ATKV-Sterskool skitter met 100%-slaagsyfer

  • 0

Meneer Riyaad Najaar het sleg geslaap die nag van 5 Januarie, want op die nasionale nuus het minister Angie Motshekga aangekondig dat daar ’n daling in die nasionale slaafsyfer was en dat veral Wiskunde en Skeinat kwaai deurgeloop het.

Riyaad Najaar

Najaar is die hoof van Spine Road High in Mitchellsplain. Hierdie skool, in een van die arm dele van Kaapstad, het ’n baie trotse rekord van uitstaande akademiese prestasies. In 2013 was die slaagsyfer 95,5% en hierdie skoolhoof, wat pas sestig geword het, wil nie skielik agteruit boer nie. Wiskunde en Skeinat is boonop die skool se fokusvakke.

Só goed was sy skool se vorige resultate dat die ATKV dit in 2014 as ’n Sterskool aangewys het. Dit beteken die ATKV het aan die een kant erkenning gegee aan hulle prestasies, maar het ook op verskillende vlakke hulp aangebied om die skool te verbeter.

“Wat sou gebeur as Spine Road High se slaagsyfer ook sou daal?” het Najaar homself afgevra. Daar was 233 leerders wat die eksamen geskryf het – die meeste nog. Om sake nóg moeiliker te maak, was daar 15 leerders onder dié groep wat hy en sy personeel wou terughou in Graad 11, maar die onderwysdepartement het hom gedwing om almal van hulle ook na graad 12 te promoveer. Hoe sou hulle vaar?

Negeuur die oggend van 6 Januarie is die pakkies afgelewer en toe raak die glimlagte al groter.

Teen elfuur, op 6 Januarie 2015, kon Riyaand Najaar met ’n enorme glimlag op sy gesig aangekondig dat Spine Road High se klas van 2014 ’n 100%-slaagsyfer behaal het. Van die 233 leerders het 159 (68,2%) boonop matriekvrystelling gekry.

Die leerders wat die beste presteer het

Dié prestasie het gemaak dat Spine Road High die heel beste prestasie van alle skole in die Suidelike Distrikte van Kaapstad gelewer het. Dit wil gedoen wees, want die Suidelike distrikte sluit uitmuntende skole in waar die klasgelde meer as R30 000 per jaar beloop. Talle ouers in Mitchellsplain verdien nie eers soveel in ’n jaar nie.

“Dit wys jou net,” het meneer Najaar aan juigende ouers en leerders gesê, “jy hoef nie jou kind na ’n duur skool toe stuur om die beste vir hom af haar te kry nie.”

Onderhoud met Najaar

Die toppresteerder in Spine Road High was Anastasia de Jongh wat ses onderskeidings en ’n gemiddelde van 84% behaal het. Dié nederige meisie gaan hierdie jaar megatroniese ingenieurswese studeer aan Universiteit Stellenbosch.

Nog drie leerders, Zaahid Ismail (83%), Junaide Jaftha (81%) en Fahir Ajam (81%) het ook ’n gemiddel van meer as tagtig persent gehandhaaf.

vlnr: Zaahid Ismail, Junaide Jaftha, Anastasia de Jongh en Fahir Ajam

’n Onderhoud met Anastasia de Jongh

’n Onderhoud met Zaahid Ismail

’n Onderhoud met Junaide Jaftha

’n Onderhoud met Junaide se ma

’n Onderhoud met Fahir Ajam

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top