ATR-simposium by US Woordfees 2014: Wie se Afrikaans?

  • 0

 

Die nuwe Afrikaanse musiekgroep die Jaloersbokkies sing in een van hulle liedjies: “Dis nie myne nie, dis nie joune nie ...” Net so is Afrikaans ook nie joune nie, dis ook nie myne nie, dis ons almal s’n.

Dit is die slotsom waartoe die Afrikaanse Taalraad (ATR) se simposium Saterdag hier gekom het. Die ATR het ’n gesprek gehad oor die eienaarskap van taal. Daar word dikwels geargumenteer dat Afrikaans aan een bepaalde groep in Suid-Afrika behoort. Die drie sprekers wat by die ATR se gesprek opgetree het, voel egter deur die bank dat daardie siening verkeerd is, en nie in die gees van Afrikaans as ’n taal van versoening staan nie.

Standaardafrikaans, sê Frikkie Lombaard, is slegs een van die variëteite van Afrikaans. Hy was die eerste spreker en is van mening dat Standaardafrikaans ’n goue eeu beleef het, maar nou ’n keerpunt bereik het wat belangrike gevolge vir die taal inhou.

Frikkie Lombaard

Dit is belangrik dat waar variëteite vroeër as verkeerde of minderwaardige vorme beskou is, daar vandag aanvaar word dat variëteite van ’n taal gelykwaardige onderdele van dié taal is. In die lig hiervan is Standaardafrikaans slegs een van die variëteite van Afrikaans, naas ander variëteite, wat vir die hoë funksies gebruik word. Die term standaardtaal impliseer dus nie dat dit ’n beter (of meer korrekte) vorm van die taal is nie. Die algemeen erkende betekenis wat wêreldwyd aan ’n standaardtaal geheg word, is dat dit die taalvorm is wat geassosieer word met belangrike gebruikskontekste – soos akademiese taal, regstaal en onderrigmateriaal wat ’n sekere prestigewaarde geniet.  Volgens Lombaard is die seleksie van die “standaardgrammatika” van Afrikaans die kollektiewe resultaat van gebruikspatrone wat oor jare deur talle taalgebruikers, taalpraktisyns en akademici deur ’n onderlinge skuur- en skaafproses vasgelê is. Die mense wat ’n rol daarin speel, is diegene wat belang het by, en die toewyding het tot, formele taalgebruik.

Die Taalkommissie is verantwoordelik vir die kodifisering van die woordeskat van Standaardafrikaans.

Behalwe om leiding te gee wat betref die spelling van probleem- en voorbeeldgevalle,  word daar ook van tyd tot tyd nuwe woorde in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) opgeneem wat deur die breë taalgemeenskap geselekteer, aanvaar en op so ’n wyse gekultiveer is dat dit geredelik deur die gebruikers vir die hoër funksies van die taal gebruik kan en sal word.  Daarbenewens word verskillende kultuur- en godsdienstige groepe geraadpleeg. So is daar  byvoorbeeld in die jongste AWS ongeveer 80 nuwe Moesliem-woorde opgeneem wat  spellingleiding of erkenning vereis.

Daarna het die voorsitter van die ATR en senior lektor in die US se Departement Afrikaansonderwys, Michael le Cordeur, aan die beurt gekom en in sy lesing gewys op die opvoedkundige implikasies van die verskillende variëteite, soos Kaaps.

Michael le Cordeur

Le Cordeur lewer ’n passievolle pleidooi dat kinder s wat met Kaaps grootgeword het, toegang moet hê tot die gebruik van daardie woordeskat in die skool. Dit kan gedoen word deur die onderrig van verhale, dramas en romans wat in Kaaps geskryf is.

Le Cordeur gaan voort en wys daarop dat ’n kernaspek in die aflewering van ’n kurrikulum is hóé kennis ontvang, gekonstrueer en oorgedra word. Daar kan dus geargumenteer word dat die taal waarin die kurrikulum oorgedra word, sentraal staan in die kurrikulumproses. Dit, sê hy, is veral sigbaar in die hantering van Kaaps binne ’n veranderde Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. Dit is geen geheim dat Suid-Afrika se leerders van die swakste vaar ter wêreld en selfs in Afrika nie. Dit is veral die geval by swart studente onder andere op die Kaapse vlakte, waar die druipsyfer van leerders baie hoog is. Dit ten spyte van Suid-Afrika se taalbeleid in skole wat stipuleer dat taal nie in die pad moet staan van leerders se akademiese sukses nie. Le Cordeur het beklemtoon dat die bemeestering van die taal waarin die vak aangebied word, ’n voorvereiste is om die vak te bemeester.

Met dit in gedagte, is die tale van onderrig van ons onderwysstelsel problematies. Veral die gebruik van Europese tale is ’n hindernis in die akademiese sukses van die meeste swart leerders. Die leerders wat in Kaaps grootword, ervaar dieselfde probleem. Die miskenning van Kaaps, sê hy,  impakteer op toelating, akademiese sukses, en diversiteit in ons skole. Hy stel dan die vraag: Hoe verklank ons Kaaps in terme van die Suid-Afrikaanse Grondwet (1996) wat sê elke leerder het die reg op “onderrig in die taal van hulle keuse, waar dit redelik uitvoerbaar is”?

Volgens Le Cordeur was dit juis een van die redes waarom veral sprekers van Kaapse Afrikaans aan die einde van die tagtigerjare van die 20ste eeu hulle sterk uitgelaat het oor die verhouding tussen die soort Afrikaans wat hulle gepraat het en Standaardafrikaans. Van hul besware was dat voorgeskrewe werke ’n ander leefwêreld voorstel as dit waarmee kinders met ’n bepaalde variëteit van Afrikaans bekend was. Kinders wat met Kaapse Afrikaans grootgeword het, moes skielik al hul skoolwerk in ’n ander soort Afrikaans doen. Hy vind dit ironies dat die Suid-Afrikaanse regering nou leerders wat in Afrikaans wil skoolgaan, dwing om te verengels, maar dieselfde regte word nie vir die leerder wat Kaaps as huistaal het, gegun nie. Die debat herinner aan die huidige debat oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika, waar kinders ’n Afrikataal by die huis praat, en dan in die skool met Engels gekonfronteer word.

Le Cordeur kom tot die slotsom dat dit duidelik is dat verandering nodig is. Daardie transformasie moet in die skool begin. Terwyl dit verblydend is dat gedigte, prosawerke en dramas in Kaaps vir leerders voorgeskryf word (voorbeelde is die gedigte van Adam Small en Peter Snyders, die roman Diekie van die Bo-Kaap en die drama van Small, Krismis vir Map Jacobs), voel Le Cordeur meer is nodig om die kinders te laat welkom voel in hulle eie taal. Hy stel dan ten slotte voor dat Kaapse idiome en Kaapse woorde en uitdrukkings ook by die kurrikulum ingesluit word.

Anne-Marie Beukes

In die derde en laaste voordrag het Anne-Marie Beukes van die Departement Linguistiek van die UJ gepleit vir ’n nuwe taalbeskouing om gepaste en doeltreffende antwoorde te bied op die vraag hoe ons voorsiening kan maak vir al die dinamiese variëteite van Afrikaans sodat al haar sprekers ingesluit voel en met selfvertroue eienaarskap sal neem vir die welwees van Afrikaans. Sy het daarop gewys dat tradisionele taalbeskouings meestal nie kongruent is met die realiteit van spraakgemeenskappe se taalgebruik nie, omdat taal veelal beskou word as ’n streng afgebakende entiteit. Mense beskou ’n “taal” as iets wat bykans onveranderlik is en as sodanig aanvaar moet word. Dit is, na die mening van Beukes, gewoon strydig met die taalwerklikheid, waar taalgebruik vloeibaar is en aanpas by die behoeftes van die taal se sprekers.

Konkreet toegepas op die Afrikaanse taalgemeenskap: Beukes voer aan dat daar daadwerklik erkenning gegee moet word  aan álle Afrikaanssprekers se regte om alle Afrikaanse taalvariëteite te gebruik soos en wanneer nodig. Daar behoort aanvaar te word dat ’n taal en sy variëteite vloeibaar is. Beukes dring daarop aan dat die Afrikaanse spraakgemeenskap die algemene aanname dat sg niestandaardtaalvariëteite “afwykend” is, moet uitdaag. ’n Ieder en ’n elk in die Afrikaanse spraakgemeenskap moet volgens haar eerder daarop aandring dat hulle standaard- en/of niestandaardvaritëteite volledig waardig en geldig is. Die sosiolinguistiek propageer immers reeds dekades lank dat die erkenning van niestandaardtale saam met byvoorbeeld Standaardafrikaans nie ’n linguistiese probleem is nie, maar veel eerder ’n (taal)politieke probleem (dus ’n taalideologiese probleem). Teen daardie agtergrond pleit sy dat spraakgemeenskappe in eietydse Suid-Afrika stewige prestigebeplanning vir die Afrikaanse taal aanpa k en ten gunste daarvan moet mobiliseer.

Die lastigheid, volgens Beukes, is dat die Afrikaanse Taalraad, as die enigste rigtinggewende eietydse taalbeplanningsagent en boonop ’n nieregeringsliggaam, met uiters beperkte hulpmiddele sy taak aanpak. Natuurlik is die ATR vasberade om hierdie kwessies aan te pak. Die taak van nieregeringsliggame word tans ongelukkig nie ondersteun deur die staatsektor nie. Op die keper beskou word die meeste prestigebeplannings aksies eintlik gekniehalter  deurdat die staat se taa lliggame, soos PanSAT, wat Beukes as disfunksioneel afmaak, volledig mank gaan aan doeltreffende taalbestuur. En dít gebeur reeds etlike jare in die aangesig van ’n bemagtigende taalklousule in die Grondwet, en ’n rits taalbeleide wat gekenmerk word deur bitter min indien enige beduidende sprake van implementering.

’n Kopskuif by die Afrikaanse spraakgemeenskap is allernoodsaaklik, argumenteer Beukes. Die sprekers van Afrikaans, dus almal wat dit erns het om Afrikaans te gebruik as ’n instrument van uitdrukking en identiteit, moet saamgesnoer word om die boodskap uit te dra (en prominent uit te leef) dat die Afrikaanse taal aan ál haar sprekers behoort. Daarom moet almal gemobiliseer word om daarop aan te dring dat hulle deur medium van hulle taal hul regmatige kommunikasieruimte kan benut. Maar, voer Beukes aan, die werklike kopskuif moet kom van owerheidsweë, en beslis ook van ons landgenote wat sprekers van ander inheemse tale is. ’n Allerbelangrike vertrekpunt om ’n regmatige ruimte op te eis, is Afrikaanses se onomwonde posisionering as ’n spraakgemeenskap binne ’n meertalige samelewing.

Beukes het haar betoog afgesluit deur ’n beroep te doen op alle taalbestuursagente, soos byvoorbeeld (die huidige disfunksionele) PanSAT, die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en sy Taalkommissie, en die ”owerhede”, om, in samewerking met onder meer die media, taalliggame, onderwysvakbonde en akademici, goed beplande prestigetaalbeplanning aan te pak. Die boodskap moet dringend oorgedra en stewig gevestig word dat Afrikaans aan ál haar sprekers behoort, oor alle vermeende variëteite (of dialekte, registers en genres) heen. Die sprekers moet dit gewoon opeis, want iets soos byvoorbeeld Kaaps is “korrek” en “geldig”, soos ook Standaardafrikaans “korrek” en “geldig” is. Afrikaanses moet hulle se taal in al haar lieflike fasette inspan, altyd.

Michael le Cordeur is die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad en verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde se Departement Afrikaansonderwys; Frikkie Lombard is verbonde aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en ’n lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Onderwys en Wetenskap; en Anne- Marie Beukes is professor in linguistiek aan die Universiteit van Johannesburg, ’n lid van die direksie van die Afrikaanse Taalraad en voorsitter van die SA Vertalersvereniging.

Lees nog 'n bydrae oor die Jaloersbokkies en hul verbintenis met die ATR.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top