Biebouw-resensies | Reviews

 
Barend Vos se ’n Dorp soos Silwer Streams vat die platteland aan
’n Dorp soos Silwer Streams
Barend Vos
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624053101
Prys: R175.95


Klik hier en koop ’n Dorp soos Silwer Streams nou van Kalahari.net!




Toe ek die resensiekopie ontvang en agterop lees die boek is ’n “literêre debuut”, wou ek vra vir wat ’n dominee-skrywer wat waarskynlik heel goed vaar met sy kontreivertellings en Bybelromans wil oorloop na die dark side. Dáár hou skribbelaars wat min verkoop; dáár sê belangstellendes dinge soos: “Jy het wát geskryf? Maar wat is jou wérk?” Dáár tref jy die reuk van ou ambisie en sigaretstompies aan en moet jy verpligte dark nights of the soul ondergaan.

Nouja, hier op bladsy 40 rond het ek besluit dit was ’n goeie idee vir Barend Vos om hom in die duisternis te waag. Wie in ’n gemeenskap is immers meer in voeling met die hele sosiale spektrum en wie het meer geleentheid om deur huigelagtigheid, vroomheid en sy eie toenemende ontnugtering te sien as ’n dominee wat al ’n paar jaar in die amp staan? Wel, nou lees ek dalk die boekdominee in die skrywerdominee in, maar daar is tog ooreenkomste.

Albei stel in skryfwerk belang. Ons weet Vos skryf al lankal heerlike vertellings oor pastorale ervarings in ’n dorp. Elnatan Wait, die herder in die boek, het ’n plan om ou Afrikaanse jeugverhale af te stof. Dit was verrassend om fiktiewe dorpsbewoners soos Jasper en Trompie en doktor Serfontein in hierdie bladsye teë te kom, en nog meer om te besef hulle versoek die skrywende dominee om aan hulle lewens ná die boeke waarin hulle bekend geword het, te gee. Die Boksombende wil grootword en die dorp agterlaat, is dié jeugverhaalkarakters se versugting wanneer hulle aan Elnatan besoek bring.

’n Leser wat wil vergelyk, sal dalk Kombuis se Raka die roman wil nader trek, waarin ’n dominee ook ’n krisis beleef. Maar hier kom ander dorpsmense aan die woord, en dus moet ’n mens ook na iets soos Steytler se In die somer van ’36 kyk.

Maar newwermaaind die vergelykings, want hierdie boek praat namens homself. Dis vol kostelikhede, sommiges skreeusnaaks. Die karakters dink maklik min van mekaar, maklik. Toe Diana “wat aan die stasiebevelvoerder toegedeel” is, adjudant PC groet, dink hy: “Die onophoudelik fokken vrolikheid.” Toe die adjudant meneer Christians ontmoet, is sy blywende indruk van die man: “Die fokken laggie.” Die adjudant is ’n beleërde man met ’n beneuktgeit wat enige wêreldvermoeide speurder sou eer aandoen.

By die rolbalklub, die winkel, in die kerkraad en dorpshuise gaan dit nie beter nie. Mense soos Saais Vogel en oudmeneer Hechter is net so ongelukkig, terwyl die Oosthuizens baie bewus is van hulle familieplaas-status. Daar is ook twee boemelaars in die storie, ’n paartjie van wie die man ’n gehawende sinisme aan hom het wat ’n mens ’n bietjie laat skrik wanneer hy wel praat: “Talking shit, drinking slowly. If you ask me.” Geld praat en ellende ook, maar nie met mekaar nie. En daar in die omgewing van die laagwaterbrug waar die dominee oortuig is hy ’n lyk gesien het, staan die lokasie wie se mense wanneer hulle in skares saamtrek, maklik sal klipgooi of spoeg.

Dominee Wait is nou al maande lank teruggetrokke. Sy gemeentelede word geïrriteer deur sy sagte preke, sy vrou word gekwel deur haar man wat hom so onttrek en nou die gier kry om homself in ’n rubriek in die plaaslike koerantjie uit te druk. En dan is daar Carol, wat dalk met voorbedagte rade die dominee se vrou bevriend, soos sy lank terug die jong Charmaine bevriend het, die een wat bekend geword het.

Intussen moet adjudant PC rekening hou met onbevoegde minderes en beneukte meerderes terwyl hy die sterfte in die rivier ondersoek. Die adjudant word nou al jare lank vir bevordering oorgesien. Hy is in die versoeking om te drink, maar sal dit in lojaliteit teenoor sy vrou nie doen nie. Dan maak hy eerder ystergoedere: “Braairoosters. Bliksemse blomstaanders.”

Dus is daar ’n verskeidenheid karakters om die bladsye te bevolk. Die desperate verset wat hulle deel, verleen nogal komiese atmosfeer aan die verhaal. Dit wil natuurlik sê komies as jy nie self in die gebeure betrokke is nie. Verder is daar bloekombome, die kerk, die winkel, die rivier, die pad suid, en die son.

Dis dorpsheid. Dis kostelikheid met ’n berg ongelukkigheid daaragter wat, as ek moet raai, daarmee te doen het dat minstens sommige van die karakters al te lank op een plek is. Hulle het verstok.

Beskou ’n mens die boek as die skepping van een mens, die skrywer-dominee, kan jy peins oor die gemoedstoestand en lewensfilosofie wat hierdie storie tot gevolg het. Dis veral interessant in die lig van onlangse koerantberigte en -artikels oor dominees wat ’n evangelie verkondig waaraan dit al moeiliker raak om op tradisionele wyse te glo. Maar hulle moet die stryd op voorgeskrewe wyse voortsit, al druis dit soms teen hulle eie opvattinge in, en hulle vertrek op die “noodwendige inwaartse emigrasie, eie aan die predikantslewe”, soos die reïnkarnasie van Krynauw uit die Keurboslaanboeke Elnatan meedeel. Al raak hulle moeg vir die herdersrol, moet hulle dit bly speel. Die boek gaan mooi om met verspeelde kanse en ook met geesdrif wat verstryk het. Sal ’n mens van patos praat? Tog wel.

Die ooglopendste kopknik in ’n literêre rigting, buiten die dorpgegewe, kom vir my in die wyse waarop Elnatan met die jeugverhaalfantome uit die Afrikaanse verhaleskat omgaan. En natuurlik hou die ooreenkoms tussen die skrywende dominee van die boek en die een van die dorp die gedagte van metateks voor die leser se oog, maar die verhaal verval nie in ’n meditasie oor die skryfproses nie.

Uiteindelik is dit ’n toeganklike boek met heelwat oor die dorpslewe te sê. Dit is ook ’n boek wat by ’n tweede lees nog meer van daardie einste patos sal openbaar. En langs die pad gaan jy heelwat glimlag, al voel jy uiteindelik soos Carol wat meen: “Die romantiek van die platteland is net ’n mite. Dis ’n genadelose woestyn hierdie. Moedeloos. Agterlik. Dit gluur jou elke dag aan, totdat jy wegkyk of wegkruip of weghardloop.”

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address