Arme Maria. Dié dierbare, eervolle, dapper en gehoorsame maagde-moeder van die Mens Jesus Christus, word darem skaamteloos postuum beswadder en beskinder deur mense wat geneig is tot niks beter as om sulke dinge te doen nie – die skinderbekke van die spirituele dimensie soos ons gemanifesteer sien in (sommige van) die agnostici se optrede. Die desperasie van sommige agnostici blyk uit die onsinnige bewerings omtrent Maria, die moeder van die Mens Jesus Christus, wanneer hulle beweer dat Maria deur ’n Romein verkrag is of desgelyks en gevolglik só swanger geword het.
Selfs al sou daar slegs argumentsonthalwe aanvaar word dat daar voorvalle was waar daar grootskaals verkragtings van Joodse jongmeisies deur Romeinse soldate in Judea plaasgevind het (baie onwaarskynlik), dan is die algemeenheid van dié beweringe ook die ondergang daarvan om dit juis in verband met dié Maria van die Evangelies te wil bring. In die eerste plek was daar sekerlik nie net een Maria wat in Judea van die tyd gewoon het nie. Dit was ’n redelik algemene naam net soos ook die naam Jesus in sy verskillende taalvariante in daardie tyd ’n besondere algemene naam was. Om dus te wil voorgee dat die uiters verdagte verhaal van só ’n verkragting van ’n Maria wat toe ’n seun Jesus gebaar het, sommer ’n verwysing is na dié Maria wie moeder van die Mens Jesus Christus is, is nie net verregaande nie, maar ook baie oneerlik en sommer net dom vir die redes genoem.
Verdermeer is dié naam ‘Maria’ eerder ’n bynaam as ’n doopnaam. Die betekenis (een daarvan) van die bynaam is ‘bitterheid’ of ‘smarte’. Ons sien dit in gebruike van die bynaam, soos byvoorbeeld In die gevalle van Maria Magdalena; Maria Betanië, ens.
Dit is dus waarskynlik dat die slagoffer van die Romein (word beweer sy naam was ‘Pantera’) in die storie wat opgedis word heeltemal ’n ander naam het maar ‘Maria’ genoem word ná haar beweerde verkragting.
Maar waar kom dié sinnelose bewering vandaan? Die eerste verskyning van die Pantera storie is van ’n agnostiese Griek en verbete teëstander van die vroeë Christene met die naam Celsus wat sommer vorendag gekom met dié wolhaarstorie. Daarna het ewe antagonistiese Joodse rabbi’s in die Derde eeu en later weer gesinspeel op dié storie deur dit in te neem in die Babiloniese talmud (Tosefta, Qohele, Rabbah en die Jerusalem Talmud), hoewel die Joodse apologete van die latere Middeleeue destyds gesê het dat dit na ’n ander Jesus verwys en dié verwysings is mettertyd uit die talmud verwyder en meer onlangs weer terug geskryf.
Baie duidelik ’n kwaadwillige storie soos destyds ten tye deur Origen uitgewys en algemeen as sodanig aanvaar. Slegs kwaadwillige agnostici wat in ieder geval nie erg het aan feite en Waarheid nie, het dit bly ondersteun.
Natuurlik is die agnostikus en aweregse akademikus Tabor deesdae die proponent van dié ou, uitgediende en holruggeryde wilde Maria-verkragting bewerings, bloot op grond van ’n grafsteen wat in Duitsland gevind is wat die name van ’n Romeinse soldaat dra (wat aandui dat hy ’n Jood was wat afstam van ’n vrygelate slaaf) wat daar gesterf het en eindig met ‘Pantera’. Sowat van wilde aannames en stellings is werklik die werk van ’n akademiese kontroversialis wat in feite en Waarheid geen belang het nie. Net ’n kwaadwillige agnostikus sal dié kloutjie by die oor probeer bring.
Maar dit is nie al wat dié wolhaarstorie so onaanneemlik maak nie. Selfs die sogenaamde naam van die beweerde Romein, Pantera, is eintlik ’n bynaam, want dié was gewild onder Romeinse soldate (soos die Joodse apologete ook geredeneer het) en soos ook deur Deissmann aangedui. Dit is waarskynlik gebruik weens die konnotasie van gedugtheid of dapperheid wat daarmee geassosieer word. Dié bynaam is dikwels agteraan sommige Romeinse soldate se name geskrywe.
Maar die onwaarskynlikhede in verband met só ’n desperate bewering deur sommige desperate agnostici kan nog verder opgestapel word.
Die wilde bewering (sal hieronder blyk waarom) is dat die Romeinse soldate na willekeur Joodse meisies verkrag het. Nou waarom sou enigiemand een van die beweerde talle meisies wat só ’n tragiese ding oorkom, nou skielik uitsonder as synde die moeder van die allergrootste en beroemdste Mens van alle tye? Géén verduideliking daarvoor word gegee nie, want daar ís geen verduideliking voor nie omdat dit nie plaasgevind het nie – behalwe dat dit doelbewus ’n kwaadwillige bewering is wat ten doel het om die HERE te beswadder en die Christendom te diskrediteer.
Dan weerspreek agnostici mekaar natuurlik ook, soos maar te wagte wanneer mense bereid is om bewerings te maak ter wille van kwaadwilligheid maar nie ter wille van feit en Waarheid nie. Hulle wil graag hê dat Jesus Christus nie ’n werklike Persoon is nie, maat ’n mitologiese figuur of versinsel. Dog, om te wil hê mense moet glo dat Maria verkrag is en só aan haar swangerskap gekom het, moet hulle noodwendig erken dat Jesus wél werklikheid is, want wonderwerke het ons al dikwels gesien, maar geen vrou het nog óóit fisies geboorte gegee aan ’n mite, ’n fabel, nie. En as hulle aandring dat HY werklikheid is (hoe anders), kan hulle natuurlik ook nie die res van die opgetekende geskiedenis van Hom ontken nie... Dus, nou moet hulle vir hulself ’n konstruk skep om SY Goddelike Heiligheid te verdiskonteer en weens hulle antagonisme en openlike vyandigheid jeens Hom, word sulke kwaadwillige stories versin om SY beeld te probeer afbreek en te beswadder ten einde alle ander getuienis van Hom só te probeer diskrediteer.
Maar die geskiedkundige feite weerspreek egter dié wilde, grondelose bewerings van die desperates. Dit is kenmerkend dat daardie soort van onsinnige snert juis weer deur Thomas geopper word want só het ons hom leer ken. Kyk, as die seun van ’n dominee die spoor byster raak en bereid is om sy oorlede dominee vader se nagedagtenis oneer aandoen, dan doen hy dit in die oortreffende trap... Dit is asof dié ouens werklik die mees radikale en venynige van hulle almal raak – en ook die mees insiglose.
Eerstens is daar talle getuienis van nie-Christene én natuurlik Christene van destyds wie algar kennis dra van Jesus Christus, soos byvoorbeeld dié van die Romeinse geskiedskrywer Tacitus (maar baie duidelik ’n antagonis van die Christene en van Jesus Christus) en die Joodse geskiedskrywer Josephus (wat geen Christen was nie) en ook dei Romeinse goewerneur Plinius die Jongere. Dit is, terloops, ook Plinius die Jongere se getuienis wat vir ons bevestig dat die eerste Christene vir die HERE Jesus Christus aanbid het as God en dáár alreeds is skriftelike bevestiging van buite die Evangelies van die algemene bewustheid van die HERE se Goddelikheid. Hierdie word ook bevestig deur die latere geskrifte van die Griek Lucius van Samosata in die Tweede Eeu n.C. Dan is daar natuurlik ook een van die skerpste kritici van die tyd, die Griek Celsus, wat juis die skinderstorie en leuen oor die sogenaamde ‘verkragting’ versprei het, wat onomwonde erkenning verleen, nie net aan die HERE Jesus se werklike bestaan nie, maar ook aan Sy magte om wonderwerke te doen – wat Celsus beweer het, magiese kragte was wat die HERE Jesus kwansuis in Egipte aangeleer het. Dan is daar ook natuurlik die direkte getuienis in die Babiloniese talmud van die HERE Jesus se mees verbete teenstanders en antagoniste, die Judese Jode van destyds, met die vermelding van die kruisiging en die noem van die Jesus by Naam.
Die bestudering van die verskillende geskiedkundige bronne wys juis ook op ’n ander element - op die teendeel van die bewerings rakende grootskaalse verkragtings deur Romeinse soldate.
Die Romeinse ryk het gestrek oor massiewe stukke aarde en oor baie verowerde grondgebied heen (die ganse Wes Europa, suidelike Oos Europa, Noord-Afrika, Midde-Ooste en westelike Arabië). Die provinsies is by wetgewing gereguleer via die Leges Provinciae en ondergeskikte wetgewing en die stelsel van magistrate en senatoriale kommissies waardeur goewerneurs soos Pilatus tot verantwoording geroep kon word oor gebeure in die provinsies. Weens die massiewe groot gebied wat gekontroleer moes word en die geweldige groot militêre mag wat dit sou verg teen geweldige koste, moes en het elke goewerneur normaalweg toegesien dat die vrede bewaar word deur die inheemse bevolking se tradisies en kultuur te respekteer (Sien Josephus ‘The Antiquities of the Jews’ boek xviii oor Pontius Pilatus) en af te dwing tensy dit strydig is met Romeinse reg. Só het Judea, waar Maria gewoon het, selfs sy eie Joodse polisiemag gehad (Sanhedrin soldate wat Joodse religieuse gebruike moes afdwing) en sy eie Joodse heersers wat konings genoem was (byvoorbeeld die Herodesse).
Dit is welbekend dat verkragting as ’n gruwel sonde gereken was en ’n sonde was wat die doodstraf onder die Jode gedra het (Deuteronomium 22:25-26). So ook is seksuele losbandigheid oor die algemeen verbied (Exodus 20:14; Levitikus 18:20, 24; 19:29; 21:7; Deuteronomium. 23:17; Spreuke 6:23–26; 7:4–5; 23:26–28; Esegiël 18:5–6, 9, ens.). Daarom sou die Romeinse goewerneur normaalweg hoegenaamd nie toelaat dat sy soldate sommer Joodse jongmeisies of vroue verkrag nie, want dit sou tot opstande en geweldige onrus aanleiding gee waarvoor hy verantwoording sou moes doen. Pontius Pilatus was wel deur sommige beskuldig van wreedheid, maar hy was ook ’n geslepe politieke opportunis, wat duidelik eerder plofbare situasies sou vermy wat vir hom polities in verleentheid sou stel. Die kruisiging was juis só ’n geleentheid, hoe onregverdig ook al en ook die geval wat deur Josephus beskrywe word. Tewens, die goewerneur moes en het toegesien dat die bevolking floreer sodat hulle ekonomies aktief sou wees (Josephus boek xviii) sodat die belastings verhaal kon word. Dit sou net kon gebeur as die inheemse volk relatief gelukkig gehou sou word. Dit is dan ook die rede waarom verkragting deur Romeinse soldate eerder die uitsondering as die reël was.
Hierdie situasie het voortgeduur tot ongeveer 70 n.C. toe Jerusalem deur Titus in beleg geneem is en daar weer grootskaalse vergrype was in die tyd van Nero en daarna (sien die geskiedskrywer Flavius Josephus se werke). Hierdie tydperk was juis gekenmerk deur relatiewe politieke rustigheid met hier en daar opwellings deur Joodse ekstremiste wat onderdruk was, maar oor die algemeen was dit polities ’rustig’.
Daarom is die kwaadwillige bewerings van ’n verkragting van Maria in ieder geval vêrgesog en vals. Indien daar soiets was, sou dit verseker in die Woord opgeteken wees – die Woord skroom nie om sulke gruwels te vermeld waar dit gebeur het nie, ongeag die verleentheid daarvan, want die Woord is openlik en eerlik (komende van God). Sien maar gerus die verhale van Dina, Tamar en ook die doodstraf vir selfs gepoogde verkragting (Esther 7:80) asook die sedelose skande van stamvader Ruben en dié van Juda by (die ander) Tamar. Die enigste geleentheid waar verkragting grootskaals plaasgevind het, was tydens die beleg en oorname van die Judese en Israelse grondgebied deur die Chaldeërs se moordbendes in die tyd van die verstrooiing (sien Klaagliedere 5:11 en die ander profete hieroor) ongeveer 400 vC en toe was Maria nog nie eens gebore nie.
Die gevolgtrekking is dat agnostici die maagdelike swangerskap maar net nie kan verteer nie, omdat hulle God nie kan eien nie. Daarom maak hulle dit af – nie omdat dit onmoontlik is nie, maar omdat hulle nie God se betrokkenheid van aanvaar nie. Nie te lank terug nie, was hier ’n hele polemiek op hierdie forum oor wetenskaplikes wat dit reggekry het om ’n knaagdier dragtig te laat word sonder die tussenkoms van ’n manlike knaagdier en dié sal hulle aanvaar, maar hulle slaan bot toe as God dit bewerkstellig vir SY doel met ’n maagdevrou om die grootste Mens van alle mense – Jesus Christus - só op aarde te vestig. Interessant en ook insiggewend hoe juis dít wat die sekulêre bronne van die HERE opteken, die feit is dat HY by Naam Christus is.
Kobus de Klerk
Kommentaar
Beste Kobus,
Angus,
Beste Kobus,
Daar het jy dit nou Angus. Volgens Kobus: "As die mediese- en natuur wetenskap die wonderwerke nie kan verklaar nie, beteken dit nie dat dit nie gebeur nie, maar beteken dit slegs dat die mediese- en natuurwetenskap nog nie ver genoeg ontwikkel is om dit te kan verklaar nie."
Jesus se geboorte was geen wonderwerk nie, absoluut niks spesiaals nie! Maagdelike geboortes is iets alledaags. Dis maar net die wetenskaplikes wat te dom is om dit te kan verklaar. Praat van Kobus se brood albei kante gebotter.
Beste Chris,
Angus, ek sal nie verbaas wees as hierdie babas wat gebore is van maagde op water sal kan loop nie. Dis mos net logies, of hoe?