Allerheiligeaand

  • 0

Allerheiligeaand

Die sleepgeluid is nog ver, maar die sinkdak laat dit by hom klink. Dis metaal op metaal en Roelf reageer sonder om te dink. Kry die kluissleutel, sluit oop, gryp die haelgeweer. Vier patrone, pompaksie, veiligheidsknip af, vinger op die sneller. Die geluid stop en vir die eerste keer bedink hy sy aksies; oorreageer hy nie dalk net weer nie?

Dan hervat die geluid, die slag nader en stadig besig om in sy rigting te beweeg. Kettings? Roelf lek sy lippe af, dis souterig. Hy het gehoop dat hy teen hierdie tyd gewoond sal wees aan die humiditeit. Daar stop dit weer; dan ’n vinnige sleep en dowwe slag op die beton in die binneplein. Met vier treë is hy in die badkamer in en loer by die oop venster uit. Dis amper donker, maar hy sien genoeg.

Aan die buitelyn skat hy sewe voet; maar die ding loop gebukkend, kan dalk agt wees. In elke hand is ’n paar swaar swart kettings van soortgelyke lengte wat agterna sleep soos slange. Die loopaksie is traag en die ding is harerig en in die lug hang ’n oorweldigende stank van swawel, grond en onheil. Dit stop en kyk om. Die gesig lyk na ’n bobbejaanmannetjie, maar sy ore is groot en gepunt, soos die van ‘n wolf. Vier boonste slagtande krul oor dik lippe. Sy oë is bloedbelope en vol strydlus, in die skadu van swaar oogbanke. Om sy nek is ’n swaar koperketting met twee kleinerige skedels deurgeryg. Die diep klank is waarskuwend. Dan draai hy terug, en verdwyn om die draai. Roelf besef dat die voordeur nog nie gesluit is nie.

Hy ruk om en hardloop na die slaapkamerdeur. In die gang kan hy reeds geluide hoor. Hy draai die handvatsel en stoot; terwyl die deur oopswaai is albei hande op die haelgeweer en hy bring die kolf en skouer bymekaar. Hy ruk van vrees – die mannetjie loop weg van hom af en is reeds by die kinders se kamer. Alles aan Roelf is lam; hy kan net toekyk hoe dit snuif in die lug en by die kinders se kamer indraai. Dit neem alles vir Roelf om aan die beweeg te kom. Hy skeur die lamheid uit sy spiere en begin hardloop. Vinniger en nader, dan stadiger sodat hy betyds kan stop.

Die kinders lê nog net soos ’n halfuur gelede toe hy hulle in die bed gesit het. Die dowwe gloed van Erika se naglampie maak genoeg lig om hom te laat besef dat hulle van niks bewus is nie. Verward deursoek hy die kamer, maar kry niks, ten spyte van die reuk wat nou onmiskenbaar is.

Stadig begin onsekerheid oor hom spoel; was dit dalk sy verbeelding? Kan dit ’n hallusinasie wees? Met elke sekonde voel hy minder seker oor wat hy gesien het. Maar dan, net so skielik soos wat dit verdwyn het, hoor hy die geluid van voetstappe en kettings wat sleep oor die dak.

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

Lees die ander inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top