wees, omrede van die ‘flaw’. So sprekend van wêreldse aanslae, hael en storms.


Somer sprokie
In hierdie tuin hang ‘n kruis gemaak uit spierwit klippies en ogiesdraad. Kan ‘n prik van die draad bloed laat vloei? Wanneer die aandwindjie ronddwarrel, speel die uitgekerfde houtvissies ‘n klokkespel. Teen die agtergrond groei immergroen varings tussen klam rotse oortrek met mos. ‘n Vars asemteug. Nuutskeppend.

CJ Langenhoven het gesê: “Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.”

Bou jou lewe om bloeisels vir blosende dae.

Trienie Mahne

  • 4

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Albert Schweitzer (1875-1965) het bekendheid verwerf vir sy filosofie van "reverence for life." As 'n mens na die oorspronklike Duits gaan, is dit duidelik dat ons dit nie as "respek" of "ontsag" moet vertaal nie, maar as "eerbied vir lewe."

  • Dis nou mooi!  Sê my, nou lat dit my lyk jy ken van blomme, hoe lank en teen watter temperatuur moet mens Bougainvillea bak om die blomme (eintlik die skutbalre; al die blomme is wit) te preserveer?

  • Wel, wel, wel - Jan Rap. Jy het my nou net iets geleer. Ek lees hier jy kan Bougainvillea in die oond bak vir 10-12 min teen 75 grade. Dan sal die blomme 'n gesonde blink glans hê en ook nie maklik verkrummel. Nou toe nou! My ma het die blomme onderstebo gehang in 'n donker kas tot droog, om hul kleur en vorm te behou.

    Dankie Comestor en Perdebytjie - jul kommentaar word hoogs waardeer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top