Amptelike redes vir eredoktorsgraadtoekenning aan André Brink

  • 0
Hier is die Katolieke Universiteit Leuven | UCL se redes waarom 'n eredoktorsgraad aan hom toegeken is (erkenning: Isabelle Decoster; vertaling: Naòmi Morgan).

Heil die hoorder: André Philippus Brink

Vincent Blondel, rektor van die Katolieke Universiteit Leuven,
alle teenwoordige en toekomstige hoorders, gegroet.

Aangesien die heer André Philippus Brink, gebore op 29 Mei 1935 te Vrede, Suid-Afrika, ’n graad in Engels en Afrikaans aan die Universiteit van Potchefstroom verwerf het en ’n doktorsgraad deur die Rhodes Universiteit in Grahamstad en ’n doktorsgraad honoris causa ès lettres deur die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg aan hom toegeken is;

Aangesien hy benoem is as professor in Afrikaanse, Nederlandse en Engelse literatuur aan die Rhodes Universiteit, en daarna as professor in Engelse literatuur aan die Universiteit van Kaapstad;

Aangesien hy die skrywer is van talle essays, dramas en romans, waaronder Kennis van die Aand, ’n Oomblik in die wind, Gerugte van reën, ’n Droë wit seisoen, Die kreef raak gewoond daaraan, Sandkastele, Donkermaan, Anderkant die stilte en meer onlangs, Philida;

Aangesien hy gebreek het met die puriteinse Afrikanertradisie en deur middel van sy tekste ’n liberale houding ingeneem het waardeur rigiede morele standaarde, die posisie van vroue in die samelewing en rasseskeiding in Suid-Afrika veroordeel is;

Aangesien hy in die naam van die vryheidstema wat deur sy hele oeuvre vloei nooit die stryd laat vaar het teen die apartheidsbeleid wat deur sy landgenote opgestel en verdedig is nie;

Aangesien hy, as gevolg van die opspraak wat sy tekste met publikasie ontketen het; die kwetsing van die verloënings, die druk en die verbod op sy werk, die moeilike posisie waarin die dreigemente, intimidasie en inbreuk op sy privaat lewe hom geplaas het, genoop was om al sy tekste in Afrikaans en Engels te skryf in ’n poging om sensuur vry te spring en sodoende die wêreldwye verspreiding van sy werk te verseker;

Aangesien sy werk in ses-en-dertig tale vertaal is, hyself die outeur van meer as sewentig literêre vertalings uit Frans, Duits, Spaans en Engels na Afrikaans is, asook van Afrikaans na Engels;

Aangesien hy driemaal met die Central News Agency Literary Award bekroon is, tweemaal die Hertzogprys ontvang het en tweemaal genomineer is vir die Booker-prys; dat hy daarbenewens verskeie ander pryse en onderskeidings ontvang het, waaronder die Médicis Étranger-prys in Frankryk, die Premio Mondello-prys in Italië, die Monismanien Menseregteprys in Swede, die Martin Luther King-prys in Groot-Brittanje; dat hy Kommandeur van die Orde van Kuns en Lettere en Offisier van die Legioen van Eer in Frankryk is;

Benoem en proklameer ons kragtens die magte wat aan ons toegeken is die heer André Philippus Brink Doktor Honoris Causa van die Katolieke Universiteit van Leuven.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top