Antwoord vir Angus oor taal

  • 1

Dagsê Angus

Ek het nooit gesê jy’t beweer dat Bullokar struktuur aan Engels gegee het soos jy my beskuldig nie. Die inligting aangaande Bullokar kry ek by jou soos blyk aan die volgende aanhaling uit my brief:

“Met William Bullokar (wie hy ook al mag wees) skiet jy jouself eintlik in die voet. Bullokar het nie struktuur aan Engels gegee nie; hy kon dit aan die hand van Latyn identifiseer, die struktuur was reeds daar. “

Hieruit is dit duidelik dat ek nog nooit van Bullokar gehoor het nie. Dit is dus logies dat, wat daarna volg, jóú inligting is (ook in vetskrif vir duidelikheid). Dus, implisiet, begin of eindig daardie sin met “soos jy sê”.

Jy kan kla dat ek myself swak uitdruk maar dat ek jou om die bos probeer lei met slinkse truuks? Absurd. Buitendien, ek het dit nie nodig nie; jy’t saamgestem dat ‘biljoen’ grammatikaal nie korrek is nie. Jou probleem was net met die regstel van hierdie taalgogga. Jou siening was laat staan maar, gedane sake het geen keer. Myne was dat, as ‘n verkeerde ding ‘reg’ word deur algemene gebruik, die omgekeerde ook kan geld naamlik dat die regte ding heringestel kan word deur algemene gebruik. So eenvoudig soos dit.

Veel interessanter egter as die absurde navolging van Amerikaanse gebruik, is jou siening van grammatika. Jy sê byvoorbeeld: “Wat die grammatika betref: geen taal ter wêreld het eers met grammatika begin nie. 'n Taal word eers gepraat, daarna geskryf, en eers heel later kom taalgeleerdes, bestudeer die taalstruktuur en beskryf dit dan in grammatika.”

So, volgens jou, was daar eers taal en daarna, by implikasie, volg grammatika. Volgens die aanhaling hierbo klink dit of jy reken dit het gevolg ná taal geskryf is (jy sal jouself natuurlik hieruit kan wurm deur te sê jy’t nooit beweer grammatika het na die geskrewe taal gekom nie; jy’t bloot gesê dit is later beskryf).

Ewenwel, later, na die skryftaal, ‘heel later’ soos jy sê, kom taalgeleerdes toe, bestudeer die taalstruktuur en beskryf dit in grammatika! Hoe beskryf mens iets in grammatika? Grammatika is dan juis, saam met woorde, waaruit taal – wat jy aanwend om iets te beskryf –bestaan. Buitendien, waar het hulle hierdie grammatika gekry waarin hulle hierdie taalstruktuur beskryf het as daar dan eers volgens jou net taal, en dan skryftaal, bestaan het?

Jou probleem is, Angus, jy verwar grammatika met ‘n grammatikaboek, vandaar jou belaglike stelling dat dit “ ... eers in 1875 [was] dat die eerste Afrikaanse grammatika sy verskyning gemaak het.” Hoe dink jy het die Boere kommunikeer sonder grammatika? Net met los woorde? Jy praat ‘n taal deur woorde en grammatika (verbuigings, naamvalle, sintaksis ens) te gebruik, net soos jy ‘n motor kan bestuur sonder dat jy kennis van die binnebrandmotor of outomatiese transmissie hoef te hê.

Jy noem die voorbeeld van julle huishulp wat Sotho, Zoeloe, Xhosa, Afrikaans en Engels kan praat maar nie weet wat sekere grammatika-begrippe is nie. Dit geld vir seker 95% van alle sprekers van enige taal ter wêreld. Vra die gemiddelde ingenieur of instrumentmaker hoekom hy soveel byvoeglike bysinne gebruik en hy kyk jou aan of jy mal is. Vra die gemiddelde Engelsman of hy weet wat ‘n ‘logophoric pronoun’ of ‘long-distance reflexive’ is en hy sê vir jou ‘no’. Dis nie te sê hierdie mense kan nie Afrikaans of Engels praat nie, hulle hoef nie die terme vir die onderdele van die masjien te ken om die masjien in te span nie. Terloops, die kans dat jou huishulp 5 tale kan praat is baie gering.

Jy’s bietjie van ‘n karnallie om te beweer dat volgens my Afrikaans ‘n ‘vervalle’ taal is; ek het tog al by meer as een geleentheid gesê dat, alhoewel grammatika vereenvoudig, dit nie ‘n uitwerking op die uitdrukkingsvermoë het nie. ‘n Engelsman kan sy filosofiese gedagtes net so goed as ‘n Rus uitdruk ten spyte van die feit dat Engels ‘n baie eenvoudiger grammatika het (wie’s nou skelm?).

Groetnis
Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Jou "implisiete" sinnetjie, "soos jy sê" is maar 'n lomp verskoning. Hoe skiet ek my dan in die voet, (soos jy sê)?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top