Biebouw-resensie: Waar die son omdraai deur Vita du Preez

  • 1

 

Titel: Waar die son omdraai
Outeur: Vita du Preez
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799369663

Koop Waar die son omdraai by Kalahari.com

’n Sepiester, Thea Jonker, se lewe verander een aand in ’n oogwink toe ’n taxibestuurder ’n rooi lig ignoreer en haar baie ernstig in die motorongeluk beseer. Haar gesig word ná die ongeluk geskend gelaat. Sy laai sakke vol klere by Hospies af, stoor haar meubels en gaan probeer haarself weer vind as vrywillige werker vir African Outreach in Mosambiek. Sy vind gou aanklank by die kinders in nood, en so deur die daaglikse werk met hulle vind sy ook heling vir haar gebroke gemoed.

Maar malaria laat haar in die hospitaal buite Vilancoulous beland en dis hier waar haar pad met dié van dr Matt Barnard kruis. Hy soek ook heling vir ’n gebroke gemoed en moet heelwat besluite oordink, omdat hy sy loopbaan as plastiese sjirurg én sy gewese vrou in Gauteng agterlaat het. Maar sy pad is uitgesit om ’n monnik te word. Dis hier waar hy voel sy eintlike roeping lê en waar hy hoop om weer sy rigting te vind. Hy het immers as kind saam met sy ma in Mosambiek by die Benediktynse klooster gaan kuier en sielevrede daar gevoel.

Thea is nie gelowig nie; Matt wil nader aan God wees om vrede te ervaar; maar al twee het só nodig om in goedheid en genesing te glo.

Thea se ongelukkige kinderjare en haar ma se dood het haar skepties oor die liefde gemaak en haar verhoudings eindig altyd rampspoedig. Hoewel hulle albei weet daar kan geen toekoms vir hulle as paartjie wees nie, is daar tog ’n sterk aantrekkingskrag wat in ’n kortstondige verhouding ontaard.

Maar hy gaan klooster toe en Thea vind uit sy is swanger met hul tweeling. Dis haar vriendin, Amelia, wat geen doekies omdraai nie en vir haar sê dat sy eers haar kinderjare vierkantig in die oë moet kyk voor sy daaraan kan dink om die rol van ma te speel. Dat sy haar pa moet aanvat en self eers moet grootword voor sy kinders kan grootmaak.

Maar hoewel sy en haar pa die verlede kan agterlaat, is dit haar toekoms met haar tweeling wat haar bang maak. Sy is bang sy loop dieselfde paadjie as haar ma; sy wil vir Matt deel van hul lewens hê, maar sy glo hy wil in die klooster woon.

Misverstande en verwyte kos amper die twee ’n toekoms saam. Maar hulle ontmoet weer. Albei sterker, verstandiger mense as die twee wat maande tevore in oomblikke van wellus alle beginsels oorboord gegooi het.

Die boek bied ’n eerlike kyk na die ontnugtering wat roem en sukses kan meebring; die hartseer wat verhoudings veroorsaak wanneer mense trofee-eggenote word en finansiële sukses mense die pad laat byster raak. Dit bring die kontras van armoede en nood in Mosambiek, teenoor die sukses van die Goudstad, na vore en hoe mense vinnig van hul aansien beroof kan word en weer mens kan word deur ander te dien.

En dit bewys weer dat misverstande en hardkoppigheid soveel male die oorsaak van baie – onnodige – hartseer is.

Vita du Preez se vorige boeke het die weg gebaan vir hierdie volwasse roman. Dit getuig van lewenservaring, van medelye met swaarkry en die wete dat dinge kan uitwerk as mens hard genoeg daaraan werk.

Du Preez se eerste romanse, As sterre blom, het in 1996 verskyn terwyl sy as argivaris by die WNNR gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen verskyn. ’n Persoonlike gunsteling was Skuiling van die hart, ’n historiese roman wat tydens die Boereoorlog afspeel. ’n Man vir Mia was ’n finalis vir die LAPA-Liefdesromansetoekenning 2005/2006.

Nadat sy in 2002 Kaap toe verhuis het, het Du Preez vryskutvertaalwerk begin doen, wat later ’n heeltydse werk geword het. Sy het meer as 60 Mills & Boon- en Harlequin Intrigue-titels vertaal. Ná tien jaar in die bedryf het sy besluit genoeg is oorgenoeg en haar eie skryfwerk voltyds hervat. Sy was lus vir ’n nuwe uitdaging en het besluit om ’n volwaardige liefdesroman aan te pak.

Sy kry haar inspirasie uit die alledaagse, waar goeie en slegte goed met mense gebeur, en wil karakters skep met wie moderne, Afrikaanse vroue kan identifiseer.

Gelukkige eindes, glo sy, kan ons almal beskore wees as ons ons lewensvreugde en humorsin behou. Dis duidelik in hierdie roman te bespeur.

Deesdae woon Vita saam met haar man in die Strand en wanneer sy nie skryf nie, maak sy tuin, lees en kuier saam met vriende.

Die boek is ’n lekker leeservaring, en hoewel daar hier en daar eendimensionele gebeure is wat effe hinder, is dit goed nagevors en in ’n lekker trant geskryf. Die idee om die boek te laat afskop in Mosambiek met sy vrywillige werkers wat ’n gebroke nasie probeer heel, skets die atmosfeer en trant van die boek baie goed.

Waar die son omdraai is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by (012) 401-0700 of besoek hul webblad: www.lapa.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • Way cool! Some extremely valid points! I appreciate you writing this article and the rest of the site is really good.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top