Onderhoude | Interviews

 
Armblankes: "Nie wat mense dink dit is nie ..."

"Wat mense dink hierdie boek is en wat dit eintlik is, is verskillend ..."

Die jong joernalis Edward-John Bottomley neem ’n sluk koffie waar ons sit in die klein restaurant by die ingang na die Media24-gebou – die gebou waarna werknemers graag as die "moederskip", of die "ivoortoring" verwys. Sy eerste boek, Armblankes, het pas verskyn.

Ver weg van hierdie hoë geboue wat ’n katspoeg weg van die V&A Waterfront staan, het Bottomley tussen die gehuggies van Ruyterwacht navorsing met sy voete en ore gedoen. Voor dit, en selfs nog verder terug, het hy sy meestersgraad in geografie - "die geografie van ménse," beklemtoon hy - in Engeland voltooi. Sy tesis, wat toe die grondslag vir die boek sou word, het ook gehandel oor armblankes in Suid-Afrika, en spesifiek in en om Johannesburg: die geskiedenis van die verskynsel, die politieke implikasies oor die (meer as 100) jare heen, en ook die problematiek daaraan verbonde om een bevolkingsgroep as't ware uit te sonder in die wydverspreide armoede wat Suid-Afrika so kenmerk en kniehalter ... dit slegs in ’n bitter klein neutedop.

Sy werk as sakejoernalis het hy destyds verlaat om sy studies verder te voer. Nadat hy teruggekeer het van Engeland, was hy kortstondig werkloos voor Sake24 hom sonder skroom teruggenooi het.

"Dit was ’n skrikwekkende paar maande!" sê hy. Hy kyk om hom rond, na die werknemers wat in en uit die restaurant beweeg. Sommige is al járe hier, ander verdwyn en verskyn onafwendbaar weer. "Dis amper soos die Hotel California," sê hy. "'You can check out any time you like, But you can never leave ...'"

Die fokus keer terug na die boek. "All I'm trying to demonstrate ... is die belang van Afrikaner-armoede in die geskiedenis van Suid-Afrika." ’n Kampvegter vir die huidige pogings tot opheffing van Afrikaners wat in armoede leef, is hy nié - dit is waar die misverstande inkom oor wat die boek behels. "Daar is regse Afrikaanse blaaie op Facebook wat die boek adverteer ... Ek dink as hulle dit lees, sal hulle dit nie geniet nie! Dit is moreel verkeerd om "armblankes" uit te sonder, soos wat Solidariteit doen. Jy kan nie net op hulle fokus nie, en ook nie net op ander groepe nie ... Armoede moet soos armoede hanteer word; niemand moet spesiaal hanteer word nie."

Die "armblanke"-kwessie het hy nooit aan sy basvelle gevoel nie, maar van kindsbeen af is hy in ’n mate omring deur die kwessie. Sy pa was ’n professor in geskiedenis wat altyd ’n akademiese belangstelling in die "armblanke"-kwessie gehad het.

"Die Carnegie-kommissie se verslag was in ons huis, op ons boekrak. My ma het ook geswot oor armblankes. Dit was in my hele familie! Ek het grootgeword op Mafikeng en skoolgegaan in Lichtenburg, waar daar ’n groot armblanke-gemeenskap was. My ma het altyd onder die tafel geld aan die maatskaplike werkers gegee.

"Ek wou nie dieselfde akademiese rigting as hulle volg nie, daarom het ek geografie gaan doen – ek wou leer oor vulkane en goed," lag hy.

Hy het egter ’n "full circle"-belewenis gehad in die jare wat sou volg. Nadat hy teruggekeer het van Engeland, het die gedagte onafwendbaar opgeduik : "Let me try a book ..."

"Daar is baie noise daaroor nou, met Solidariteit ensovoorts wat baie kommentaar lewer. Mense dink die boek het iets met Solidariteit te doen - nee! Ek het hulle eintlik soos die pes vermy.

"Jy kan on-'pc' wees as jy skryf oor armblankes, maar daar is bitter min navorsing gedoen daaroor. Daar is nie baie Suid-Afrikaners wat daarna kyk nie."

Aangesien sy tesis die basis van die boek is, is die aanslag wel akademies, maar hy het sy joernalistieke instink ook laat leef en sy navorsing uitgebrei deur gebiede soos Ruyterwacht te besoek. Uittreksels van die gedeeltes wat oor dié besoeke handel, is al in Rapport en By gepubliseer. Hier het hy ook weer besef hoe vloeibaar die konsep van ras is, en in hoe ’n groot mate dit bloot ’n sosiale konstruk is. Barack Obama van Amerika word as voorbeeld uitgelig. "Daar word hy as swart gesien, hier sou hy ’n 'kleurling' wees. In Ruyterwacht kan jy nie noodwendig weet watter ras iemand is nie, maar die sosiale konstruk bly daar."

Hierdie sosiale konstruk was nog altyd in Suid-Afrika teenwoordig, veral in die tydperk van kolonialisering, "waar die minderheid die meerderheid domineer. Van daar is die konsep van wit prestige wat volgehou moes word vir white survival. Hulle was terrified, absoluut terrified vir bloedvermenging ... in die koloniale set-up was die ‘weakest links’ die armes.

"Een van die groot vrese in ’n stadium was oor Afrikaanse meisies wat by Chinese laundries gewerk  het. Hulle sal huis toe kom met half-Chinese babas, oh my god!" spot hy.

Bottomley se "storie" oor Afrikaner-armoede begin al by 1885, met die stigting van Johannesburg. Die fokus spring egter na tydperke waar die armoede gedy het, soos ná die Anglo-Boereoorlog en die ekonomiese-depressie-tydperke.

"In die 1930's het 30-50 persent van Afrikaners in armoede geleef. Afrikaners was plaasmense wat na die stad gekom en in plakkerskampe gebly het." Nog ’n sluk koffie - Bottomley praat vinnig, baie vinnig. Die kombinasie van kafeïne in die are en ’n bykans borrelende opgewondenheid oor sy onderwerp laat die woorde en argumente naelloop, bypassende handgebare en al.

Hy lag. "Ek's jammer, ek probeer nou die hele boek opsom."

’n Oomblik huiwer hy, kry sy gedagtes bymekaar. "Dit gaan in ’n groot mate ook oor die ontstaan van die 'volk'. Hoe ek en jy vandag oor die Afrikanervolk dink, het nie 100 jaar terug bestaan nie."

Oor hoe die boek ontvang sal word, is hy nie seker nie. "Dis ’n dun boek, maar met digte argumente."

Op ’n televisieskerm teen die muur agter hom word ’n sportadvertensie uitgesaai. In die beelde word die gebruiklike reënbooggees gevier en die vlag van die nuwe Suid-Afrika wapper argeloos in stadige aksie.

Hy lag. "Ek het eintlik gehoop ek sou teen hierdie tyd die mees gehate Afrikaner wees ..."


Bottomley gesels met inwoners van Ruyterwacht.

Foto's: Nielen Bottomley

Klik hier om Armblankes te koop by Kalahari.com.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address