Titel: Slim leuens
Outeur: Lien Roux-de Jager
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799369762
Koop Slim leuens by Kalahari.com
Lien Roux-de Jager het al op ’n paar skrywerstoele gesit: kinder- en jeugromans, romanses, kortverhale. ’n historiese roman en ’n spanningsverhaal-trilogie met die titels Gekoopte leuens, Donker leuens en nou Slim leuens – die Kallli Krynauw-reeks.
Kalli Krynauw is ’n forensiese poligraaf, opgelei deur die FBI en nou in diens van die SIS – Special Intelligence Services. Sy pas die tipiese profiel van ’n spanningsromanheldin: parmantig, kordaat, eiewys en slim. Sy deins nie terug vir geweld nie en is ’n baie ervare psigofisioloog, maar hier en daar is haar versugting om weg te kruip in die arms van haar geliefde De Waal Brink ietwat soetsappig.
De Waal Brink is ’n wetenskaplike wat navorsing doen om ’n alternatiewe brandstof te vind. Hy vermom homself deur voor te kom as iemand met ’n mankstappie en ’n kierie wat in ’n spies kan verander. Hy verstaan die meedoënloosheid van die wêreld waarin Kalli werk en tree baie beskermend teenoor haar op.
Heel vroeg in die verhaal word dit duidelik dat die SIS te make het met ’n reeksmoordenaar. Die moorde is grusaam en die moordenaar is intelligent en slinks. Hy speel kat en muis met die polisie en sorg dat hy telkens ’n stappie voor hulle uit is. Hy stuur selfs e-posse aan die SIS en later persoonlik aan Kalli Krynauw. Die moorde word fyn beplan en met presisie uitgevoer. Die eerste twee lyke van skoolseuns word na die lykshuis vervoer, waar hulle vermink word en amper arrogant vir die polisie uitgestal word.
Om sake vir Kalli te vererger hoor sy dat Jeffrey Collins, ’n man wat haar ’n paar jaar vantevore gedurende ’n skisofreniese episode aangerand het, uit Weskoppies vrygelaat is. Sy laaste woorde aan Kalli voor hy opgeneem is, was dat hy haar sal opspoor en doodmaak.
Die media is op hol en etiketteer die moordenaar as Die Skender. Laasgenoemde geniet die media-aandag en dit sorg dat hy algaande meer koorsagtig word oor die intensiteit en tydsduur waarin die moorde gepleeg word. Roux-de Jager skram nie weg van grafiese besonderhede wanneer die moorde beskryf word nie. Ook is sy goed toegerus met haar forensiese feite – haar navorsing is duidelik deeglik gedoen. Sy skryf lekker en met oortuiging, dus loop die verhaal teen ’n betreklik stewige pas.
Al wat die spoed breek, is die doen en late rondom die troue wat deur Kalli se suster Madelein beplan word. Kalli se irritasie met al die reëlings en die rokaanpassery resoneer dalk by sommige lesers. Aan die ander kant dui dit op die menslikheid van die gedrewe en gerekende Kalli Krynauw en bied dit selfs komiese verligting deur al die moorde heen.
Iets wat soms wel hinderlik voorkom, is die dialoog tussen Kalli en Brink. Dit kom onnatuurlik en stokkerig oor as karakters mekaar in opeenvolgende sinne die heeltyd op die naam noem. Wanneer ’n mens luister na ’n gesprek, noem mense mekaar nie so gereeld op die voornaam nie. Inteendeel, daar is bewys dat mense in ’n intieme verhouding dit nog minder doen. Liefdesname dalk, maar so formeel op die naam bring ironies genoeg ’n afstandelikheid mee in die dialoog.
Maar dit is ’n klein jakkalsie wat onder ’n redakteur se rooi pen vinnig kan verdwyn.
Slim leuens is ’n lekkerlees-misdaadroman. Dis is mooi uitgegee deur Lapa, met ’n treffende en byderwetse omslag.