Ek verwys na my brief van 14 deser.
Beste Angus
Die Engels vir 'til' is 'cash register'. Jy't vergeet van die ou wat 'n band wou koop, "I want to buy a new band”. "I'm sorry sir, I don't know what a band is" sê die ou agter die toonbank waarop hy na sy vriend toe draai en vra "Wat's 'n tyre nou weer in Engels?"
Beste Jaco
Mooi en redelik nugtere kommentaar. Let tog net op die volgende: Nie een van daardie tale waarvan Engels volgens jou 'n mengelsmoes sou wees (en nog 'n paar ander waaraan jy nie dink nie), is in 'n posisie om Engels oor te neem nie.
Ook, in 'n poging om hulle kinders ' 'n beter kans te gee', sit Engelssprekendes nie hulle kinders in Griekse, Angelsaksiese, Keltiese, Noorweegse, Griekse, Latynse en Franse (die tale wat jy genoem het) skole nie. Ook is Engelssprekendes nie verplig om hierdie tale by die werk te gebruik nie, of polisieverklarings in hierdie tale af te lê nie (want sou hulle dit in Engels doen word dit deur die polisie opgeskeur) en hoef hulle ook nie in hierdie tale te praat as hulle belastingnavrae het nie.
Afrikaanssprekendes, daarenteen, maak hulle kinders Engels groot om hulle kwansuis ' 'n beter kans in die lewe te gee', hulle praat Engels by die werk want hulle moet, die swart regering wil dit hê, hulle moet verklarings in Engels aflê by die polisiestasie anders skeur die polisieman dit op en hulle moet hulle belastingprobleme in Engels oplos want die amptenare praat nie Afrikaans nie.
Engels is dus in 'n posisie om Afrikaans oor te neem soos inderdaad ook gebeur soos ek in my betrokke brief uitgewys het.
Engelssprekendes sal ook nie ellelange sinsnedes in daardie tale gebruik nie, of sê "ek weet nou nie wat die Engels hiervoor is nie ... " en dan die woord in een van daardie tale sê nie. Hulle sal ook nie hul taal deurspek met woorde van enige van daardie tale nie soos wel die geval met Afrikaanssprekers ten opsigte van Engels is.
Soos Engels, trouens enige taal, het Afrikaans ook 'n mengelmoes ander tale wat bydraend was in sy vorming, onder andere Portugees, Koi, Maleisies, Zoeloe, Frans, Duits ens. Jy sal merk dat ek nie oor hierdie tale kla nie want vir die honderdste maal, hierdie tale is nie besig om Afrikaans dood te smoor soos die geval met Engels is nie.
Daar is 'n verskil tussen vorming en besoedeling.
Ag ou Dirk
Ek's darem bly jy kry soveel plesier wanneer ek foute maak anders het jy nie veel te sê nie en wat jy wel te sê het is loutere twak. Pistorius klink wel Engels; van mej Steenkamp is ek nie so seker nie want ek het haar nog nooit hoor praat nie MAAR hoe dit ookal sy; daar is nou weer eens twee mense wat sprekend van die proses van 'opgradeer na Engels toe' is soos Breyten Breytenbach dit stel. Mens kry al Engelse Myburghs, Hanekoms, Van der Merwes, Bezuidenhouts, Duvenaghes ens ens.
Ek sê hierdie neiging kom veral onder die bruines voor en jy stem saam daarmee; jy vertel dan self vir my hulle wil niks met Afrikaans te doen hê nie. Jy vra vir my hoekom dit so is? Moet wees omdat hulle dink Engels verhef hulle status, wat anders? As jy dink daar is 'n politieke rede makeer jy bietjie logika, bietjie baie. Sal die Tories byvoorbeeld ophou Engels praat omdat hulle kwaad s vir die Arbeidersparty? Natuurlik nie man, so moenie vir jou staan en simpel hou nie.
Van logika gepraat; jy sê vir my, in suiwer Standaardafrikaans, dat Standaardafrikaans se tyd verby is. Hoe werk jou kop?
Ek het dit teen RSG se beheptheid met Engels en die gevolglike swak Afrikaans van baie van die omroepers (en gaste). Jóú gevolgtrekking is dat ek kla oor RSG omdat hy nie meer op ‘n suiwer wit gehoor gemik is nie. Die implikasie van jou stelling is dus dat standaarde verlaag is om die bruin luisteraars te akkommodeer. Hoe moet bruines oor jou stelling voel? Sies man. Buitendien, hoekom sou RSG nou in die verlede op net wit luisteraars gemik wees, ons praat mos almal Afrikaans of hoe? Onthou jy nie hoe baie het Maxie Battiss ingebel nie?
Terloops, die Beatles het wel boeremusiek gemaak, egter nooit Boeremusiek nie. Ook, soos ek reeds vir jou gesê het, ek is nie ‘n taalbul nie; jy sien mos aan die foute wat ek maak en jy het voorheen al vertel hoe swak en deurmekaar ek skryf. Ek het dit teen die verdringing van Afrikaans deur Engels. Jy hoef nie ‘n meubelmaker te wees om agter te kom die tafel se poot is gebreek nie, of ‘n plantkundige om te sien die potplant vrek van die dors nie, of ‘n metallurg om agter te kom jou kar roes nie ... jy volg die strekking?
Ter afsluiting, hier’s vir jou ‘n geskenkie: Die vlotsrius durk sy kop in dei snad. Dit behoort jou langer as vandag se soduko besig te hou.
Jan Rap
Kommentaar
Ou Janneman,
As jy nie seker is van Me Steenkamp nie, sê liewer niks nie. Beide haar ouers is Engels eerstetaal sprekers, so die logiese gevolg is tog dat sy ook Engelssprekend was. Volg jy ?? Moenie jou onkunde voor almal uitlap nie. Sorg dat jou opinie ietwat ingelig is, dan dra dit darem gewig.
Jou vergelyking tussen die Tories en die Bruinmense is so absurd dat kommentaar oorbodig is, behalwe om net te sê dat dit illustreer hoe absoluut onkundig (en ongevoelig) jy is oor die skade wat Afrikaners, wat dink soos wat jy dink, aan Afrikaans aangerig het onder hierdie mense. En nou kla julle die hardste oor Bruinmense hul kinders in Engels grootmaak!
Nou wonder ek verder as ek jou goed lees, wie se kop is eintlik in die sand? Want dis waaragtig nie in die realiteit van Suid-Afrika 2014 nie. Dalk 1977?
Ou Dirk
Steenkamp en Pistorius is Afrikaanse vanne en of hulle nou uit huis uit Engelssprekend is of nie, dit is 'n manifestasie van die verengelsing wat aan die gang is, As dit nie hulle is wat 'opgradeer' het nie is dit hulle ouers, of hulle grootouers, of grootjies ens. .... jy volg die strekking?
As jy nie kommentaar KAN lewer nie moet dan nie. Om met die absurde verskoning te kom dat kommentaar oorbodig is, is wel kommentaar maar die kop-in-die-sand-variasie; jy stel net jou gebrek aan insig ten toon en trap dieper in die sponsdoring: Ek het NIE die bruines met die Tories vergelyk nie maar die verskynsel dat jy 'n taalgenoot 'n punt sou steek deur jou eie taal te versaak. Dit maak net nie sin nie behalwe nou, natuurlik, as jy in elk geval nie veel erg aan jou taal gehad het nie.
Jy's alweer besig met rooiharingstrooipoptegnie. Ek het nooit gekla dat bruines hulle kinders Engels grootmaak nie; ek het gekla oor verengelsing onder Afrikaanssprekendes en opgemerk dat dit meer prominent in die bruin gemeenskap is (waarmee jy toe saamgestem het).
Jou kop is in die sand Dirk: Afrikaans is onder beleg, die land sit met 'n patetiese regering wat jy ywerig in die saal gehelp het en jy speel harp.
Jan Rap
Jan
'n Persoonlike perspektief.
Twee aspekte vanuit jou respons aan Dirk wil ek uitlig.
1. Die feit dat Afrikaanse vanne onder Engelssprekendes bevind word, kan die gevolg vir verskeie redes wees.
a. Die aangetroude Engelssprekende ma wat van 'n Afrikaner geskei of geweduwee is, kan tot gevolg he dat die kind in die ma se sorg, dienooreenkomstig Engels grootgemaak word, nie die kind se skuld nie. Dieselfde geld andersom waar Engelse vanne onder Afrikaners en Afrikaanses te vinde word. Hier op SêNet skryf Henk Seymore kommentaar, 'n Afrikaner met 'n Engelse van (definitief nie Skots nie).
b. Ouers wat oorsee is of was, waar die kind van Afrikaans verarm word, nie sy skuld nie, en keer as volwassene terug na S.A. met geen aanvoel vir Afrikaans nie.
c. Waar 'n Afrikaanse geskeide of geweduweede vrou met kind, met 'n Engelsman hertrou.
d. Waar 'n kind na 'n Engelseskool gestuur is omrede daar nie enige Afrikaanse skool naby genoeg is nie, wat wel die geval in baie dele van die land is. Die invloed van "peer" druk is geweldig op die kind, ook nie sy skuld nie. In teenstelling vind ons vandag baie Engelse wat eerder verkies om hulle kinders na Afrikaanse skole toe te stuur sodat hulle kinders nie deur swartes verswelg word nie. Van hulle sal mettertyd Afrikaners word.
e Diegene wat weens vrye keuse Afrikaans wil vaarwel sê, verkwalik ek ook nie. Die rede daarvoor kan alleenlik wees dat hulle nie meer tuis in hulle eie gemeenskap voel nie. Die onus berus by Afrikaans en Afrikaners om die taal aanloklik genoeg te kan maak, en die betrokke persone meer tuis met Afrikaans te laat voel. Deel daaraan is dat Afrikaners nie teenoor ander Afrikaners voorskriftelik moet optree nie.
2. Dat Afrikaans onder beleg is, stem ek met jou heelhartig saam. Die beleg is nie as gevolg van die Afrikaners self nie, maar van die ANC regering wat soveel maatreels in werking wil stel om die Afrikaanse taal te wil smoor.
Afrikaners aanvaar dit nie gedwee nie. Daar is burgerorganisasies soos Solidariteit, AfriForum, FAK, ATKV, Taalraad, ens. oa. wat daadwerdlik vir die Afrikaanse taal in die bresse tree. Die Afrikanerleek wat dit kan bekostig, help ook met hulle vrywillige finansiele bydraes.
Die NEE stem wat nie bereid was om enige insette by Kodesa te gee nie, is grootliks verantwoordelik vir die regering se gemors, waar hulle insette dit miskien kon verhoed het.