ATR sluit vennootskap met die Jaloersbokkies

  • 0

 

Na deeglike besinning oor die wedersydse waardetoevoeging van ’n vennootskapsverhouding tussen die Jaloersbokkies-musiekgroep en die ATR is besluit om die groep finansieel te ondersteun. Van die redes om die groep te ondersteun, is die ooglopende ooreenkomste tussen die visie van die ATR en dié van hierdie multikulturele musiekgroep (kyk addendum) wat Afrikaans en diversiteit wil bevorder, plaaslik en in die Lae Lande; die feit dat die groep reeds goeie mediabelangstelling geniet (onder meer by Die Burger, Rapport en kykNET; hul sterk teenwoordigheid in die sosiale media (Facebook en YouTube); en die geleentheid om die ATR se boodskap onder ’n hoofsaaklik jeugdige mark te versprei. Die gebrek aan genoegsame bemarking is juis as ’n leemte uitgelig, en samewerking met die Jaloersbokkies kan daardie leemte vul. Die omvattende bemarkingsvoordele vir die ATR sluit in blootstelling tydens die Jaloersbokkies se vertoning by vyf feeste: die US Woordfees, ABSA KKNK, Aardklop, Sederberg- en Bravofees te Langebaan en potensieel in die Lae Lande, asook mediadekking (gedrukte en elektroniese media) asook deur die ATR se logo op die Jaloersbokkies se bussie (sien foto). Soos een van ons lede opgemerk het: die Jaloersbokkies is ’n pragtige veeldimensionele poging om Afrikaans te laat blom.

Uittreksel uit die Jaloersbokkies se visie

“Die Jaloersbokkies is jaloers op ons taal en ons kultuur en wil dit ten alle koste bewaar. Ons visie is om kulturele brûe te bou oor kleurgrense heen en ons koester ook hiermee onder andere ons Nederlandse en Maleisiese wortels. Ons onmiddellike doelwit is om ’die Jaloersbokkies’ bekend te stel, nie alleen aan die publiek van Suid-Afrika nie, maar ook aan ander wêrelddele waar Afrikaans 'n gemene deler is. Ons glo dat musiek 'n universele taal is en dat ons deur die sing en speel van tradisionele piekniekliedjies, moppies, volksliedjies en ander Afrikaanse liedjieskatte in die proses Afrikaans as taal sal bevorder en aan 'n breër gehoor sal bekend stel.”

In sy reaksie het die ATR-voorsitter, Michael le Cordeur, gesê dat deel van die ATR se visie is om jaloers oor Afrikaans en sy sprekers te waak. Daarom is ons vennootskap met die Jaloersbokkies so gepas – dit bied ons die geleentheid om ons Afrikaanse kultuurgeskiedenis met al sy variëteite deur middel van musiek te bevorder. Die Jaloersbokkies verteenwoordig daardie waardes en daarom is dit vir ons ’n voorreg om met die Jaloersbokkies vereenselwig te word.

Foto: Die voorsitter van die ATR saam met die twee Jaloersbokkies Jawaahier Petersen en Nadine Blom

 

Foto: Die Jaloersbokkies op die verhoog by Neethlingshof tydens die Woordfees

Foto onder: Danie van Wyk en Ria Olivier van die ATR by die bussie van die Jaloersbokkies met die ATR-logo daarop

Foto onder: Ashur Petersen, seun van die legendariese Taliep, is die musiekdirekteur en hoofkitaarspeler van die Jaloersbokkies.

 

Foto's: Waldy Kastoor  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top