Afname in olifantgetalle totaal onderskat

  • 1

Vroeg in Desember 2013 het internasionale media berig dat IUCN (International Union for the Conservation of Nature) dit amptelik gestel het dat een vyfde van Afrika se olifante teen die huidige tempo van stroping binne die volgende tien jaar vernietig kan word.

Dit is ’n gevaarlike onderskatting wat nie die erns van die huidige rampsituasie en die pogings wat aangewend word om dit te probeer keer, weerspieël nie.

As ’n mens kyk na die wydverspreide slagting van olifante vir hul tande oor die afgelope vyf tot tien jaar en die gebrek aan akkurate opnames oor olifantgetalle regdeur Afrika, is dit duidelik hoe moeilik dit is om ramings van verskillende streke se getalle en vooruitskattings van wat gaan gebeur, te maak. Om nie eens te praat van ramings vir die vasteland as geheel nie.

Hoe ook al, daar is wel sekere feitelike inligting, artikels en verslae wat in die afgelope tyd deur kundige wetenskaplikes saamgestel is wat realistiese inligting bied.

Ernstige afnames

In Tanzanië, wat tot kort gelede naas Botswana die tweede grootste getal savanne-olifante gehuisves het, is in Oktober ’n lugsensus van die Selous-ekostelsel uitgevoer en die bevindings is daarna by die 9de Wetenskaplike Konferensie van die Tanzania Wildlife Research Institute (TAWIRI) wat 4–6 Desember in Arusha gehou is, bekend gemaak.

Die Selous-ekostelsel (31 040 vierkante myl) is Afrika se grootste beskermde gebied en huisves Oos-Afrika se grootste getalle olifante. In die vroeë 1970’s is geraam dat daar meer as 100 000 olifante was, maar na die laaste groot stropingkrisis in die laat 1980’s het die totaal na ongeveer 20 000 gedaal.

Na 1989 se wêreldwye ivoorhandelverbod het getalle herstel tot sowat 55 000 in 2007, waarna die stroping radikaal toegeneem het tot waar dit nou is. Teen 2009 was daar rondom 39 000 olifante oor. Die jongste raming is 13 084. Dit dui op ’n ongehoorde afname van bykans 80 persent oor die laaste ses jaar.

Die wêreld wag in angs op die navorsingresultate van Oos-Afrika se tweede grootste olifantbevolking in Ruaha-Rungwa (13 384 vierkante myl) in Suid-Tanzanië. Groot getalle vars karkasse word konstant ontdek in die Rungwa-wildtuin en dele van Ruaha Nasionale Park.

Die prentjie lyk waarskynlik net so aaklig in westelike Tanzanië (Katavi-Rukwa, Ugalla, Moyowosi-Kigosi), waar demografiese ondersoeke in 2009–10 aangedui het dat stroping daar net so erg of erger as in die Selous is.

In Sentraal-Afrika het ’n uitgebreide studie wat data van 80 terreine byeen bring, ’n geraamde afname van 62 persent van die woudolifant vanaf 2002 tot 2011 aangedui. Dié data is nou reeds twee jaar agterstallig.

Suidelike troppe raak al hoe meer kwesbaar

Suider-Afrika het nog nie so kwaai deurgeloop soos die res van die vasteland nie, maar alles dui daarop dat die situasie ’n kruitvat word.

Stroping word baie erg in Mosambiek, en die Nasionale Krugerwildtuin se olifante word dus nou ook blootgestel, omdat dit deel van die Limpopo Nasionale Oorgrenspark is.

In Oktober 2013 het meer as 103 olifante van sianiedvergiftiging in Hwange Nasionale Park in Zimbabwe gevrek.

Omdat Oos- en Sentraal-Afrika se olifante na aan hul einde is, is dit logies dat stropers al hoe verder suid beweeg.

Vanaf 2 tot 4 Desember 2013 het die Internasionale Beraad oor Olifante in Gaborone, Botswana plaasgevind. Wat presies in die land waar olifante van groot belang is, gebeur, is nie duidelik nie, maar president Khama het in sy verwelkoming met passie en baie meer realisme as die IUCN gepraat: “Africa’s human and natural resources have been pillaged and plundered for generations by people from far off lands. From slavery to archaeological artifacts, minerals, fauna and flora, the continent and its people have for so long been victims of other continents’ selfish interests, and today it is continuing … Our elephant ivory and rhino horn are going to countries where they are used for God knows what! Only to satisfy ridiculous outdated beliefs whilst we remain with carcasses, as proof we once owned these magnificent animals.”

Misleidende getalle

Waarop berus die IUCN se voorspelling?

Dit wil voorkom of dit gebaseer is op ’n samestelling van ontledings van karkasdata van CITES se Monitoring the Illegal Killing of Elephants (MIKE) program en getalle-ramings regoor Afrika soos voorgelê deur IUCN se African Elephant Specialist Group (AfESG) in die African Elephant Database (AED).

Hoewel MIKE se databasis fokus op stroping by 42 plekke regoor die kontinent, is moniterings- en verslaggewingsvlakke in die algemeen ontoereikend, met die uitsondering van ’n klein aantal goedgemoniteerde gebiede, soos Laikipia-Samburu in Kenia. Data moet dus omsigtig hanteer word.

Alhoewel AED die ramings van getalle vanaf wetenskaplike opnames saamstel, is die meerderheid daarvan verouderd, veral as ’n mens kyk na die radikale afname in gebiede soos Selous.

Die meeste van die ramings vir Tanzanië is byvoorbeeld van 2009, vir Botswana 2006, Zimbabwe, Gabon en DRK self vroeër as 2006.

In werklikheid kan hierdie databasis nie tred hou met die huidige koers in afname nie.

Gebaseer op die verouderde inligting raam AfESG en IUCN dat daar ongeveer 500 000 Afrika-olifante nog wild rondloop. Waarskynlik is die helfte van daardie syfer nader aan die kol.

Die werklikheid

Die wydverspreide IUCN-verslag is ’n reuse-onderskatting van hoeveel olifante waarskynlik oor die volgende tien jaar afgemaai gaan word “sou die huidige tempo van stroping volgehou word”. Maar dit lei ook mens se aandag af van die onaanvaarbare verlies aan olifante wat alreeds oor die afgelope dekade plaasgevind het.

Deur IUCN/MIKE se voorspellingsmetode te volg, kan daar afgelei word dat, volgens die jongste, betroubare en wetenskaplike ramings, die meeste van die eertydse pragbevolkings olifante 100 persent uitgewis sal word in die volgende vyf jaar.

Onder die plekke wat binnekort sonder olifante kan wees, is daar Zakouma, Chad; Yankari, Nigerië; Virunga, DRK; Caprivi, Namibia; Garamba, DRK; Queen Elizabeth, Uganda; en nou ook Selous-Mikumi, Tanzanië.

In ’n tydperk waartydens vele bedreigde spesies elk skree om hulp en beskerming teen die mens, is ‘n verlies van 20 persent van Afrika se olifante oor die komende dekade ’n relatief mindere krisis.

Die werklikheid is egter baie erger. Die situasie is uiters dreigend, en misleidende stellings van gerespekteerde bewaringsinstansies kan pogings om voorkeur internasionale steun en daadwerklike aksie te kry, in die wiele ry.

Dis moeilik om vas te stel hoeveel olifante oor is en om voorspellings daaroor te waag. Olifantbeskerming is baie meer as net dit. Inderwaarheid is daar reeds soveel plekke waar getalle totaal uitgewis gaan word en daar kan nie meer gewag word om te tel nie. Optrede is nou al wat tel.

Tog is getalle in die moderne bewaringspolitiek uiters belangrik. Daar is onlangs aangekondig dat ’n volledige vlugopname om olifante regoor Afrika te tel, vanjaar gaan plaasvind. Die hoop is dat dit ’n meer konkrete idee sal gee van wat alreeds verlore is en wat nog oor is in Afrika.

Bowenal moet daar verseker word dat inligting aan die publiek net die waarheid bevat.

Trevor Jones en Katarzyna Nowak bestuur die Udzungwa-olifantprojek in Suid-Tanzanië.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Wat my bekommer is dat 'n mens waarskynlik die stropers help as jy die beoogde opname se resultate gaan bekend maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top