Allan Boesak (1945–)

  • 0

Gebore en getoë

Allan Aubrey Boesak is op 23 Februarie 1945 op Kakamas in die Noord-Kaap gebore as een van agt kinders. Sy pa, Willem, was ’n onderwyser en is in 1953 oorlede toe Boesak ses jaar oud was. Sy ma is in Januarie 2004 in die ouderdom van 90 jaar oorlede. Sy was ’n nooi Mannel van die sendingstasie Ebenhauser naby Lutzville, waar sy ook haar man ontmoet het. Die egpaar het baie rondgereis nadat hulle getroud is en het hulle uiteindelik op Kakamas gevestig.

In Beeld van 6 April 2002 vertel Allan Boesak aan Johan van Zyl van ’n voorval in Kakamas ’n rukkie voor sy pa se dood: "Daar in Kakamas word dit sommer 40° in die skaduwee. Ek en my pa stap na die aparte deur vir ons by die koöperasiewinkel. Daai tyd was die koeldrank nog in sifdraadkoelkaste met ’n stuk lap aan die agterkant wat jy natgooi om die goed koel te hou.

"My pa was ’n gerespekteerde man in die gemeenskap, die prinsipaal van die sendingskool. En hy vra: '’n Koeldrank, asseblief.' Toe gaan haal die vrou ’n warm ene van die rak af. Die koue koeldrank, het sy gesê, is net vir wit mense. My pa het gesê nee, dankie. Nie te lank daarna nie is hy dood. Nou ja.”

Allan het in Somerset-Wes in die Wes-Kaap grootgeword en as kind het hy as ’n arbeider gewerk om die familie geldelik te help. Sy ma moes alleen die pot aan die kook hou om vir al die kinders ’n geleerdheid te gee. Toe sy pa oorlede is, het die oudste kind van die familie reeds studeer, terwyl die ander nog almal op skool was. Sy ma het baie lank klere verstel, en vyf van die kinders het onderwysers geword. Allan en twee ander het vir predikant gaan studeer.      

Toe Allan 14 jaar oud was, het hy koster van die plaaslike Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk geword. Hy het hom reeds in sy tienerjare sterk uitgespreek teen die apartheidsbeleid in Suid-Afrika, veral nadat sy familie gedwing was om hervestig te word. Weens die Groepsgebiedewet was die gesin verplig om uit Somerset-Wes weg te trek en hulle in Eersterivier te gaan vestig. En hy het homself belowe: "Eendag sal ek terugkom. Ons het in Victoriastraat gewoon, daar waar daai Telkomgebou nou staan. Daar is ons toe uitgesit en my ma is Eersterivier toe." (Aan Valda Jansen in Insig, Desember 2001)

Die jong Allan was van vroeg af al geïnteresseerd in die godsdiens. Hy was tien jaar oud toe hy lid geword het van die Vereniging van Christen-Studente. Hy was later nasionale president van die vereniging. Daar is gereeld kampe in Harmony Park in die Strand gehou en hy onthou dit baie goed. "Mense het van oral gekom: uit die Karoo, die Noord-Kaap, selfs Namibië. Ek was so hartseer as dit verby was. Ek was altyd die laaste een wat daar weggaan. Op die allerlaaste dag, dan stap ek daar rond tussen die kolle waar die tente gestaan het. Dan het ek gedink aan die liedere wat saans om die kampvuur gesing is en die getuienisse en die Bybelstudie." (Aan Valda Jansen)

Verdere studie en werk

Ná skool het Allan Boesak sy teologiese studie in 1967 op Wellington voltooi en is hy as predikant in die NG Sendingkerk georden. Hy was 21 toe hy klaar studeer het en was te jonk vir die bediening. Hy moes toe wag, maar nadat hy op ’n Vrydag in 1968 22 geword het, is hy die Saterdag in die Paarl bevestig.

Reeds tydens sy eerste huisbesoeke het hy al in aanraking gekom met die politieke werklikhede waarmee sy mense daagliks mee te doen gehad het. In die 1960's het die Groepsgebiedewet mense van hulle eiendom ontneem en families uitmekaar geskeur en Allan Boesak het sy lidmate gaan ontmoet. "Noorder-Paarl moes 'skoongemaak' word. Toe kom ek by Ant Meraai Arendse. Sy was ’n baie plattelandse vrou. ’n Reguit antie, groot en sterk. Sy sê vir my: 'Kyk hierso Dominee, ek wil sommer nou by jou weet: Waaroor gaan jy Sondag preek? Want ek wil hê jy moet preek oor hierdie diefstal. Oor hierdie besigheid dat hulle my huis afvat.'

"En ek sê ons kan daaroor praat. Sy sê: 'Nee, jy moenie daaroor praat nie, jy moet daaroor preek, want ek wil Sondag hoor van die Here af wat dink Hy van dié besigheid.'" (Aan Valda Jansen)

Dit was dan ook die oomblik waarop hy besef het dat hy die politiek en dit wat sy mense se lewens raak, nie kan skei van dit wat hy preek nie. "Dit was net nooit weer moontlik nie." En hy het toe begin om te help om die kerk onder die indruk te bring van sy verantwoordelikheid teenoor die politiek.

"Jy moes ’n manier vind waarop jy die wit kerk (die NG Kerk) kon bly konfronteer en tog nie so dat jy net veroordeel en wegstoot nie, maar ruimte laat vir verskillende menings en ook vrese. Die groot ding was dus om die Sendingkerk in 1978 so ver te kry om te sê apartheid is verkeerd, dis ’n sonde. En om die kerk in 1982 so ver te kry om te sê dis nie net sonde nie, dis kettery. Dit was, vir daardie tyd, ontsettende sterk taal."

In 1969 is Allan met sy eerste vrou, Dorothy Rose Martin, getroud, en vier kinders is uit die huwelik gebore.

Allan kon, as gevolg van die feit dat hy bruin was, nie teologie aan die kweekskool op Stellenbosch studeer nie. Hy is gevolglik in 1970 Nederland toe. Hy vertel aan Hanlie Retief in Rapport van 31 Maart 2002: "Toe ek prof Johan Heyns destyds gaan groet het op pad Holland toe, het hy vir my swaer gesê: 'Kyk mooi na hierdie jong man vandag, want so sal jy hom nooit weer sien nie. Hy sal verander.' Dis waar."

Hy het in Nederland aan die Teologiese Skool in Kampen aangemeld vir sy doktorale studie. Hy het ses jaar in Nederland studeer en toe hy in 1976 klaar was met sy proefskrif, was hy reeds ’n baie gewilde spreker, nie net in Nederland nie, maar ook in talle ander lande. Sy proefskrif, wat ook later in boekvorm uitgegee is, was getiteld “Farewell to innocence: a theological-ethical study of black theology and black power”. Dit word tot vandag toe beskou as een van die bakens in die ontwikkeling van swart teologie in Suid-Afrika (Die Kerkbode, 5 April 2002). Tydens sy studiejare is hy op ’n studiereis na Amerika, waar hy met die militante swart politieke teologie van James Cone kennis gemaak het. En dit was een van die dinge wat ’n baie groot invloed op sy lewe, denke en sienings gehad het.

Ná sy terugkeer na Suid-Afrika is hy na die gemeente Bellville-Suid.

Allan Boesak het ’n al meer leidende rol teen apartheid begin speel en daar het erkenning vir sy rol gekom. Toe ABRESCA (The Alliance of Black Reformed Christians in South Africa) in 1981 gestig is, het hy ’n belangrike rol gespeel.

In 1982 is Allan by die Ottawa-konferensie van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke tot president verkies, die eerste persoon uit die Derde Wêreld wat tot hierdie pos verkies is. Op die konferensie is die lidmaatskap van die NG en Hervormde Kerk opgeskort as gevolg van hulle ondersteuning van apartheid. Boesak het hierdie pos tot 1991 beklee.

In 1983 is Allan Boesak as moderator van die Sinode van die NG Sendingkerk verkies. Dit was gedurende die Sinode dat die eerste konsep van die Belydenis van Belhar, wat later so belangrik in die NG Kerk-familie sou word, aanvaar is. Allan Boesak het ook ‘n aandeel gehad in die vereniging tussen die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika.

In 1985 het Boesak saam met Beyers Naudé en Winnie Mandela, die Robert F Kennedy Menseregte-toekenning ontvang. Hierdie toekenning word jaarliks deur die Robert F Kennedy Center for Justice and Human Rights toegeken aan ’n individu of groep wie se dapper aktivisme sentraal staan in ’n menseregtebeweging en wat opgetree het volgens die gees van Robert F Kennedy se visie en nalatenskap.

Daarna was Allan Boesak dikwels op die voorblaaie van die pers. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1976 was hy vurig in sy eerste politieke toespraak op die UWK-kampus. Hy was ‘n uitgesproke kritikus van die Nasionale Party se beleid en het ’n belangrike rol gespeel as ’n anti-apartheid-aktivis en as stigter en later beskermheer van die UDF (United Democratic Front) van 1983 tot 1991. In 1991 is Boesak verkies tot voorsitter van die ANC in die Wes-Kaap.

Hy was in 1985 in die nuus as gevolg van sy verhouding met Di Scott, ’n kollega wat vir die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gewerk het. Hy was ook in 1985 aan die voorpunt van ’n optog na Pollsmoor-gevangenis om die vrylating van Nelson Mandela te eis.

In 1990 het Allan Boesak uit die NG Kerk bedank nadat besonderhede van ’n buite-egtelike verhouding met Elna Botha, ’n joernalis en televisie-aanbieder, aan die lig gekom het. Hulle het ontmoet toe Elna vir Allan gebel het om te reël vir ’n onderhoud vir die destydse program Agenda vir die SAUK se Afrikaanse diens. Hy was aanvanklik nie baie geneë om met haar te praat nie, aangesien hy die SAUK as ’n spreekbuis van die destydse regering gesien het. Haar antwoord op daardie aantyging was: "Jy het nie die reg om my te veroordeel voordat jy my nie ’n kans gegee het nie. Hoekom stel jy my gelyk aan die SAUK?" En dit was een van die dinge wat hom getrek het: haar sterk karakter en haar skerpheid. Hy het aan Fanie Heyns van Lig (November 2005) vertel: "Ek het gehou van haar reguit manier van vrae vra, die intelligensie daaragter. Ek was al met daardie eerste onderhoud ’n dead duck. Ek het daardie dag reeds besef hierdie vrou gaan my lewe ingrypend verander." Hy en Dorothy is geskei en hy en Elna is op 23 Februarie 1990 getroud. Hulle het twee dogters.

Die Wet op Gemengde Huwelike het nooit ter sprake gekom in die twee se verhouding nie. Hy vertel aan Fanie Heyns: "Ons het mekaar van die begin af liefgehad. Dit was die allergrootste oorweging. Wit of bruin was geen oorweging nie. Dis buitestanders wat iets daarvan gemaak het. Mense het dit gewaag om met modderpote op ons huwelik te trap. So asof dit hulle reg was. Dit was vir die wêreld ’n groter kwessie as vir ons."

In Insig van Desember 2001 het Allan erken dat hy, by nadenke, besef hy moes nie in 1990 die bediening verlaat het om tot die politiek toe te tree sonder om God in die saak te ken nie. "Dit was ’n gevolg van my eiewilligheid, my begeerte om my lewe in eie hande te neem. Dit het vir my duidelik geword dat ek my lewe vorentoe nie vir die politiek moet gee nie, maar eerder vir die kerk. Daar is te veel goed in die politiek wat van jou ’n ander soort mens maak.

"As jy met jou een voet in die politiek staan, kan jy maar vergeet van ’n eerlike preek van die kansel af. In die politiek sê hulle gou vir jou jy kan nie so maak of sus sê nie, want jou hoogste lojaliteit lê by die party. Vir my as teoloog lê my hoogste lojaliteit by God en Sy Woord. Daardie botsing van lojaliteite kan ’n mens werklik verander en van jou ’n ander soort mens maak."

Na die eerste demokratiese verkiesing was Allan Boesak bestem vir groter dinge. Daar was ‘n moontlikheid dat hy Suid-Afrika se ambassadeur na die Verenigde Nasies in Genève in Switserland sou word. Twee weke voordat hy sou vertrek, is daar ’n korrupsie-en-bedrog-ondersoek teen hom begin. Hy is daarvan aangekla dat hy skenkings vanaf Skandinawië vir die opheffing van die armes in Suid-Afrika sou onderskep het. ’n Deense organisasie, Dan Church Aid, het die ondersoek na die fondse wat hulle aan Boesak se Foundation for Peace and Justice in 1985 geskenk het, begin. Later was daar ook vrae oor geld wat deur Coca-Cola en Paul Simon, die sanger, geskenk is.

Boesak is op 32 klagtes hof toe. Uiteindelik is hy net op twee klagtes skuldig bevind en in 1999 tot drie jaar gevangenisstraf gevonnis. Ná ’n jaar in die tronk is hy in 2001 op parool vrygelaat. Hy het in 2005 presidensiële kwytskelding van die destydse president Thabo Mbeki ontvang.

Oor hierdie kwytskelding was veral predikante van die Verenigende Gereformeerde Kerk baie bly: 60 leraars (een van die AGS, een van die Congregational Church en 58 van die VGK) het hulle sedert 2000 daarvoor beywer. Dit het beteken dat sy misdaadrekord skoongevee is.

Dit was vir Allan aanvanklik moeilik om weer terug te wees in die samelewing, want daar was verwydering tussen hom en die ANC, hoewel hy dit nooit oorweeg het om in opposisie te staan teenoor die ANC nie, het hy aan Hanlie Retief in Rapport van 31 Maart 2002 vertel.

Voor Boesak se digbundel, ... tot sterwens toe, gepubliseer is, was hy al in die nuus. Die voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging op daardie tydstip, Elias Nel, het Boesak genooi as gasspreker by die vereniging se jaarvergadering in September 2001. Hy is gevra om met die vergadering te kom praat oor "Die rol van die Afrikaanse skrywer in post-apartheid-Suid-Afrika". Dit het ’n hewige reaksie onder van die lede van die vereniging ontlok. Die skrywers was van mening dat Boesak hom nog nie as ’n "literêre skrywer" bewys het nie en gaan praat "oor ’n onderwerp waarvan hy niks weet nie", aldus ’n berig deur Heindrich Wyngaard in Die Burger van 30 Augustus 2001.

In ’n brief op LitNet het Rachelle Greeff geskryf: "Boesak steel as ’t ware die woorde uit die mond van ’n indrukwekkende lys Afrikaanse skrywers wat hul walging aan apartheid skeppend verwoord het. Boonop het Boesak kos gesteel uit die mond van die hongerste van ons kinders, en steeds wag ’n mens op ’n enkele woord of teken van jammer."

Elias Nel se reaksie was as volg: "Boesak het steeds ’n groot aanhang in veral eie gemeenskap en omdat ons in die laaste tyd sukkel om 'die eie' by byeenkomste te kry, het ons gereken dat sy optrede net die nodige vonk sou verskaf. Boesak is ook Afrikaans en hy het reeds in die struggle-jare sy intense belangstelling in die letterkunde gemeld." Oor die beswaar dat Boesak nog nie berou getoon het nie, het Nel gesê: "Die taak van die ASV is nie die uitpers van ’n skulderkenning nie. Daar is talle lede van die ASV wat nog nie hul aandeel in apartheid bely het nie; tog verwerp ons hulle nie."

Abraham H de Vries bestempel die uitnodiging aan Boesak as 'n "oordeelsfout". Die ASV se geld moenie, volgens De Vries, gebruik word om iemand te betaal “om te praat oor 'n onderwerp waarvan hy niks weet nie”.

Kirby van der Merwe, skrywer en ASV-bestuurslid, het gesê Allan Boesak se optrede "sal ’n scoop wees vir Afrikaans" (Heindrich Wyngaard se berig in Die Burger).

In Rapport (9 September 2001) het Johanna van Eeden berig dat die feit dat Boesak nie ’n "kreatiewe skrywer" is nie, vir gevestigde skrywers klaarblyklik ’n "teer punt" is. Joan Hambidge het gemeen "dis dalk goeie bemarking om positiewe uitsprake te maak soos dat sy gedigte getuig van bedrewenheid, maar dit is helaas nog nie deur die tyd of letterkundige oordeel getoets nie".

Hierop was Elias Nel se reaksie dat een van die Skrywersvereniging se doeleindes is om ook ’n "tuiste vir opkomende skrywers" te wees. "Die bestuur het daarom gedink dit sal goed wees om Boesak te betrek, sodat iemand wat nou net die literêre wêreld betree het, vir ons ’n oorsig kan gee oor die rol wat hy dink skrywers in ’n post-apartheid Suid-Afrika behoort te speel. Natuurlik erken en eer ons die bydrae van gevestigde en bekroonde skrywers, maar ’n mens moenie afstomp nie. En dis wat my die meeste grief. Dis mense wat altyd geveg het teen sensuur wat nou sensuur op Boesak wil toepas."

Boesak het as volg teenoor Kirby van der Merwe gereageer oor hierdie reaksie op sy uitnodiging: "Wel, ek het my opinie gegee in die toespraak wat ek die aand gehou het, en ek staan daarby. Ek het tot daar gegaan in die hoop dat ek die beswaardes daar sal kry, want ek is nie gewoond dat iemand my klap en dan weghardloop nie. Ek is daaraan gewoond dat as iemand iets vir my te sê het, dan kom staan hy voor my en praat met my. Maat kennelik het hulle nie kans gesien daarvoor nie, of die moed gehad nie, maar dit is oukei. Dit is nou verby. Ek het ook die idee dat die breë publiek daar buite sien wat hier aangaan. Ek wil net sê dat dit tog opvallend is, en verskriklik jammer is dat hierdie dinge ’n duidelike rassekleur het. Dit is die wit skrywers wat kwaad geraak het en wat voel ek betree hulle terrein.

"Oor my digbundel net dit: Wat my opval, is dat sommige mense voordat hulle die digbundel onder oë gehad het, al ’n oordeel daaroor gevel het. Dít vind ek baie interessant, want dit beteken dat dit met ’n wetenskaplike beoordeling niks te make het nie. Dit het met ’n literêre beoordeling niks te make nie. Dit het met objektiwiteit niks te make nie. Dit het met letterkunde niks te make nie. Dit het met ander goed te make. En daai ander goed is almal polities of met ras verbonde.”

In 2001 het ’n bundel gedigte, ... tot sterwens toe: liefdesgedigte en agter tralies, verskyn. Dit bevat gedigte wat Allan tydens sy tronkverblyf geskryf het. Oor hierdie bundel en sy "toetrede tot die skrywersgeledere" gesels Kirby van der Merwe met hom in Boekewêreld van 7 November 2001.

"Ek is oor hierdie boek so opgewonde soos ’n kind. En ’n bietjie meer. Ek kyk hierna, en ek kan nog nie glo dat dit daar is nie."

Hy het nooit die gedigte geskryf met die idee dat dit gepubliseer moet word nie. "Want ek het nie gedink die goed was goed genoeg om gepubliseer te word nie. Ten tweede omdat dit bloot liefdesgedigte van ’n man vir sy vrou is. Private dingetjies wat ek vir haar geskryf het. Oor my liefde vir haar, want dit was die skryf van die gedigte wat my in dié tyd staande gehou het.

"Of laat ek dit so stel: Ek het baie dinge in die tronk verwag, en ek was voorbereid daarop. So het ek gedink. Maar waarop ek duidelik nie voorbereid was nie, was die impak van die fisieke skeiding van my vrou. Dít was vir my die ergste van die gevangenis dat ek nie by my vrou nie kan wees nie, met haar nie kan praat nie, haar nie kan aanraak nie, haar stem nie kan hoor nie. Dan skryf ek maar hierdie goed omdat ek weet hoe sy oor my voel en hoeveel dit vir haar beteken."

Oor hoe die publikasie gebeur het, vertel Allan verder aan Kirby van der Merwe: "Toe Elna sien dat die ding my begin vang – toe ek besef dat ek nie gou uit die tronk vrygelaat gaan word nie – kom sê sy vir my sy en ons vriend Dawie du Toit het na die gedigte gekyk en hy sê die gedigte moet aan ’n uitgewer voorgelê word. En kort daarna laat weet sy my die uitgewer en keurders is opgewonde oor die verse. En hier is dit nou.

"Dit gaan ook oor hoop en oor wanhoop en hoe die liefde jou klein maak. Selfs ook hoe die liefde en medelye van mense, veral die armes wat ek sou te nagekom het, ’n mens klein maak. Dit is seker maar soos die ou oompie gebid het: 'Ag, Here, U het ons klein gemaak.' En ek dink dit is wat hy bedoel. U het ons klein gemaak.'

"Dit is ’n humbling experience, dat mense steeds omgee. En dit is juis die mededoë wat die Here vir ons het, wat my nie net klein maak nie, maar aan die ander kant ook trots regop kan laat staan. 'n Mens hoef nie te gaan lê nie en jy hoef nie te kruip nie, en jy hoef nie bang te wees nie. En dít maak die grootste verskil, sou ek sê – jou persoonlike ontmoeting met God.”

Van der Merwe wou weet hoe hy sal reageer as daar mens is wat vra: "Hoe kan Allan Boesak van alle mense oor geloof praat?"

"Presies. Wel, daar is twee goed daar. Ten eerste: Hulle weet nie wat dit is om God in jou lewe te hê nie. Jy weet, sommige mense sien jy het niks. En hulle sien jy is tot die grond toe afgebreek. En tog kan jy lag, en tog kan jy bly hoop. En omdat hulle dit nie kan verstaan nie, en omdat hulle self nie woorde daarvoor het nie, spot hulle daarmee. Dis die een ding. Die tweede is gewoon arrogante mense wat hulle die reg toe-eien om wel oor geloof te mag praat, maar jy, om die een of ander rede, mag nie oor jou geloof praat nie."

Oor ... tot sterwens toe skryf Joan Hambidge (Die Burger, 12 November 2001): "Soms, ja soms, land ’n bundel op jou lessenaar waarvan jy weet: hier het ek al die voorbeeldmateriaal vir studente oor hoe om dit nie te doen nie. En vir ’n kursus in die literatuurwetenskap: hoe om nie te lees nie.

"Ouer literatore het gewaarsku teen die 'intentional' en 'affective fallacy' in die leesproses. Moenie luister na die bedoeling van die skrywer nie; en die effek van die vers moet ook nie jou oordeel beïnvloed nie. Nou word hieroor gesmaal as 'outyds'; maar met gevalle soos Allan Boesak is dit waarskynlik raadsaam om na die teks en net die teks te kyk. (...)

"Om Human & Rousseau te vra waarom hierdie bundel gepubliseer is, sal nie deug nie. Papier is geduldig. En ja, waarskynlik weet meneer-die-uitgewer-meneer-die-sakeman dat hierdie bundel sal verkoop.

"'Love is blind; the neighbours ain't' is die refrein wat deur die kop draai wanneer ’n mens hierdie bundel lees. Wat in die laai moes bly, word nou opgekalfater as gedigte. Net jammer die kritikus is nie ook blind nie. WH Auden het mos gewaarsku dat die kritikus nie anders kan as om af te keur wanneer ’n reddelose vrot bundel voor jou beland nie. Maar dié leser hou haar in. 'n Mens probeer dit net as gedigte benader, maar dit werk nie as gedigte nie. Ook die foto's wat geplaas word, aktiveer die buite-teks in Derrida se terme. 'n Mens kan nie die gedigte net as 'gedigte' lees nie.

"Sontag se On Photography en Barthes se Camera Lucida word gebruik om die foto's te dekodeer. Die lesende Boesak met die Bybel voor hom; ’n omhelsing van die geliefde wat later in die verse die afwesige (en aanwesige) geliefde word; wandeling langs die see (simbool van die onbewuste?); en ’n SOEN van hartstog ... Woord en woord; woord en wederwoord; koord en akkoord? Wat gebeur hier? Hoe kom dit dat hierdie gedigte gepubliseer word, maar jong talent word weggewys? (...) Wat die persoonlike geskiedenis of veronregting ook al kan behels, dit is en bly swak gedigte."

In die koerante was daar ná die verskyning van die bundel ook heelwat briewe in die pers, onder andere van die redakteur by Human & Rousseau wat die bundel uitgegee het, Etienne Bloemhof.

HJ Pieterse se resensie van ... tot sterwens toe in Beeld van 19 November 2001 was in die vorm van ’n gedig wat só geëindig het:

... Daar is natuurlik iets om uit dié "bundel" te leer:
Helen Steiner Rice is as Allan geïnkarneer!

Ook het die boek darem nog iets om die lyf:
dis 'n handleiding oor hoe om nié die poësie te bedryf.

Die uitgewers sit nou protesterend met gesigte vol eier
na dese sal hul géén poëtaster-poging weer kan weier!

Vir opportunisme kry H&R die IgNobelprys,
ook as laagtepunt (vergeef, o Koekie) is die boek op die Ziervogel-kortlys.

Dus: ... tot sterwens toe, ja, tot sterwens van die lag
en irritasie oor die verkragting van ’n eens "sublieme ambag".

In sy resensie van ... tot sterwens toe het Bernard Odendaal in Volksblad van 5 November 2001 Riana Scheepers se digbundel Met die taal van karmosyn terselfdertyd bespreek. Oor Boesak se bundel het hy geskryf dat "die intense liefdesverering en -verlange ontroerende momente in gedigte soos 'Ek mis jou', 'Woorde' en 'Trouteks' bereik. Bowendien verkry dié liefde ’n veelkantigheid deurdat dit gesien word as bemiddelend oor rassegrense en religieuse vertwyfelinge heen. Gedigte soos 'Saam', 'Gebed', 'Vyfuur', '17 Mei' en 'Trouteks' is goeie voorbeelde hiervan.

"Ongelukkig verlei die onmiddellikheid van die felle belewenisse Boesak dikwels tot woordryke en oordrewe belydenisse, sodat die emosionaliteit in sentimentaliteit verval. Te veel van die gedigte gaan boonop mank aan prosa-agtigheid en swak woordkeuses of beelding. ’n Voorbeeld is juis 'Trouteks'. Hoewel die gedig in die geheel meevoerend is, word dit bederf deur die troebel beeld in die reël 'gebore uit die blinkvet bos se silwer mis'. En ’n gedig soos 'Ode aan Elna op Valentynsdag' is gewoon skokkend swak."

Odendaal het daarop gewys dat die digterlike gehalte van die bundels beslis nie die rede was vir die bundels se publikasie nie.

"Dit is oorwegings wat kommersiële sin maak. Uit ’n literêre oogpunt kom dit sinies voor, omdat heelwat beter debute die afgelope jare elders as by die gevestigde uitgewers ’n heenkome moes soek. Ek glo gehalteprodukte is op die lang duur die volhoubaarste sakepraktyk, ook vir die literêre bedryf. As die strewe prysgegee word om die menslike belewinge uniek-treffend en essensie-openbarend in poësie onder woorde te bring, raak die digkuns dan nie vervangbaar en dus oorbodig nie?"

Hein Willemse het in Rapport (18 November 2001) geskryf: "Daar is ’n ou opvatting dat elke teks sy eie leeskode suggereer. In die geval van ... tot sterwens toe word die kode vervat in die naasliggendheid van hierdie foto's en die verse. Met die fotobeelde, saamgelees met die voorbladfoto van ’n laggende Boesak met sy vrou op die agtergrond, word dié bundel wesenlik as dokumentêre verslaggewing gesinjaleer.

"As sigself is die strategie nie onbekend nie. In Oos, wes, Distrik Ses het Adam Small en Chris Jansen dit al gebruik. Die noue skakeling tussen vers en foto hef die fiktiewe ek-spreker van die poësie-teorie op ten gunste van 'n historiese ek. Só gelees, bied Boesak hom nie bloot as digter aan nie, maar ook as die ervarende ek van sy gedigte. Die verse sweef bewustelik nie los van hul ontstaangeskiedenis nie en word trouens dagboekinskrywings van die digter se jaar lange tronkverblyf.

"Teen hierdie agtergrond word die belewenisse en versugtinge van Boesak, die vlees-en-bloed- historiese figuur, vooropgestel met mindere fokus op die komposisie van die verse. (...)

"Vir die strenge leser van die poësie is dit duidelik dat van die verse soms onaf aandoen. So is daar die hebbelikheid van die digter om in sy slotte dikwels ’n moraliserende opsomminkie in te voer of sy gedigte te skoei op die versifikasiemodelle van die ouer Afrikaanse poësie of die oordaad van futlose voegwoorde. Maar die skuld vir dié leemtes en krapperighede moet op die uitgewer, sy redakteur en hul keurders gepak word. Vyf maande is nie genoeg as ’n rypmaaktyd nie.

"Gedagtig aan die leeskode wat die bundel suggereer, bied ... tot sterwens toe as dokument van ’n tronkverblyf en ’n liefdesverhouding intieme eerstehandse perspektiewe op die wel en wee van ’n bekende Suid-Afrikaanse persoonlikheid."

In Sarie van 23 Januarie 2002 skryf Zandra Bezuidenhout dat mense wat die bundel om ander redes as literêre redes sal lees, die verse interessant en sommige selfs ontroerend sal vind. Die man wat die verse geskryf het, is ’n omstrede figuur wat uit die tronk uit praat met die gedigte en wat ’n poging aanwend om die pyn wat met gevangenskap  gepaardgaan, te probeer uitdruk.

Bezuidenhout gaan voort: "Ongelukkig word die poëtiese ideaal nie verwesenlik nie – ondanks die ruim moontlikhede vir die omdigting van afsondering, twyfel en liefdesverlange, pleeg Boesak te veel digterlike doodsondes (...). Tog val daar hier en daar ’n mooi segging op, of ’n eerlike en gevoelvolle belydenis. Daar is baie soorte gedigte en digters. Dis goed om iets van alles te lees as inoefening om te sien waar dinge poëties skeefloop – en dit nogtans te geniet, of tot sterwens toe op die tande te byt!"

Oor die besluit van Human & Rousseau om ... tot sterwens toe uit te gee, het Kerneels Breytenbach op vrae van Rapport (18 November 2001) gereageer. Oor hoekom die swakste gedigte nie weggelaat is en meer aan die ander geskaaf is nie, het hy gesê: "Allan Boesak sê self hy het geen pretensies om ’n groot digter te wees nie. Dit is gedigte wat geskryf is van ’n man aan sy vrou, in spesifieke omstandighede. Die digter is, om dit mild te stel, ’n baie spesifieke figuur in ons samelewing. Dit is ook hoe ons die bundel gesien het: ’n outobiografiese bundel wat sou spreek tot almal wat ’n belangstelling in Allan Boesak het. Dit gaan om die mens, en die medium waardeur hy sy gewaarwordinge oordra, is toevallig poësie. Om die gedigte te onderwerp aan ’n lang skaafproses, sou hulle hul onmiddellikheid en spontane vorm laat verloor het. H&R het die bundel nie benader as ’n poging om die Afrikaanse letterkunde te dien en te verruim nie. Ons wou eerder die gedeelte van die publiek wat digkuns koop, verruim en ’n ander sy van Boesak ophou as die een waarmee almal hom assosieer."

Rapport wou ook weet of uitgewers op ander maniere te werk gaan om digbundels van prominente persone te bemark as digbundels van erkende digters. Breytenbach se antwoord: "Die bemarkingstrategieë verskil uiteraard. As jy ’n bundel van Steve Hofmeyr of Allan Boesak vir handelaars aanbied, lig jy hulle deeglik in dat die bundels nie gesien moet word binne die raamwerk van swaartillende poësie nie en dat dit eerder gaan oor die persoonlikheid, dat die kopers waarskynlik bewonderaars of volgelinge van die digters sal wees.

"Ons gesels uit die aard van die saak met die digters oor die moontlike ontvangs van hul bundels deur die kritici. Die resensies wat Allan Boesak se bundel gekry het, is alles in ag genome mak in vergelyking met die behandeling wat hy al ontvang het voordat hy die bundel gepubliseer het. Maar dít is ’n verhaal wat hy hopelik ook eendag sal vertel. Wat die resensente betref: wie is ons om hulle te probeer leer wat die verskil is tussen ... tot sterwens toe en Kleur kom nooit alleen nie? Hulle is almal wyd belese mense en het sekerlik die inligtingstuk gelees wat saam met die bundel aan hulle gestuur is."

In November 2004 is Allan Boesak in sy amp as predikant herstel in die Rynse Kerk op Stellenbosch. In Desember van dieselfde jaar het die VGK se gemeente op Piketberg besluit om hom te beroep. Hierdie gemeente was die eerste VGK-gemeente waar hy gepreek nadat hy skuldig bevind is aan bedrog en diefstal. In Mei 2005 het Boesak in die NG Studentekerk op Stellenbosch die dienste vir die Pinksterweek behartig. Hy het aan Ziegfried Ekron (Volksblad, 10 Mei 2005) vertel dat dit die eerste keer was, behalwe met sy skoonpa se begrafnis, dat ’n NG gemeente hom gevra het om daar te preek. "Dit is vir my regtig ’n groot dag."

In September 2006 het Boesak, terwyl hy assessor van die VGK was, nog ’n mylpaal bereik toe hy in die NG Kerk se Klipkerk in Bloemfontein gepreek het. Dit was die eerste maal dat hy in ’n NG kerk in die Vrystaat gepreek het.

Met die afsterwe van Adelaide Tambo, die weduwee van Oliver Tambo, in Februarie 2007 is Allan Boesak aanvanklik deur die aartsbiskop van Kaapstad, Njongonkulu Ndungane, gevra om die begrafnisdiens in die St George-katedraal in Kaapstad te lei. Maar hy was skaars gevra of die aartsbiskop het hom gebel om te vra of hy sal terugstaan nadat sekere ANC-lede druk op die personeel van die katedraal geplaas het.

Boesak is in September 2006 weer as moderator van die VGK se algemene sinode verkies. Vir hom was hierdie verkiesing iets besonders – hy het dit gesien as die "terugverwelkoming van ’n seun van die kerk," het Neels Jackson in Volksblad (27 September 2006) berig. Twee jaar later het hy aangekondig dat hy hom nie weer beskikbaar sou stel vir enige posisie op die moderatuur van die VGK se algemene sinode nie.

In 2005 publiseer African Sun Media Die vlug van Gods verbeelding en in 2006 word dit met die Andrew Murray-prys bekroon. Die boek is maar die tweede teologiese boek in Afrikaans uit Boesak se pen. Dit handel oor ’n aantal Bybelse vroue se belewenisse as randfigure. Die beoordelaars het gesê: "Benewens die feit dat die leser opgeroep word om opnuut oor die posisie van die vrou in die hedendaagse samelewing te besin, is die tema van die boek van kardinale belang."

Gerrit Brand, een van die beoordelaars, het só oor die boek gepraat: "Dit is leesbare, meesleurende heropname van die bevrydingsteologie, krities en vernuwend toegepas op die huidige situasie in Suid-Afrika. Dit gee dié teologiese tradisie nuwe lewenskrag en verryk ook so die taal. Dit is ’n boek met teologiese diepgang, maar toeganklik genoeg om deur nieteoloë as geestelike verryking gelees te word, en vir gebruik deur Bybelstudie- en gespreksgroepe. Dit is bo alles ’n boek wat daardie broodnodige blik op die samelewing wat so deel is van die Christelike tradisie, in die kerk help staande hou."

Boesak se reaksie op die prys: "Die toekenning van die Andrew Murray-prys aan ’n bevrydingsteoloog is vir sommige mense ironies, maar vir my dui dit op die manier hoe God se verbeelding werk. Só word die twee strome in die kerk op ’n versoenende manier bymekaar gebring. Die prys is ’n nuwe uitdaging vir my en ander Christene in die kerk om bo die ou geskiedenis uit te styg en ’n nuwe geskiedenis te skryf om ons eie verstokte verbeelding hok te slaan en oor te gee aan die vlug van God se verbeelding. As Christene hulle oorgee aan God se verbeelding wag daar ’n wonderlike toekoms op die kerk."

Vanaf 1 Julie 2007 is Allan Boesak vir ’n driejaartermyn aangestel as buitengewone professor in sistematiese teologie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is nie vroeër toegelaat om aan die US te studeer nie en daarom "is dit nou simbolies baie belangrik vir my om by die fakulteit te wees, omdat die sirkel nou voltooi word".

Elna Mouton, dekaan van die teologiese fakulteit, het as volg oor Boesak se aanstelling gepraat: "Die aanstelling gee erkenning aan sy dinamiese en kreatiewe rol as publieke teoloog en kerkleier – plaaslik sowel as internasionaal. Tog wil dit ook ’n opregte gebaar van versoening en heling wees. Ons sien uit na sy betrokkenheid by die fakulteit."

In Junie 2013 is aangekondig dat Allan Boesak ’n pos in Amerika gaan beklee: Butler-universiteit en die Christian Theological Seminary (CTS) in Indianapolis, Indiana, het as buurinstellings aangekondig dat Boesak vir die volgende vier jaar in hul gesamentlike Desmond Tutu-leerstoel vir vrede-, globale-geregtigheid- en versoeningstudies aangestel sal word. Die leerstoel is met emeritus aartsbiskop Desmond Tutu se seën geskep.

Die universiteit het in ’n verklaring gesê die titel erken Boesak se aktivisme teen apartheid in die 1980’s in Suid-Afrika, toe hy nóú met Tutu en Nelson Mandela saamgewerk het.

Boesak is verheug oor sy aanstelling, het hy volgens die universiteit gesê. “My onderrig-ervaring by Butler en die CTS vanjaar was wonderlik. Ek is opgewonde oor die kans om die globale impak van Desmond Tutu se waardes en denke met studente, kollegas en die breër Indiana-gemeenskap te verken.”

Elna Boesak sal in Amerika voortgaan met haar werk as joernalis, vervaardiger, openbare-forum-fasiliteerder en dosent in media-etiek en kommunikasiestudies.

Allan Boesak het in sy lang loopbaan verskeie eerbewyse ontvang. Hy het agt eredoktorsgrade van oorsese universiteite ontvang en in Suid-Afrika het die Xhosa-koningshuis in 2002 sy hoogste eer aan Boesak toegeken: hy is eenparig deur die Xhosa koninklike raad gekies om die Koning Hintsa-toekenning te onvang. Sy reaksie was: "Ek was tegelyk verbaas en verras dat ek op dié wyse vereer is. Dit is ’n spesiale boodskap van menslike verbintenisse oor kulturele, etniese en taalgrense heen."

In 2004 het die Wes-Kaapse regering die Orde van die Disa aan Allan Boesak toegeken.

Publikasies:

Publikasie

Farewell to innocence: a socio-ethical study on black theology and black power

Publikasiedatum

1976

ISBN

0883441306 (hb)

Uitgewers

Maryknoll: Orbis Books

Literêre vorm

Teologie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Coming in out of the wilderness

Publikasiedatum

1976

ISBN

(hb)

Uitgewers

Maryknoll: Orbis Books

Literêre vorm

Teologie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vinger van God: preke oor die geloof en politiek

Publikasiedatum

1979

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Ravan Press

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The finger of God: sermons on faith and socio-political responsibility

Publikasiedatum

1982

ISBN

0883441357 (hb)

Uitgewers

Maryknoll: Orbis Books

Literêre vorm

  • Preke
  • Politiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Black and reformed: apartheid, liberation, and the Calvinist tradition

Publikasiedatum

1984

ISBN

0883441489 (hb)

Uitgewers

Maryknoll: Orbis Books

Literêre vorm

  • Politiek
  • Teologie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Comfort and Protest: Reflections on the Apocalypse of John of Patmos

Publikasiedatum

1987

ISBN

0664246028 (sb)

Uitgewers

Philadelphia: Westminster Books

Literêre vorm

Teologie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

If this is treason, I am guilty

Publikasiedatum

1987

ISBN

0802802516 (sb)

Uitgewers

Grand Rapids: Eerdmans

Literêre vorm

Politiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Shadows of light: Biblical meditations in a time of trial

Publikasiedatum

1996

ISBN

0627021298 (sb)

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Oordenkings

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Naby jou is die Woord: Bybelse oorwegings in ’n tyd van aanslag

Publikasiedatum

1996

ISBN

0627

Uitgewers

Pretoria: Van Schaik

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

... tot sterwens toe: liefdesgedigte en tralies

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798142073 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die vlug van Gods verbeelding: Bybelverhale van die onderkant

Publikasiedatum

2005

ISBN

1919980504 (sb)

Uitgewers

Stellenbosch: African Sun Media

Literêre vorm

Godsdiens

Pryse toegeken

Andrew Murray-prys 2006

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The fire within: sermons from the edge of exile

Publikasiedatum

2007

ISBN

9781905010387 (sb)

Uitgewers

Glasgow: Wild Goose Publications

Literêre vorm

Preke

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

The tenderness of conscience: African renaissance and the spirituality of politics

Publikasiedatum

2008

ISBN

9781905010516 (sb)

Uitgewers

Glasgow: Wild Goose Publications

Literêre vorm

Politiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Running with horses: reflections of an accidental politician

Publikasiedatum

2009

ISBN

9780980275483 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: JoHo! Publishers

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Radical reconciliation: beyond political pietism and Christian quietism. Saam met SP DeYoung

Publikasiedatum

2012

ISBN

9781570759765 (sb)

Uitgewers

Maryknoll: Orbis Books

Literêre vorm

  • Politiek
  • Godsdiens

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dare we speak of hope: searching for a language of life in faith and politics

Publikasiedatum

2014

ISBN

9780802870810 (sb)

Uitgewers

Grand Rapids: Eerdmans

Literêre vorm

  • Godsdiens
  • Politiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Allan Boesak as redakteur

  • Boesak, AA en C Villa-Vicencio (reds). When Prayer Makes News. Philadelphia: Westminster Press [ISBN 0664240356 (sb)] = A Call for an End to Unjust Rule. Edinburgh: Saint Andrew Press [ISBN 0715205943 (sb)]

’n Keur uit artikels oor Allan Boesak beskikbaar op die internet:

Naskrif

Dit is amper ’n taak van onmoontlikheid om binne die bestek van ’n profiel vir die ATKV-Skrywersalbum ’n volledige beeld te gee van ’n man wat so ’n vol lewe tot dusver gelei het. Daarom is daar in hierdie stuk meer gekonsentreer op die geskrifte wat hy in Afrikaans geskryf het. Ook die lys van artikels wat op die internet beskikbaar is, fokus hoofsaaklik op daardie deel van sy lewe.

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-03-03

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top