Boekresensie: Mara deur Lisette van de Heg

  • 2

Lisette van de Heg (bron: http://www.vanrietschoten.nl/images/e-books/)

Lux Verbi, uitgewer van Christelike Afrikaanse lektuur, het Mara, deur die Nederlandse skrywer Lisette van de Heg, in Afrikaans laat vertaal. Die vertaler is – wie anders? – Daniel Hugo, wat besig is om meer bekend te raak vir sy vertalings uit Nederlands as vir sy gedigte. Hugo se naam in die binnewerk van ’n vertaling is altyd ’n gerusstelling: ongeag die gehalte van die boek weet jy dat dit vlot en foutloos sal lees.

Mara dra op die voorplat die stempel “Internasionale Topverkoper”. So ’n sterretjie op die voorkop is soms misleidend: smaak verskil en die feit dat derduisende lesers oor die wêreld heen ’n boek gekoop het, is geen waarborg dat ek en jy óók daarby gaan aanklank vind nie. Daarby is nie almal populistiese lesers nie en so ’n stempeltjie kan puntenerige lesers juis hierdie een by hulle laat verbygaan.

Wat die storie betref: die sestienjarige Maria en haar ma bly by haar stiefpa, ’n suurknol van ’n dominee, op ’n Nederlandse dorp. Maria raak swanger, ’n skande wat haar stiefpa se reputasie kan vernietig. Sy word “weggestuur” na haar tante Be, wat op haar plasie ’n bestaan uit ’n paar koeie, ’n klompie varke, vrugtebome en haar Bybel maak.

Die gegewe klink bekend: ook in ’n dorpie êrens op, sê nou maar, ’n Vrystaatse vlakte sal ’n swanger predikantsdogter summier “gepos” word na êrens waar die dorp nie daaraan herinner sal word dat ook predikantsdogters soms buite-egtelike seks het nie.

Die verhaal loop teen ’n soms dralende, maar gemaklike pas. Die beskrywing van die Nederlandse platteland en die lewe op ’n bestaansplasie is boeiend en mooi. En dan is daar die karakterisering: van die vuilgoed van ’n stiefpa – vir ’n misleide Maria die verpersoonliking van ’n onvergeeflike God self – en die futlose martelaar van ’n ma, tot tante Be, wat ten spyte van haar minsaamheid nie tyd het vir onsin nie. Die jong, blonde dominee Reijer, ’n antitese van daardie satanskind van ’n stiefpa, se deernis en behoefte aan begrip verleen ’n suggestie van romanse aan die boek. Een van die mooiste tonele in Mara is waar Reijer afbuk en met sy vinger iets in die stof skryf – ’n direkte verwysing na Jesus ná ’n onvergeetlike daad van vergifnis.

En dan is daar Maria.

Sy is kwaad, bitter, selfverwytend, bang, humorloos; sy voel selfs haat teenoor haar ongebore baba. En tog het sy nie ’n “lelike” persoonlikheid nie, en wat lesers veral teenoor haar voel, is deernis. Sy kán nie anders as om te voel hoe sy voel nie en word volkome geloofwaardig uitgebeeld.

Dan is daar die deurlopende vraag: Wie is die ongebore baba se pa? Hoe gaan Maria teenoor die kind voel en optree nadat sy gebore is? Wat gaan van die baba word?

Soos baie goeie boeke begin dié een met ’n reis: nie net ’n fisiese reis per trein nie, maar ook ’n reis saam met ’n onherkenbare God, in dié geval ’n ouerige non. Nadat suster Olivia en Maria se paaie uiteengeloop en Maria ’n laaste keer van die trein afgeklim het, duur die “reis” voort: die universele reis van onsekerheid en selfverwerping na vrede, hoop en selfherkenning. Eers nadat Maria sélf hierdie pad geloop het, ’n pad na vergifnis en sélfvergifnis, kan sy terugkeer na God: sy besoek die non in die klooster met die doel om self ook ’n non word, maar word weggestuur om haar eie pad te loop. Dit is ’n kragtige boodskap: God wag jou in nadat jy sélf die “demone” in jou kop bedwing het. En dan loop jy jou eie pad, maar met Hom saam met jou.

Maar iétsvan God is tog ook deurentyd daar, selfs voor die groot besinning, effens op die agtergrond, al word Hy blywend weggestoot – soos vergestalt deur dominee Reijer?

Die spanning tussen God/Vrou is ’n subteks op sy eie: verkragting, ongewenste swangerskap, skuld wat op jou afgedwing word, die rou verdriet nadat ’n kind, op watter manier ook al, van jou weggeneem word ... Is vroue deur God “gemaak” om te ly soos net vroue kan? Verwag God van vroue om in stille aanvaarding en onderdanigheid swaar te kry (’n sonde op sy eie?), soos Maria se ma? Maar dan word God aanvanklik as ’n vrou aan Maria (en lesers) voorgehou. In (die manlike) dominee Reijer is daar geen oordeel nie, en dié Maria skenk die lewe aan ’n dogtertjie ...

Mara is ’n pragtige boek, vol verdriet en wroeging, maar nie sonder humor nie. Alles wat mooi en goed is, is tussen dié bladsye te vind: versoening, begrip van en vergifnis vir die self, aanvaarding, liefde. En veral: ’n vredesluiting met God, want dit is eindelik waaroor die boek gaan: een mens se struweling met ’n onverstaanbare God en eindelike aanvaarding van Sy onvoorwaardelike liefde – teen wil en dank.

Dis ’n boek wat uit die hemel geval het; ’n heilige, geseënde verhaal ...

... waarvan die meriete selfs nie deur die onbeholpe vertaalwerk en swak proefleeswerk ondermyn word nie. Want hiér het Hugo sy moses teengekom. Die teks wemel van onvergeeflikhede soos “stop” pleks van “stilhou” (’n hele paar keer); en daar is so baie proefleesflaters dat ’n mens nie sal weet waar om op te hou as jy eers begin opnoem nie.

Mara is ’n perfekte voorbeeld van ’n blote storie – met soveel meer wat raakgelees kan word deur dié wat wil. Léés hierdie boek as jy meer uit die lewe wil haal as wat op die oppervlak lê.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top