Goeie nuus oor die onderwys is omtrent so skaars soos blonde skooldogters in Khayelitsha. Só verkondig Kaapse koerante op 19 Februarie 2014 dat slegs 14,3% van alle graad 9-leerders in die Wes-Kaap die jaarlikse wiskunde-assessering van die onderwysdepartement deurgekom het. Dit is nie veel hoër as die nasionale gemiddeld van 14% nie. G’n wonder nie dat die Wêreldekonomieforum se informasietegnologieverslag van 2013 Suid-Afrika tweede laaste geplaas het in die lande wat hulle ondersoek het vir leerders se kennis van wiskunde en die wetenskappe. Slegs Jemen het swakker gevaar as Suid-Afrika.
Tog is daar, nou en dan, hoop.
Op Vrydag 21 Februarie, twee dae ná die Kaapse koerante op hol gegaan met die graad 9-uitslae, sak ’n groot aantal mediamense toe op die Soyisile Primary School diep in die hartjie van Khayelitsha.
Draai regs by die toilette, het die aanwysings in die perspakkie gelees.
Nogeens was wiskunde die hooffokus, maar hierdie keer was dit nie slegte nuus nie. Inteendeel. Japie Gouws, die besturende direkteur van die ATKV-groep, het tydens die verrigtinge opgemerk dat dit soms moeilik was om nie trane in die oë te kry nie.
Tydens dié besonderse geleentheid is die wenners van die 2013 ATKV-Handevatprojek aan die media bekendgestel: Soyisile, waar die verrigtinge plaasgevind het, en die Laerskool Jan van Riebeeck is as die wenvennootskap aangekondig in dié landswye kompetisie. Dié twee skole het saamgewerk om die leerders van Soyisile se wiskundige vaardighede te verbeter.
Meisie Mafu (links) is die hoof van Soyisile Primary School en Wayne Smit is die adjunkhoof van Laerskool Jan van Riebeeck, asook die leier van hierdie projek.
Onderwysers, leerders én ouers het gereeld die N2 vanaf Kaapstad se middestad aangepak, verby die lughawe gery, afgedraai en dan die kronkelpaadjies tussen die plakkerhuisies deur aangedurf. Gedurende 2013 is talle sulke kontaksessies gehou – almal buite die formele skooltye. Hierdie sessies was pret, maar elkeen het duidelike wiskundige uitkomste gehad wat bereik moes word. Vir beide skole was dit belangrik dat leerders uit albei gemeenskappe moes voordeel trek uit hierdie ontmoetings en dat onderwysers van albei skole die sessies moes aanbied.
’n Graad 6-leerder in Soyisile, wat haarself as Anelisa bekendgestel het, sê: “The thing I did not know was that mathematics is magic ...”
Die resultate was só duidelik dat die onderwysers van Soyisile toe gereeld addisionele sessies begin aanbied op dié Saterdae waarop daar nie kontaksessies was nie.
Wayne Smit, die projekleier by Laerskool Jan van Riebeeck, sê dat die doelwitte van die projek wyer gestrek het as wiskunde: “Die Jan van Riebeeck/Soyisile-vennootskap gaan vir ons oor veel meer as klaskamers oprig, die biblioteek aan die gang hou, boeke aanskaf en somme doen. Dit gaan hoofsaaklik daaroor om kinders bymekaar te bring wat gesamentlik aan die toekoms bou.”
Laerskool Jan van Riebeeck se graad 7-leerders is ook betrek. Hulle het die syfers 1 tot 100 in helder kleure op die speelterrein van Soyisile geverf. Daarop kan nou gespeel word. Nou kan die leerders hulle hele liggaam gebruik om die maaltafels prakties te spring. Hulle vóél hoe dit is om twee af te trek of drie by te tel. Wiskunde word pret, dit word lekker en skielik maak abstrakte goed sin.
Een van die graad 7-leerders, Nina Ferreira, vertel: “Meneer Smit en juffrou Brink sê altyd jy kán ’n verskil maak. Op Saterdag 11 Mei het ek besef dat ek waarlik kan.”
Wayne Smit het statistiek getoon wat bewys het dat Soyisile se wiskundepunte besig is om bó die Wes-Kaap se gemiddeld uit te styg in die jaarlikse assesserings.
Die ATKV het opgelet dat die wiskundeprojek waarvoor die twee skole ingeskryf het, uiters suksesvol was, maar dat samewerking nie hier geëindig het nie. Verskeie ouers het oor ’n aantal jare al korporatiewe borgskappe van instansies soos Old Mutual en Media 24 gekry. Só is ’n funksionerende biblioteek en ’n rekenaarlokaal ook tot stand gebring. Bome is op die skoolterrein geplant en ’n penvriendprojek is aangemoedig, sodat leerders mekaar oor taal- en kultuurgrense heen kan leer ken én hulle taalvaardighede kan opskerp.
Hier is (voor, sittende) Gert Rautenbach van Old Mutual, Meisie Mafu, Heather Allen (Old Mutual) en Wayne Smit. Agter is Japie Gouws en Johan Oosthuizen.
David Fourie, die beskermheer van ATKV-Handevat, sê: “Hierdie projek is vir my die essensie van Ubuntu en ’n inisiatief wat ons oorlede Madiba breed sou laat glimlag het.”
Tydens ’n seremonie wat deur koorsang en danse opgevrolik is, het Japie Gouws sertifikate en die wentjek aan die wenners oorhandig.
Soyisile is R15 000 ryker en Jan van Riebeeck het ’n tjek van R35 000 van die ATKV ontvang.
Johan Oosthuizen, die skoolhoof van Laerskool Jan van Riebeeck, en Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV.
Sertifikate is ook oorhandig aan die instansies wat tweede en derde plekke behaal het.
Die naaswenners is die National Institute for Higher Education in Kimberley in samewerking met die Tshiamo Primary School in Galeshewe. Die instituut se vierdejaar-BEd-studente het die skool se graad R-klas meer kindervriendelik gemaak en hulle onderwyser in vroeë kinderontwikkeling opgelei.
Die derde plek is verower deur die Hoërskool Piet Potgieter, wat met die Zamokhuhle Centre for the Disabled ’n vennootskap begin het. Die skool se leerders en ouers het verskeie borge betrek om grootskaalse verbeteringe aan die sentrum aan te bring en ’n komitee is gestig om na Zamokuhle se sake om te sien.
Al die wenners: Heel links is die hoof van Laerskool Jan van Riebeeck en die hoof van Soyisile Primary School in Khayelitsha – hulle is die wenners; dan Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV.
Voor hom in die rolstoel is die verteenwoordiger van Zamokuhle Centre for the Disabled en agter haar die verteenwoordiger van die Hoërskool Piet Potgieter wat saam met die derde prys weggestap het. En dan, heel regs, is die verteenwoordiger van die National Institute for Higher Education in Kimberley, wat saam met Tshiamo Primary School in Galeshewe die tweede plek behaal het.
Die leerders van Soyisile het tydens hierdie geleentheid gesing.
Wat is die ATKV se Handevatprojek?
Mense wat Japie Gouws ken, sal weet dat hy gedurig vertel daar is 24 000 skole en Suid-Afrika, waarvan net 3 000 regtig goed bestuur word. “Raak betrokke,” vertel hy dan aan die ATKV-lede wat hy ontmoet; “gaan maak ’n verskil aan één skool.”
Die ATKV-Handevatprojek het uit hierdie visie ontstaan. ’n Skool uit ’n meer bevoorregte gemeenskap moet ’n opbouende projek aanpak saam met ’n skool in ’n minder bevoorregte gemeenskap.
Daar is ’n aantal reëls verbonde indien skole sou wou deelneem:
a. Albei skole moet verantwoordelik wees, help met die beplanning en dan ook met die uitvoer daarvan.
b. Die projek moet in die minder bevoorregte gemeenskap uitgevoer word.
c. Die projek moet die minder bevoorregte gemeenskap in die algemeen ter wille wees, nie bloot ’n baie gefokusde groepie nie.
d. Dit moet ’n volhoubare projek wees.
Wanneer ’n projek goedgekeur word, skenk die ATKV R5 000 se aanvangskapitaal aan die deelnemers.
Vorige wenners was:
- Laerskool David Brink en die Môrester Kinderhuis (2009)
- Doxa Deo Skool Xanadu en Ennis Thabong Intermediate School (2010)
- Hoërskool Jan van Riebeeck en Weber Gedenk Primêre Skool (2011)
- Hoërskool Stellenberg en die Paarl Vaardigheidskool (2012).
Wie kan deelneem?
Enige bevoorregte skool kan saam met ’n minder bevoorregte skool aan die ATKV se Handevatprojek deelneem.
Die ATKV moedig egter ook ouers aan om by hulle eie skole betrokke te raak. Die ATKV doen baie moeite om ouers en beheerliggame van skole te bemagtig.
Hier is ’n aantal van die mense wat hande gevat het om Soyisile te help. Van links na regs is: Heather Allen (Old Mutual), Meisie Mafu (Soyisile Primary School), Johan Oosthuizen (Laerskool Jan van Riebeeck), Wayne Smit (Laerskool Jan van Riebeeck), Audrey Stoffels (Old Mutual), Gert Rautenbach (Old Mutual) en Yvonne de Lange (Laerskool Jan van Riebeeck).
Cosmas Mabeya van The Bookery was betrokke by die oprig van die Soyisile se biblioteek.
Ek het al vir Japie Gouws gevra hoe hy dink ék mý kind kan help – of hoe enige ander ouer dit kan doen. Sy antwoord was prakties: Neem die kind na ’n biblioteek, maak die kabouter lief vir lees en raak betrokke by huiswerk en skooltake.