Antoinette Louw praat met Naomi Meyer oor Nag, Ma by die Woordfees

  • 2

 Antoinette, dankie vir die geleentheid tot gesprek. Gee asseblief vir ons ‘n bietjie agtergrond van die stuk Nag, Ma, waarin jy tydens die Woordfees teenoor Sandra Prinsloo speel. Ek sien jy het die oorspronklike 1983-drama, ‘Night, Mother, in Afrikaans vertaal. Hoe het jy hierdie stuk teëgekom? Wat het jou geïnspireer om dit te vertaal en op die planke te bring?

Ek's 'n groot “fan” van LitNet. So ek sê vir jou dankie, Naomi! My inspirasie? Ek gaan haal die bobbejaan nou agter die berg, maar kom ek begin by die begin: in my ervaring, wanneer akteurs gevra word of daar werk is, is baie se antwoord “Nee” en bekla hulle hulle lot en wens die streeksrade kom terug. My antwoord is: "Ja, daar is werk - maar dit hang van my, die individu, af, om dit self te skep." Want hoe anders gaan ek leer? Hoe anders gaan ek groei? En ja, ek stem saam dis moeilik sonder die ondersteuning (veral finansiële ondersteuning) van streeksrade, maar vir my dwing dit kunstenaars om entrepreneurs te wees. Dis vernuwend vir ons land. Ons het dit nodig. Wat wel tragies is van die afstelling van streeksrade, is die ervaring wat dit (veral jong) akteurs bied. Om 20 produksies 'n jaar te kan doen. Om die ouer akteurs dop te hou. Om mentors te hê om jou met die spreekwoordelike hand groot te maak. En so het Sandra op my pad gekom ... Ek sou my in die voet skiet om nie van die geleentheid gebruik te maak nie. Om by van die beste te leer. Die stuk is dus uitgesoek spesifiek met my en Sandra in gedagte. 'n Kwaliteit-toneelstuk wat beide my en Sandra sou uitdaag as akteurs. En itv kwaliteit-toneelstukke kan mens nie sommer verkeerd gaan met 'n Pulitzerprys-wenner nie (’Night, Mother het die Pulitzerprys vir drama in 1983 ontvang). Verder hou ek ook van helende teater. Teater wat 'n verskil maak en 'n platform skep waar 'n individu emosies kan ervaar wat hy/sy nie gewoonlik toegelaat word om te ervaar nie. Teater wat individue help om bietjie meer te verstaan, om minder te oordeel en sodoende meer empatie vir die wêreld om hulle te skep.

Nag, Ma is nie die eerste stuk wat jy vertaal het nie. Die Vagina Monoloeë is ook ‘n vertaling uit jou pen. En ‘n stuk waarin jy speel. As jy werke vertaal, probeer jy jou getrou hou aan die teks van die oorspronklike werk, of pas jy dit aan vir Suid-Afrikaanse gehore? Indien jy dit aanpas, hoekom, en indien nie, hoekom nie?

Ek pas dit altyd aan. Om die basiese rede dat die gehoor meer met plaaslike verwysings identifiseer. 'n Afrikaanse gehoor sal byvoorbeeld dadelik 'n emosionele verbintenis hê en aanklank vind met “Bloemfontein”, “Jellie Tots” en “Gé Korsten” as met “New Orleans”, “Mars Bar” en “Dean Martin”. Dit plaas die gehoor as't ware saam met die akteurs “in die oomblik”.

Lewende teater – is dit vir jou lekker, of verkies jy die televisie? Dalk is dit nie ‘n appels-en-appels-vergelyking nie. Vertel eerder vir ons lesers wat is die lekkerte en die uitdagings van die verskille tussen die verskillende plekke om toneel te speel.

Teater. Omdat dit so organies is. “Lewend,” soos jy sê. En daarby is dit 'n oeroue kunsvorm. Wonderlik (en gerusstellend) om te dink dat daar duisende akteurs voor my ook senuweeagtig was, ook nie geweet het of die gehoor van die stuk sal hou nie ... Wanneer ek op die verhoog is, voel ek die energie van die gehoor aan. En hulle voel (hopelik) myne. Dis 'n baie spesiale, “magical” verhouding. En elke gehoor is anders en het 'n ander persoonlikheid. Maar ek moet byvoeg, ek's mal oor die intimiteit wat op stel kan plaasvind. En op die ou einde, of dit nou goed gegaan het met 'n toneel op die verhoog of in 'n film - die gevoel is dieselfde.

Wat het jy geleer deur teenoor Sandra Prinsloo te speel?

Alle akteurs is kwesbaar en wonder of hulle die regte ding doen - maak nie saak wie hulle is of wat hulle al bereik het nie. Ek noem hierdie punt spesifiek, omdat ek baie hard op myself is en kasty myself as ek nie iets dadelik 100 persent regkry nie (I'm my own worst enemy, soos die Engelse sê). Ek oordeel myself en dis nie nodig nie. Dis vir my 'n belangrike lewensles.

Nag, Ma het al op so baie plekke in die land gespeel. Wat sal dit nou juis anders maak om by die Woordfees op te tree as elders? Hoe ervaar jy die Stellenbosch-gehoor (as daar so iets bestaan) tradisioneel?

Ek sien baie uit na Woordfees, omdat ons in 'n klein intieme teater speel (Klein Libertas) - perfek vir hierdie produksie. Ek het agtergekom die toneelstuk word 'n onreg aangedoen deur in 'n groot venue te speel. Ons het by Grahamstad (waar ons geopen het) met 'n klein gehoor begin, en dit het wonderlik gewerk. Vir my het bietjie van die magic verlore gegaan om in 'n skoolsaal by 'n fees te speel. So ons eindig waar ons begin het en altyd wou wees - met 'n klein, intieme gehoor. Die Woordfees-gehoor ondervind ek as baie waarderend - die lekkerste gehoor om voor te speel. Ek voel veilig.

Na watter items by die Woordfees sien jy persoonlik uit?

Ek dink ek is die enigste een wat nog nie My naam is Ellen Pakkies gesien het nie, so ek sien uit om dit te sien (dis vir my 'n voorbeeld van “helende teater”). Ek sien ook daarna uit om Mooi Maria te gaan kyk - dis een van my gunsteling ou Afrikaanse teaterstukke.

  • 2

Kommentaar

  • ... en nadat ek hierdie stuk vanmiddag gesien het, wil ek dit aanbeveel. Ek het gehou daarvan dat die teks aangepas is vir Suid-Afrikaanse gehore en vir my het dit gelyk of Antoinette Louw en Sandra Prinsloo mekaar goed in elk se rol verstaan. Ek het geweet wat teen die einde gebeur, maar dit het my nog steeds geraak. 'n Werk wat mens insleep. As jy in die omgewing van Stellenbosch is, gaan kyk "Nag, Ma" by die Woordfees.

  • 'n Toevoeging tot bogenoemde, helaas: die sosiale media lig my in dat "Nag, Ma" se kaartjies by die Woordfees als uitverkoop is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top